Chris Gayle blaas sy eie beuel

Krieket
Chris Gayle sê hy verdien om as een van die grotes van Windies-krieket beskou te word en die vernietigende aanvangskolwer het afgesien van sy besluit om ná afloop van die Wêreldbekertoernooi uit te tree.

Gayle (39), wat homself die “Universe Boss” gedoop het, sê hy sal altyd die twee dekades wat hy vir die Wes-Indiese Eilande gespeel het, koester.

“Ek is vir seker daarbo saam met die grotes, sonder twyfel. Soos ek sê, ek geniet elke oomblik wat ek vir my land speel,” sê Gayle.

“Dit is nog nie die einde nie, ek het nog ’n paar wedstryde om te speel, dalk nog ’n reeks om aan deel te neem. Wie weet? Ons sal sien wat gebeur.”

Gayle het vroeër die jaar aangekondig dat hy beplan om ná afloop van die skouspel in Engeland uit te tree, maar het almal Woensdag verras deur te sê hy wil in Augustus en September in die tuisreeks teen Indië deelneem.

Die Windies speel gasheer vir Indië in twee toetse, drie eendagwedstryde en drie T20-kragmetings.

“Miskien ’n toets teen Indië en beslis die eendagreeks, maar ek sal nie in die T20-reeks speel nie. Dit is my plan ná afloop van die Wêreldbekertoernooi,” sê Gayle, wat in 2014 laas toetskrieket gespeel het.

Hy erken die toernooi in Engeland sou die ideale swanesang gewees het, maar dit is onwaarskynlik dat die Windies vir die halfeindronde gaan kwalifiseer.

Die tweemalige kampioen kon voor gister net een sege in ses kragmetings behaal.

“Wat ek eintlik wou hê, was om in ’n uitspeelwedstryd te speel, om die eindstryd te haal en my hande op die trofee te kry. Ons sal sien wat gebeur,” sê Gayle.

Die hotklou spog met meer as 19 000 internasionale lopies, wat twee driehondertalle in toetskrieket insluit. Hy is die enigste kolwer wat ’n toets-driehondertal, ’n eendag-tweehonderdtal en ’n T20-hondertal gemoker het. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer