Cleveland-boere moet trek
Cleveland-boere moet trek

Cleveland-boere moet trek

Die sementfabriek op Farm Cleveland buite Otjiwarongo moet met sy werksaamhede begin, maar terselfdertyd kon die boere, wat reeds 10 jaar daar woon, nog nie elders geholpe raak nie.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Farm Cleveland se sogenaamde onwettige boere moet dringend die plaas verlaat omdat die sementfabriek binne dae met skietwerk vir kalksteen sal begin. Dan sal dit te gevaarlik vir hulle en hul vee wees om daar te wees.

“Die feit is, ter wille van hul eie veiligheid moet hulle die gebied ontruim,” het Otjiwarongo-munisipaliteit se uitvoerende hoof, mnr. Ismael /Howoseb, gister aan Republikein gesê.

Dit volg nadat dié boere op Vrydag 19 Januarie ná 'n vreedsame demonstrasie 'n petisie by die goewerneur van die Otjozondjupastreek, mnr. Otto Ipinge, se kantoor ingehandig het, waarin hulle eis dat hulle dringend hervestig moet word.

Hulle het die goewerneur, wat ook die voorsitter van die streek se hervestigingskomitee is, vyf werksdae gegee om op hul petisie te antwoord nadat sy persoonlike assistent Sonia Iyambo dit glo namens hom ontvang het.

Die munisipaliteit het in Februarie verlede jaar uitsettingsbevele op 32 gesinne bedien wat sedert 2006 en 2007 glo onwettig op die plaas woon.

Op die vraag of die munisipaliteit nie met die relevante hervestigings­owerhede kan saamwerk om die boere elders te hervestig nie, sê hy hervestiging is nie die verantwoordelikheid van die munisipaliteit nie en dat die boere self met die relevante owerhede daaroor moes skakel.

“Terselfdertyd het ons nie geskikte grond beskikbaar waarheen ons hulle kan verskuif nie – selfs nie eers as 'n tydelike reëling nie,” het hy gesê. Hy het bygevoeg die boere se beeste loop ook dikwels vry op die B1-roete rond – wat 'n gevaar vir motoriste is.

Volgens die boere het hulle 10 jaar gelede 'n ooreenkoms met die Rapama Kamehozu aangegaan, waarvolgens hulle tydelik op die plaas kon boer.

/Howoseb sê die plaas, wat oorspronklik vir hervestigingsdoeleindes aangeskaf is, is intussen deur die ministerie van grondhervorming aan die stadsraad oorhandig sodat 'n gedeelte daarvan aan Cheetah Cement uitverhuur kan word, wat op sy beurt 'n sementfabriek daar gebou het.

Cheetah Cement is 'n gesamentlike onderneming tussen Chinese en Namibiese beleggers.



'HERVESTIG ONS'

Mnr. Thomas Namboa, een van ­Cleveland se boere wat tot hul voorsitter verkies is, sê die petisie is aan Ipinge se sekretaresse oorhandig. Hy sê ten spyte daarvan dat hulle vooraf versoek het dat die streeksgoewerneur dit in ontvangs neem, was hy nie teenwoordig nie.

“Ons sukkel al bykans 'n jaar lank om hom in die hande te kry. Ons stuur e-posse en maak oproepe - sonder sukses.

“Ná ons laaste vergadering vroeg verlede jaar het ons nie weer van hom gehoor nie.

“Die boere staan nie die ontwikkeling teen nie, maar in ons petisie versoek ons Ipinge om 'n blywende oplossing vir hierdie langdurige probleem te vind,” het Namboa gesê.

Die boere het glo versoek om glo op twee regeringsplase in die Okahandja-omgewing hervestig te word.

Namboa sê die boere is bang dat hul waterbron deur die fabriek se skiet­werk geraak sal word en het verduidelik dat die berg waar die skiet­werk gedoen gaan word, reg langs hul boorgat geleë is.

Die boere woon reeds vir langer as 10 jaar op die plaas en sê dat hulle reeds vir verskeie plase aansoek gedoen het, maar dit is elke keer aan iemand anders toegestaan en hulle het nêrens om met hul vee heen te gaan nie.

Namboa erken daar het in die tussentyd meer boere by hulle aangesluit en die tydelike verblyfsooreenkoms is aanvanklik met sowat sewe boere aangegaan.

Die streeksgoewerneur se sekretaresse wou gister nie kommentaar op vrae oor die aflewering van die petisie lewer nie en het gesê die goewerneur self is vir twee dae weg met amptelike sake en kan daarna deur Republikein om kommentaar genader word.



EKONOMIESE VOORDELE

Volgens die projek se omgewings­bestuurplan sal US$350 miljoen hierin belê word en die ekonomiese voordele sal onder meer die instoot van meer as US$30 miljard in die volgende 40 jaar in die Namibiese ekonomie behels.

In 2007 het die projek mineraleregte op 1 004 ha van Farm Cleveland vir 15 jaar tot 2022 vir indus­triële minerale (ML146) bekom sodat 'n kalksteen- en marmergroef ontwikkel kan word.

Die marmer gaan uit 'n oop groef ontgin word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!