• Tuisblad
  • Sake
  • Christo Wiese wil 'wesenlike belegger in Brait bly'
Christo Wiese wil 'wesenlike belegger in Brait bly'
Christo Wiese wil 'wesenlike belegger in Brait bly'

Christo Wiese wil 'wesenlike belegger in Brait bly'

Nellie Brand-Jonker



Die beleggingsmaatskappy Brait het Maandag bevestig dat daar planne is wat moontlik tot die dis­investering van sekere van sy beleggings kan lei.

Brait besit groot belange in die gimnasiumgroep Virgin Active, die Suid-Afrikaanse voedselvervaardiger Premier Foods en die Britse kruidenierswaregroep Iceland en die winkelgroep New Look.

Die maatskappy, waarin die grootste belegger Christo Wiese se beleggingsvoertuig Titan is, het gesê hy is met 'n proses besig om sy skuld wesenlik te verminder.

Die proses kan moontlik insluit die herfinansiering van die bestaande skuld, moontlike inisiatiewe om aandeelkapitaal in te samel, herkapitalisering of die verkoop van sekere van sy beleggings of 'n kombinasie van alles.

Volgens Brait is Titan deur 'n aantal ander beleggers genader wat hierdie pogings wil steun.

Netwerk24 het verlede week berig oor nuus wat aan die media uitgelek het oor Wiese wat deel is van 'n groep wat wil hê Brait moet R3 miljard insamel deur aandele uit te reik en bates te verkoop.

Business Day het berig dat volgens Wiese is die voorstel, wat as Projek Arbiter bekendstaan, een van talle op die tafel.

Titan is saam met die batebestuurder Mergence Investment Managers deel van die plan wat die verwydering van die huidige bestuur van Brait sou insluit.



Wil groot bly

Brait het Maandagoggend in 'n verklaring aan beleggers gesê: “Titan het aan Brait se direksie bevestig dat die maatskappy as 'n strategiese langtermynbelegging beskou word.

“Titan is van voorneme om 'n wesenlike en strategiese belegger in Brait te bly.”

Brait het beloof dat verdere inligting aan beleggers verskaf sal word sodra daar nuus is.

Wiese het in 2011 die grootste aandeelhouer van Brait geword toe hy 34,6% van die maatskappy bekom het.

Terselfdertyd is Brait se sakemodel van dié van 'n private-ekwiteitsfondsbestuurder na 'n beleggingsmaatskappy verander.

In die begin van April 2011 voordat Wiese sy belang bekom het, was Brait se netto batewaarde per aandeel R16,50.

Die netto batewaarde het in April 2016 ná talle verkrygings tot R136,27 gestyg.



Beleggings en verkope van 2011 af

• In 2011 het Brait ook 49,9% van Premier bekom en 37% van Pepkor.

• In 2012 is die belang in Premier tot 96,1% verhoog. Brait het ook in Maart 18,7% van Iceland bekom.

• In 2015 verkoop Brait 37% van Pepkor (aan Steinhoff). In Junie word 'n belang van 89% in New Look bekom en in Julie 78% van Virgin Active. In November word die belang in Iceland tot 57,1% verhoog.

• In Junie 2018 word die belang in Iceland tot 63,1% verhoog.

Sedert April 2016 het Brait se netto batewaarde van R136,27 tot R41,80 per aandeel einde Maart vanjaar gedaal.



New Look-kopsere

Dit grootste rede daarvoor hou met die probleme die afgelope jare by New Look verband.

Die afgelope boekjaar is New Look se balansstaat herstruktureer.

Die proses wat op 3 Mei afgehandel is, het New Look se langtermynskuld wesenlik verminder.

Brait is steeds die grootste aandeelhouer maar sy belang is nou wesenlik kleiner op 18,5%.

Brait se jaarverslag toon Virgin Active maak 53% van sy bates uit; Premier 27%; Iceland Foods 10% en New Look 3%.

Van sy kleiner belange sluit in 91,3% wat in die Suid-Afrikaanse wynmaatskappy DGB besit word en 'n belang in Consol.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!