Cholera in Zambiu00eb se impak op invoere minimaal
Cholera in Zambiu00eb se impak op invoere minimaal

Cholera in Zambië se impak op invoere minimaal

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Met die grens wat vandag vir die invoer van mielies na Namibië open, word nie voorsien dat die invoerverbod op vars ­produkte en gewasse uit Zambië die ­beskikbaarheid van dié stapelvoedsel sal beïnvloed nie.

Die verbod op invoere uit hierdie noordelike buurland is ingestel aangesien 'n uitbreking van cholera daar woed.

Mnr. Christoff Brock, ­uitvoerende hoof van die Akkerbouraad, sê Namibië het nog nooit swaar gesteun op ingevoerde vars produkte en graan uit Zambië nie.

“Invoere is beperk en vind op 'n baie klein skaal plaas. Dit het feitlik geen effek op ons plaaslike mark nie,” sê hy.

“Ek glo ook nie enige van ons meulenaars het al ooit staatgemaak op mielie-invoere uit Zambië nie. Mense is bang om van daar af in te voer, aangesien lewering nie bestendig is nie. Hulle weet nie altyd of hulle die vragte sal kry waarvoor hulle betaal het nie. Die graderingstelsel daar is ook anders as hier,” sê Brock.

Die grens word eers vir die invoer van mielies oopgestel wanneer alle plaaslik verboude mielies opgebruik is. Dit geskied môre. Invoere sal kan plaasvind totdat Namibiese akkerbouers later vanjaar hul mielies oes.



meer as 3 000 gevalle

Volgens die nuusagentskap AFP is 3 148 gevalle van cholera al in die buurland aangemeld en 72 mense het gesterf.

Reuters het vroeër berig Namibiese gesondheidsbeamptes monitor die situasie om te keer dat die siekte na Namibië versprei.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer