Chinese se aansoek om borgtog duur voort
Chinese se aansoek om borgtog duur voort

Chinese se aansoek om borgtog duur voort

'n Namibiese burger en bekende sakeman was gister in die ­getuiebank.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw



'n Walvisbaaise sakeman, mnr. Laurentius Julius (47), het gister voor landdros Alweendo Venatius ter ondersteuning van sy borgtogaansoek getuig en aangevoer hy het geen benul hoekom hy deel van dié omvangryke be­drogsaak is nie.

Hy word saam met drie Chinese burgers, mnre. Tao Huizhong, Jinrong Huang en Zhu Honggang, van bedrog en geldwassery be­skuldig. Die staat beweer dat dié mans die ministerie van finansies tussen die begin van 2010 tot 19 Desember verlede jaar bedrieg het met die betaling van doeane­heffings. Die heffings beloop na bewering N$3,5 miljard in werklike en potensiële verliese deur die ministerie gely.

Zhu is reeds op 22 Desember op borgtog van N$50 000 in die Ondangwa-landdroshof vrygelaat. Die oorblywende drie be­skuldigdes se borgtogaansoek word vandag in die Windhoek-landdroshof voortgesit.

Jinrong, wat beweer dat hy as motorbestuurder vir die maatskappy Golden Star in Namibië werk, se getuienis het aan die lig gebring dat hy eintlik die maatskappy bestuur terwyl sy werkgewer, ene Cai Fengping, in China is. Uit dokumente voor die hof het dit geblyk dat Jinrong die maat­skappy se bank gemagtig het om geldtransaksies te doen, alhoewel hy ontken dat die handtekening op die dokumente syne is. Hy het ook aangevoer dat hy weinig Engels magtig is en dus onmoontlik enige dokumente in Engels kon onderteken. Hy het verder ontken dat hy enige doeanedokumente onderteken het.

Gedurende Jinrong se getuienis het aan die lig gekom dat ene Chen Jianguo die houer is van 'n volmag om Golden Star se besigheid te behartig. Chen is in 2010 betrap in 'n poging om onverklaarde buitelandse valuta uit Namibië te neem, en het met 'n boete van N$50 000 weggekom.

Die derde beskuldigde, Julius, die alleeneie­naar van die klaringsmaatskappy Extreme Custom Clearance Service (ECCS), het ook getuig oor dié maatskappy se aktiwiteite. Volgens hom het ECCS se ouditeure hom bewus gemaak van verskille in die fakture wat aan doeane en aksyns voorgelê is en fakture wat aan ECCS gegee is. Volgens hom het hy sy kliënte oor hierdie onreëlmatighede geskakel en is meegedeel “dit is van China en dit is hoe hulle dit doen”.

Julius het ook getuig dat hy met die kommissaris van doeane en aksyns oor die aangeleentheid gekorrespondeer het en 'n geleentheid gegun is om ECCS se dokumente te hersien. Julius het getuig dat hierdie hersieningsproses steeds aan die gang is en dat ECCS reeds boetes van N$1,3 miljoen en heffings van N$3,9 miljoen betaal het.

Julius was verlede jaar in Londen toe hy op 16 Desember in kennis gestel is dat die polisie klopjagte op ECCS se kantore in Keetmanshoop, Lüderitz en Walvisbaai asook sy plaas naby Mariental uitgevoer het.

Op adv. Louis Botes se vraag of hy kennis dra van die bedrog van N$3,5 miljard, het Julius gereageer: “Ek weet nie waar dit vandaan is nie.”

Tao en Jinrong word deur prokureurs Sisa Namandje en Nambili Mhata verteenwoordig. Botes, in opdrag van prokureur Dirk Conradie, tree namens Julius op.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!