Chinees van dieremishandeling aangekla

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - 'n Klag van dieremishandeling is deur die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van Windhoek teen die eienaar van 'n Chinese konstruksiemaatskappy, Orient Dragon Construction (ODC), in Prosperita aanhangig gemaak.

Dít nadat diere in haglike toestande op die perseel gevind is.

Me. Monique Redecker, uitvoerende hoof van Windhoek se DBV, het bevestig sy het gister vyf klagte wat met die dierebeskermingswet verband hou, by die polisie aanhangig gemaak.

Sy het ook bevestig vyf polisielede van Windhoek se stadspolisie was saam met die DBV op die toneel.

Die DBV het gisteroggend 'n oproep van me. Linda Tromp, van Image Signs in Prosperita in die hoofstad, ontvang oor varke wat langs hul besigheid op ODC se perseel op die hoek van Nickel- en Palladiumstraat geslag word.

"Hul werkers het Woensdagaand verby ODC se hek gestap en gesien hoe iemand ’n vark se keel afsny. Die werkers het dit gisteroggend aan Image Print gerapporteer, en deur die hek van ODC is nóg 'n vark gesien waarvan die bene vasgebind was," sê Redecker.

"Toe ons by die perseel aankom, het ons soveel aaklige en uiters onmenslike bewyse gevind: bloed, ander liggaamsdele en hare. Die binnegoed van 'n vark was op die vloer, in 'n bad en in houers," vertel Redecker.

Sy sê die lewende vark se bene was met 'n smal, dun, blou tou vasgebind en die dier was uiters gespanne en getraumatiseer.

Die DBV het ook twee wolfhonde in 'n baie klein spasie tussen skerp metaalvoorwerpe gekry met geen kos of water nie.

"Ons het ook twee ganse en twee skilpaaie in klein hokke gekry met geen kos of water nie. Die ganse se vlerke is met draad vasgebind."

Redecker sê hulle het twee haasvelle gevind en 'n emmer met bloed, liggaamsdele en binnegoed van hase, “en dit het baie sleg geruik met vlieë oral”.

Die DBV het ook 'n gesondheidsinspekteur laat kom.

"Nie net is die diere op ’n onmenslike manier aangehou nie, maar die badkamers en toilette was vuil. Die hele perseel is ’n werks- en gesondheidsgevaar. Die een gesondheidsinspekteur het gesê dit is die ergste wat sy al ooit gesien het," sê Redecker.

Die DBV het al sewe lewende diere by die perseel gekonfiskeer, wat tans skuiling, kos en water by dié organisasie kry.

"Dieremishandeling moet stop en aksie moet geneem word. Dit is onaanvaarbaar. Ons is bekommerd oor wat van ons donkies gaan word as hulle by Chinese abattoirs geslag word, indien die Chinese geen respek vir of deernis met diere het nie?" vra Redecker.

Sy sê die DBV kry weekliks klagtes oor diere wat deur Chinese op 'n onmenslike manier aangehou en behandel word.

"Die regering moet dit oorweeg voor daar oor enige Chinese abattoirs besluit word."”

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer