Chippie die pikkewyn se avontuur
Chippie die Afrika-pikkewyn het hopelik nou 'n tuiste naby Lüderitz gevind nadat haar lewe tot dusver baie moeilik en uitdagend was.
In Mei vanjaar is 'n verlate pikkewyneier in Kaapstad gevind. Die eier is na die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusseevoëls (SANCCOB) geneem, waar Chippie uitgebroei het.
Volgens Jessica Kemper was sy drie maande later reg om die nes te verlaat. Sy het 'n mikroskyfie gekry en is by die Stoney Point-pikkewynkolonie in Kaapstad vrygelaat.
“Chippie het toe gedoen wat soveel jong Afrika-pikkewyne doen. Sy het noordwaarts beweeg, verby Kaapstad, die Oranjeriviermond en verder op langs die Namibiese kus.
“Sy het leidrade van mariene habitat gevolg wat vir jong pikkewyne aandui waar baie goeie kos soos hoë-energie sardyne waarskynlik sal wees. Ongelukkig is Namibië se sardynvoorrade langs die kus uitgeput. Hoewel die leidrade daar was, was daar nie vis nie. En soos vele ander pikkewyne voor haar, het Chippie haar as die slagoffer van 'n 'ekologiese lokval' bevind – vasgevang op 'n plek waar sy verwag het om goeie kos te kry, maar nie het nie,” het sy gesê.
Dit was ook byna tyd vir Chippie om van haar ou vere ontslae te raak en nuwes te laat groei. Haar verslete ou vere was nie meer waterdig nie, maar om al die vere nuut te groei, verg uiters baie energie en vetreserwes.
“Maar hoe bou jy vetreserwes op in 'n plek waar goeie kos skaars is? Chippie het maer geword, vinnig kondisie verloor en haar verekleed het al hoe meer motgevreet gelyk. Gelukkig het dinge begin beter lyk toe sy in die hawe van Walvisbaai raakgesien is, gered is en na die seevoëlredders dr. Sandra Dantu en Mark Boorman in Swakopmund geneem is.”
Onder hul waaksame oë het sy spoedig nuwe vere gegroei en was sy reg om weer vrygelaat te word.
“Dit sou egter nie sin maak om haar weer daar waar sy gevind is vry te laat nie en die beste plek sou die pikkewynbroei-eilande in die suide van die land wees waar die beskikbaarheid van kos ook nie baie is nie, maar beslis beter is.”
Die probleem was egter om haar op Lüderitz te kry, en dít is waar Axel Theissen en Cymot in die prentjie kom.
Theissen vertel: “Cymot is al vir jare lank deel van die Nedbank Desert Dash en vanjaar het ons weer verskillende spanne ingeskryf.
“Weens Covid-19 moes een fietsryer in die gemengde span van vier onttrek en ons het vir Piet Swiegers van Klein-Aus Vista ingekry om in sy plek te ry. Hy is 'n ervare fietsryer en die span het tweede in hul kategorie klaargemaak.
“Piet moes egter Saterdag terug in Aus wees. Cymot het 'n vliegtuig gehuur en die lugredery het ons gekontak en gevra of Chippie mag saam vlieg. Ons het dit as die gulde geleentheid gesien om haar lewensgehalte te verbeter.”
Nadat Chippie in Aus sowat 130 kilometer van Lüderitz geland het, is sy direk na Gunaobaai oorkant die Halifax-eiland geneem.
“Nadat sy haar rigting gekry het, die geluide en reuke ingeneem het, het sy die see ingevaar. Sy het vinnig weggeswem in 'n noordwestelike rigting verby Halifax totdat sy net 'n spikkel op die horison was. Ons wens haar alle voorspoed toe,” het Kemper gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie