Chinese ekonomie trap effens rem in 2017
China het sy groeiteiken vir 2017 verlaag terwyl hy pynlike hervormings deurvoer om skuldvlakke en finansiële risiko te demp.
Die wêreld se tweede grootste ekonomie, China, voorsien vanjaar 'n groeikoers van “6,5% of hoër, indien moontlik” volgens die premier, Li Keqiang, wat Sondag 'n verslag oor ekonomiese vooruitsigte op die amptelike parlementsopening bekend gestel het.
Verlede jaar het China sy groeiteiken op tussen 6,5% en 7% gestel en uiteindelik 'n groeikoers van 6,7% bereik. Dit is egter ondersteun deur reuse-banklenings, 'n spekulatiewe eiendomsborrel en miljarde yuan wat deur die regering in die ekonomie ingepomp is.
Li se groeikoers vir vanjaar van 6,5% stem ooreen met die konsensus wat ekonome in 'n Bloomberg-peiling voorspel het.
Ekonomiese en maatskaplike stabiliteit is sleutelprioriteite vir die Chinese regering vanjaar. Die gereelde vierjaarlikse skommeling van top regeringsamptenare in China vind later vanjaar plaas.
Topleiers werk nou hard om die ekonomiese groei wat laasjaar gestabiliseer het, te probeer behou maar ook terselfdertyd 'n meer neutrale ekonomiese beleid te volg om die finansiële risiko's van buitensporige lenings te bekamp.
“China het sy ekonomiese groeiteikens oor 'n breë front verlaag,” het Zhou Hao, 'n ekonoom by Commerzbank AG in Singapoer aan Bloomberg gesê.
“China se beleid het verander na een van risikobeheer en om die borrels te probeer afblaas. Dit beteken die monetêre beleid sal geleidelik strenger raak.”
Te midde van hierdie streng maatreëls om die huismark af te koel en die lenings te verlaag, sal die land al meer op binnelandse verbruik en private beleggings staatmaak om groei te bevorder. Soos in 2016 het die land nie 'n teiken vir sy uitvoer gestel nie – dié stap weerspieël hoe onseker die vooruitsigte vir die wêreldekonomie is.
“Die ontwikkeling binne en buite China vereis dat ons gereed moet wees om 'n ingewikkelder en ernstiger situasie te hanteer,” het Li Sondag in sy toespraak gesê en bygevoeg dat die wêreldekonomie steeds traag is om te groei, terwyl proteksionisme toeneem en globalisering (wat China bevoordeel het) begin stoom verloor.
Tertia Jacobs, 'n ekonoom by Investec, het vroeër gesê die Suid-Afrikaanse ekonomie sal vanjaar veel meer beïnvloed word deur wat in China gebeur as in die VSA.
“Ons het beslis sterk handelsverhoudinge met die VSA, maar die gebeure in China het 'n baie meer regstreekse impak op veral markte soos hulpbronne wat 'n groot deel van ons inkomste genereer.”
Op sy beurt wys Johann Els, senior ekonoom van Old Mutual Investment Group daarop dat hoewel die internasionale ekonomiese groei steeds stadig is, het dit darem sedert 2015 die pas begin versnel en onlangse syfers lyk bemoedigend.
“Ons sien beter en meer gesinchroniseerde groei wêreldwyd wat gelei word deur die VSA, Japan, China en ander ontluikende lande.”
– Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie