Christof Brock span die osse uit
Christof Brock se tyd van hand aan die ploeg slaan by die Akkerbouraad, is verby. Só kyk hy terug.
Ronelle Rademeyer - Ná 17 jaar as hoof uitvoerende beampte van die Namibiese Akkerbouraad (NAB), oorhandig die 65-jarige Christof Brock einde Julie die leisels aan die nuwe hoof, dr. Fidelis Nyambe Mwazi.
Die Boer het by hom op kantoor gaan koffie drink en gesels oor die hoogtepunte van sy loopbaan in die akkerboubedryf, en hom gepols oor die volgende fase van sy lewe.
Brock, ’n gebore en getoë Swakopmunder, is op 1 Maart 2001 as hoof van die Akkerbouraad aangestel. Voor dit was hy die adjunk-direkteur van beplanning by die ministerie van landbou, water en bosbou. “Ek was van kort ná onafhanklikwording in hierdie ministerie waar ek nou betrokke was by koöperatiewe ontwikkeling,” vertel Brock en sê die ondervinding in die ontwikkeling van die nodige beleid en wetgewing was goeie voorbereiding vir sy latere beroepslewe.
Hy dink met mooi herinneringe aan sy beginjare by die Akkerbouraad terug, grootliks vanweë die rol wat wyle mnr. Jürgen Hoffmann, destydse handelskonsultant vir die bedryf, in sy groei en ontwikkeling gespeel het.
“Hy was my klankbord en mentor. Ek kon dinge met hom bespreek, en dit het my selfvertroue gegee vir my nuwe rol,” onthou Brock.
HOOGTEPUNTE
Vra ’n mens hom oor die hoogtepunte in sy tyd as hoof van die belangrike bedryfsliggaam, staan ’n paar goed uit. Een daarvan was die opgradering van tuinbouprodukte (groente en vrugte) na beheerde gewasse.
Dit is gevolg deur die implementering van die markaandeelbevorderingskema vir plaaslik verboude groente en vrugte in die Namibiese kleinhandelmark. “Toe ons daarmee begin het, was die persentasie 5 persent. Dit beteken plaaslike handelaars moes ten minste soveel persent se plaaslike produkte op hul rakke gehad het.
“Sedert ons meer as ’n dekade gelede daarmee begin het, het dié persentasie gegroei tot 47 persent. Dit beteken net 53 persent van die groente en vrugte wat binnelands verbruik word, is deesdae nog ingevoerde produkte.”
Brock sê dit is merkwaardig as in ag geneem word dat baie produkte soos appels en sagte vrugte nie in Namibië verbou word nie en dus steeds ingevoer moet word.
“Die akkerboubedrywe in buurlandse soos Botswana beskou hierdie as ’n uistekende skema en sien Namibië as ’n voorbeeld wat dit betref.”
Die ander hoogtepunt was die erkenning van mahangu as ’n beheerde gewas – ook iets wat sowat tien jaar gelede geskied het.
Sedertdien het mahangu sy toetrede in die kommersiële handel gemaak. “Daar word formeel daarin handel gedryf en dit word nie net meer vir eie gebruik geproduseer nie. Mahangu word aan al meer meulenaars verkoop en die kommersiële verbruik daarvan styg,” sê hy.
Die verbouing van mielies, wat saam met koring reeds ’n beheerde gewas was toe hy destyds aangestel is, het ook groot groei getoon. “Die produksie van mielies in Namibië het bykans verdubbel. Dit is uitgesluit die baie droë jare tussenin toe droëlandproduksie minimale opbrengste gelewer het.”
Brock sê hy is ook trots op die verskillende toekennings waarmee die Alerbouraad deesdae produsente vereer.
“Toe ek begin het, was daar net een toekenning en dit was dié van Meesterakkerbouer van die Jaar. Ons het nou vyf toekennings waarmee ons tuinbou- en akkerbouprodusente – van kleinskaalboere tot kommersiële produsente vereer.”
Die mees onlangse toevoeging was dié van Mega-besproeiingsboer – ’n toekenning wat ingestel is om saam te val met die Verenigde Nasies se viering van Wêreldvoedseldag.
PAD VORENTOE
Brock en sy vrou, Cathy McRoberts, dink daaraan om ’n tweede kampeerwa aan te skaf en Europa op ’n goedkoop wyse te gaan verken.
Sy het ook nou afgetree nadat sy lank ’n kunsdosent aan die Universiteit van Namibia was. Hulle twee kinders, Alex (23) en Beatrice (21) - wat chemiese ingenieurswese en medies studeer – gaan ook aanstons hul eie potjies krap.
“Ons het gesê ons wil twee jaar gebruik en goedkoop toer. Maar ’n mens weet nie; dalk doen ons dit vir ’n tyd en besef ons mis ons vriende hier, verkoop die kampeerwa en kom terug.”
Brock sê hy het reeds navrae gehad van mense wat gehoor het hy tree af en wou weet of hy by konsultasiewerk betrokke kan raak.
NUWE BLOED
Mwazi, sy opvolger, is ’n ou bekende in die akkerbou- en tuinboubedrywe in die land.
Mnr. Michael Iyambo, voorsitter van die Akkerbouraad, beskryf hom as “’n sterk visionêr en uiters bevoeg om die bedryf na hoër hoogtes te neem”. HY is ’n wetenskaplike op die gebied van gewasse en volhoubare landbou, met 18 jaar ondervinding in akademia sowel as die akkerbou- en tuinbedrywe.
Mwazi was vroeër jare die nasionale bestuurder van tuinbou by die Akkerbouraad en verantwoordelik vir die implementering van die markaandeelbevorderingskema vir plaaslik verboude groente en vrugte, vertel Brock.
“Daarna het hy die senior bestuurder vir bemarking en standaarde by Amta (die Agrobemarkings- en Handelsagentskap) geword.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie