Chinese verdagte landuit met ‘vakansie’
Die ACC ondersoek hoe die beskuldigde in ’n omkoopsaak, wat op borgtog uit is, toegang tot sy paspoort kon kry.
Augetto Graig - Nóg ’n Chinese verdagte is onlangs spoorloos landuit.
Dít nadat mnr. Qiang Allen Yue, ’n beskuldigde in ’n omkoopsaak, op 10 Desember die gereg op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako ontduik het.
Yue het met paspoortnommer G 367317 landuit gevlieg - ten spyte van die hangende hofsaak teen hom waarin hy van omkopery beskuldig word.
Op 13 Mei 2017 is borgtog van N$50 000 aan Yue toegestaan. Voorwaardes was onder meer dat hy sy paspoort by die polisiekantoor op Walvisbaai inhandig en die dorp nie mag verlaat nie.
Yue is oorspronklik op 29 Maart 2017 deur die Teenkorrupsiekommissie (ACC) by die strandmeer op Walvisbaai vasgetrek.
Hy word daarvan beskuldig dat hy N$35 000 van die eienaar van ’n sekuriteitsmaatskappy geëis het voor hy betaling vir die maatskappy se dienste vir die sewe voorafgaande maande sou goedkeur.
Die kommissie se lokval is gestel toe die eienaar van die sekuriteitsmaatskappy ingestem het om saam te werk en die geld te oorhandig, waarna Yue in hegtenis geneem is.
PASPOORT
Volgens die ACC het Yue se prokureur, mnr. Richard Metcalfe, die hof in Oktober genader vir toegang tot sy kliënt se paspoort.
Die rede wat hiervoor aangevoer is, was dat Yue se werkgewer, die boumaatskappy Jiangsu Zhengtai, die paspoort benodig om sy werksvisum te hernu.
Metcalfe het belowe om die paspoort aan die maatskappy te oorhandig en ná die visum hernu is, dit aan die ondersoekbeampte, insp. Walter Kurz, terug te besorg.
“Ek sal ook voor die hof onderneem om die paspoort nie aan die beskuldige te oorhandig nie,” het Metcalfe volgens die ACC die hof belowe.
Kurz het eers op 12 Desember bekommerd begin raak toe die paspoort nog nie terugbesorg is nie, en het die polisiekantoor op Walvisbaai besoek.
Daar het hy uitgevind Yue het op 27 November laas daar aangemeld.
Die polisie het nooit vir Kurz hiervan in kennis gestel nie.
Ná vasgestel is dat Yue landuit gevlieg het, het die landdros op Walvisbaai ’n lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik.
PROKUREUR
Metcalfe sê egter dit was hy wat op 12 Desember reeds die landdros, regter John Sindano, gevra het om die lasbrief uit te reik.
Volgens Metcalfe het hy die kantore van Jiangsu Zhengtai reeds drie keer genader om die paspoort terug te kry, en moes elke keer hoor dit is steeds by die ministerie van binnelandse sake en immigrasie.
Metcalfe het op 16 Desember weer van Yue gehoor toe die Chinese werknemer per e-pos bevestig het hy is op 10 Desember landuit.
Yue het geskryf hy het Namibië voor die Kersvakansie verlaat ná sy werk aan die Dunes Mall-bouprojek op Walvisbaai voltooi is en het gevra dat Metcalfe die voortsetting van die hofsaak tot in Maart volgende jaar probeer uitstel.
Hy het ook gesê hy sal na Namibië terugkeer sodat die saak afgehandel kan word.
Die bekende prokureur is egter van plan om 'n eis van N$10 miljoen teen die yslike Chinese maatskappy in te stel vir skade aan sy reputasie, laster en bedrog “as gevolg van die minagting van Namibië, sy howe, sy wette en die regsfirma wat uit hul pad gegaan het om te help”.
Dinsdag het Yue weer ’n e-pos aan Metcalfe gestuur waarin hy sê hy woon sy skoonma se begrafnis by en hy het die Chinese ambassade in Namibië om hulp genader.
Aan Yue het Metcalfe geskryf: “Deur die reg in eie hande te neem en nie u borgtogvoorwaardes na te kom nie, het die skrywer geen ander opsie gehad as om die hof van u afwesigheid te verwittig nie.
“U optrede het skade aan die reputasie van die skrywer, u onderneming en uself veroorsaak.
“Indien u nie teen 26 Desember 2017 na Namibië teruggekeer het nie, sal u borgtog van N$50 000 aan die staat verbeurd verklaar word. U sal ook sukkel om borgtog te kry hangende u verhoor, aangesien u geen respek vir die Namibiese wet toon nie. Om die aangeleentheid by die Chinese ambassade in Namibië aan te meld, gaan u nie help nie, aangesien u nie in die diplomatieke diens van u land is nie.”
Die ACC is tans besig om te ondersoek hoe die paspoort in mnr. Yue se besit beland het.
Dit is volgens dié kommissie die tweede keer in twee afsonderlike korrupsiesake dat ’n Chinees landuit reis nadat hy deur die landdroshof op Walvisbaai borgtog toegestaan is.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie