Chinese aanval op die media
Chinese aanval op die media

Chinese aanval op die media

Dani Booysen
Twee weke gelede het mnr. Yang Jun, adjunkhoof en politieke raadgewer van die Chinese ambassade, die Namibiese media van infame leuens beskuldig.

Die onderwerp was beriggewing oor houtuitvoere na sy vaderland.

Die diplomaat het die seremonie waartydens Meatco ‘n eerste vrag vleis na China versend het as verhoog vir sy aanval gebruik. Hy het ongelukkig nie gesê na watter media hy verwys nie.

Sulke laster teen China sal volgens Yang die Namibiese ekonomie benadeel omdat dit die land se verhouding met China vergiftig.

Geagte mnr. Yang, Republikein het lankal op rekord geplaas dat ons nie al Namibië se probleme op China, of enige ander buitelandse moondheid, kan blameer nie. Ons ondersteun ook nie haat, xenofobie, onverdraagsaamheid en agendas teen enige nasie of groep nie – hetsy binne, van buite of buite ons land.

Namibiërs sal graag u data wil sien oor die “baie klein gedeelte” hout wat na China uitgevoer word.

Dat Chinese nie self bome met kettingsae laat tuimel nie, gee ons u gelyk. Van hulle ondersteun egter die slagting in ons woude met sekondêre bedrywe en is ook op rekord dat hulle boere in die Kavango-streke en Zambezi help ophef. Op soortgelyke maniere word markte vir renosterhoring en ander gestroopte produkte geskep en onderhou.

As koerant deel ons nie mense se veralgemenings in die sosiale media nie. Dit is egter in u belang om die persepsies met syfers en feite te konfronteer.

Tersake kwessies sluit in die behandeling, betaling en opleiding van Namibiese werknemers, China se tenderaandeel, byna monopolistiese beheer in sekere bedrywe en Namibiese skuld aan China.

Lesers hoor graag van u.

So sê ander

9 April 2019

Beeld en Die Burger sê

Dis hoog tyd dat die Suid-Afrikaanse regering die probleem van xenofobie in dié land erken en dit die aandag gee wat dit verdien.

Toe ’n vlaag xenofobiese geweld in 2015 in Soweto uitgebreek is, is dit uit ANC-geledere as “gewone misdaad” afgemaak. Lindiwe Zulu, indertyd die minister van kleinsake-ontwikkeling, het dinge selfs ’n stappie verder gevoer met die verbysterende redenasie dat “buitelanders” hul “sake-geheime” met plaaslike gemeenskappe moet deel om te voorkom dat hulle aangeval word.

Die kilheid van dié reaksie is veral ontstellend as jy in ag neem hoe lank xenofobiese geweld al in die Suid-Afrikaanse samelewing broei. Meer as ’n dekade gelede het die Afrika-Unie in ’n belangrike portuur-oorsigverslag oor Suid-Afrika reeds pertinent gewaarsku dat xenofobie in dié land dringende aandag verg.

Die regering het aanvanklik probeer om die publikasie van die verslag te stuit, maar kort daarna, in 2008, was Suid-Afrika wêreldnuus met ’n vlaag xenofobiese geweld waarin 10 000 immigrante ontwortel is en in kampe oor die land heen gehuisves moes word.

Indien die regering indertyd behoorlike aandag aan die saak gegee het, kon Suid-Afrika al veel verder op die weg gewees het om xenofobiese geweld hok te slaan.

Ramaphosa en Sisulu se bereidwilligheid om die probleem by die naam te noem, verteenwoordig hopelik nou ’n keerpunt in die stryd teen dié verwerplike verskynsel.

• BEELD/DIE BURGER/NETWERK24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!