Christo Wiese reg met verweer in hofstryd met SAID
Nellie Brand-Jonker – Die beswaar wat die sakeman Christo Wiese en drie ander verweerders wou aanteken teen die besonderhede van die eis van R216,6 miljoen van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) teen hulle, is teruggetrek.
Die eksepsie teen die besonderhede van die eis sou Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor word. “Die verhoor gaan nie voort nie aangesien die verweerders hul eksepsie teen die besonderhede van die eis teruggetrek het. Die verweerders gaan (nou) hul verweer indien,” het Norton Rose Fulbright, die regsverteenwoordiger van die SAID, Woensdag by navraag gesê.
Dit is onseker wanneer die verhoor nou voortgaan.
Die SAID voer in sy hofaansoek aan die verweerders moet gesamentlik en afsonderlik vir R216,6 miljoen aanspreeklik gehou word ingevolge die Wet op Belastingadministrasie omdat hulle na bewering die pogings om belastingskuld van die maatskappy Energy Africa in te vorder, verhinder het.
Die SAID se hofaansoek toon Energy Africa het hom in Julie 2014 R3,3 miljard se belasting geskuld.
Dié maatskappy is in 2016 deur die SAID gelikwideer en die eis teen die verweerders is in November verlede jaar gebring.
Wiese het voorheen oor die geskil met die SAID gesê: “Dit is ’n formele dispuut en die hof sal besluit wat is reg. Dit gebeur met alle belastingbetalers. Ons het topregsadvies wat sê ons is 100% reg.”
Die verweerders, wat deur Edward Nathan Sonnenbergs (ENS) verteenwoordig word, wou eksepsie aanteken omdat die besonderhede van die SAID se eis vaag en ’n verleentheid is.
Die ander verweerders was in ’n stadium direkteure of amptenare van Energy Africa. Dit sluit in Isak Visagie, Gert Viljoen en Rauten Hofmeyr. Die hofstukke van die SAID toon die verweerders betwis die aanspreeklikheid op die gronde waarop die SAID staatmaak.
Agtergrond
Energy Africa het voor 2007 behoort aan die internasionale oliemaatskappy Tullow Oil, wat in Londen genoteer is.
Energy Africa het Energy Africa Holdings (EAH) ten volle besit. EAH het op sy beurt talle maatskappye besit wat in olie-eksplorasie in Afrika betrokke is.
In Januarie 2007 het Tullow Oil, Energy Africa en die maatskappy Elandspad Investments (wat in daardie stadium deur Enact-trust besit is) ’n reeks transaksies aangegaan. Die transaksies is gedoen om Tullow Oil se internasionale beleggings te herstruktureer sodat hulle filiale van die Nederlands geregistreerde maatskappy Tullow Overseas Holdings (TOH) kon word.
Dit is ’n formele dispuut en die hof sal besluit wat is reg. Dit gebeur met alle belastingbetalers. Ons het topregsadvies wat sê ons is 100% reg.
Elandspad was bereid om die herstrukturering te fasiliteer, lui die hofstukke vir die aansoek om Energy Africa te likwideer.
Ingevolge die reeks transaksies het Elandspad 100% van die aandele van Energy Africa op ’n leningsrekening van Tullow verkry vir $543,76 miljoen. Tullow Oil het toe die aandele in EAH van Energy Africa deur sy filiaal TOH bekom.
Die oorweging vir laasgenoemde verkryging was die sessie van die leningsrekening van $543,76 miljoen (waarna hierbo verwys is) aan Energy Africa en ’n betaling van $1,2 miljoen in kontant. Dit het meegebring dat Energy Africa nie meer deur Tullow Oil besit word nie, maar dat die onderliggende olie-eksplorasiemaatskappye deel van Tullow-groep gebly het.
Titan Premier Investments, ’n beleggingsbeheerfirma waarin Wiese belange het, het daarna in April 2017 vir Elandspad van die Enact-trust bekom.
“Die effek van die transaksies was om die aandele in Energy Africa van Tullow-groep na die Titan-groep oor te dra, maar nie die onderliggende bates nie. Die olie-eksplorasiemaatskappye het in die hande van die Tullow-groep gebly. Dit het tot gevolg gehad dat Energy Africa as die Suid-Afrikaanse beheermaatskappy uitgesny is,” voer die SAID aan.
Ware doel
Die SAID beweer die ware doel en uitwerking van die transaksies was:
· Om die waardevolle bates van die eksplorasiemaatskappye uit Suid-Afrika te verplaas sonder dat Energy Africa kapitaalwinsbelasting en maatskappybelasting betaal; en
· Dat die Titan-groep daardeur Energy Africa se aangeslane verlies verkry het.
“Die eindresultaat was dat Energy Africa effektiewelik ’n bate – die eksplorasiemaatskappye met ’n markwaarde van $543,76 miljoen – oorgedra het aan ’n verwante oorsese maatskappy in ruil vir $1,2 miljoen,” lui die hofstukke.
Dit is oor die redes wat die SAID uiteindelik vir Energy Africa ’n belastingaanslag van R3,2 miljard gestuur het. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie