Cliven herenig met Davies en mede-Namibiërs
Die boorling van Rehoboth wil sy kanse aangryp om sy eerste beroepskontrak by ’n Europese klub ’n beginpunt te maak.
Andrew Poolman - Die Namibiese losskakel Cliven Loubser vertrek vandag na Engeland om hom by sy nuwe klub aan te sluit.
Twee dae ná sy 23ste verjaarsdag is Loubser op pad na Yorkshire Carnegie, die klub wat deur die voormalige Namibiese afrigter Phil Davies gebrei word.
Yorkshire is ’n eens trotse klub wat in die Engelse premierliga goed gevaar het onder ’n vorige Davies-termyn, maar die Wallieser moes onlangs weer op hul noodroep antwoord om die sukkelende klub van relegasie uit die laer liga (die Engelse kampioenskap) te probeer red.
Davies het reeds sy beproefde krag- en kondisioneringsafrigter Wayne Proctor, wat ook vir vyf jaar saam met hom by Namibië diens gedoen het, na Yorkshire gebring.
Davies het onlangs ook reeds drie Namibiese spelers wat verlede jaar in sy Wêreldbeker-span na Japan was, by sy reddingspoging betrek. Hulle is die senter Darryl de la Harpe, flank Prince !Gaoseb en stut André Rademeyer.
Loubser sal dus die vierde Namibiese speler wees wat by Yorkshire aansluit.
PUNTEMASJIEN
Die jong losskakel was 20 jaar en 114 dae oud toe Davies hom vir sy toetsdebuut as plaasvervanger teen Rusland in Montevideo opgestuur het (Junie 2017).
Sommer uit die staanspoor was Loubser inderdaad ’n puntemasjien vir die nasionale span en sy huidige totaal staan op 169 punte in 17 toetse (15 in die beginspan, vier drieë).
Net sy voorganger in die 10-trui en nasionale rekordhouer Theuns Kotzé (430 punte in 40 toetse), Jaco Coetzee (335 punte in 28 toetse tussen 1990 en 1995) en die rekorddriedrukker Chrysander Botha (209 punte in 55 toetse) is nog voor hom op die lys.
Yorkshire sal dus sekerlik hoop om dieselfde soort waarde uit Loubser se taktiese en skopvernuf te kan put. Die klub lê vingeralleen onderaan die Kampioenskap (net een verloorbonuspunt ná 13 wedstryde) en dit lyk ’n uitgemaakte saak dat hy na Nasionale Liga 1 gerelegeer gaan word.
Net nege wedstryde in die tweede ronde lê nog voor, voordat die Engelse seisoen aan die einde van Mei tot ’n einde kom. ’n Bykans onbegonne taak staar Yorkshire in die gesig indien hy London Scottish en Hartpury, onderskeidelik op 22 en 24 punte, wil inhaal en verbysteek.
Ondanks hierdie kort periode van skaars drie maande waarin sy dienste vasgeknoop is, is Loubser hoopvol en vasberade om die beste daarvan te maak.
Volgens die oudskolier van Windhoek Gimnasium, voormalige student van die Universiteit van Pretoria en junior Blou Bul-speler het hy ambisie om vir hom ’n loopbaan as professionele speler by ’n Europese klub te vestig. Sy spelersagent is dus steeds voortdurend aan die werk om seker te maak dit gebeur.
“Ek weet die tyd is kort, maar dis ’n geleentheid om rugby te speel by ’n nuwe span en in vreemde omstandighede. Die Engelse kampioenskap sal my darem ’n idee gee van waaroor dit gaan. Ten minste ken ek darem vir Phil en die ander Namibiërs daar, so vir ’n bekendstelling is dit darem nie te vreemd nie.”
Loubser se laaste rugbywedstryd was die Wêreldbeker-toets teen die Springbokke in Japan gedurende September verlede jaar. Hy weet dus dat hy op die oomblik dalk nog nie 100 persent wedstrydfiks is nie, maar volgens hom kan hy selfs ná een of twee wedstryde weer behoorlik op dreef wees.
Cliven het verlede jaar geskiedenis gemaak as die eerste Namibiese speler wat in die voetspore van sy pa (die senter Cliff, 1999) gevolg het deur ook in ’n Wêreldbeker te speel.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie