Clover stel boere, verbruikers gerus
Clover stel boere, verbruikers gerus

Clover stel boere, verbruikers gerus

Hanlie Stadler – Die Israelse maatskappy wat, as alles vlot, eersdaags die grootste aandeelhouer in Clover word, verseker Suid-Afrikaners dat die handelsmerk nie saam met die groep se notering sal verdwyn nie.

Daarby gaan Clover steeds melk by plaaslike boere aankoop, en soos die maatskappy sy oog op die uitvoermark verskerp, gaan boere dalk juis meer voordeel kan trek.

Aran Oelsner, groep- uitvoerende hoof van Central Bottling Company (CBC), sê dis juis Clover se puik handelsmerke, die hoë gehalte van melk wat die groep verwerk, en die goeie verskaffers- en verspreidingsnetwerk van die groep wat CBC tot Clover aangetrek het.

Ingevolge die aanbod vir al Clover se aandele gaan CBC uiteindelik 60% van Clover besit. Die res van die konsortium is Brimstone Investments (15%), Plougshare Investments (11%), IncuBev (8%) en Clover se bestuur (6%).

Die aandele word teen R25 per aandeel kontant aangeskaf – aansienlik meer as Vrydag se sluitingstydprys van R19,90. Dit verteenwoordig ook ’n premie van 77% bo Clover se sluitingstydprys van R14,10 op 18 Oktober, die dag voordat Clover die eerste keer ’n omsigtigheidsverklaring uitgereik het.

Die aanbod waardeer Clover op R4,8 miljard.

CBC is die botteleerder vir Coca-Cola in Israel. Die maatskappy is 50 jaar gelede gestig en het nagenoeg 25 jaar gelede begin uitbrei na ander wêrelddele. Vandag besit CBC ook ondernemings in Roemenië, Turkye en Oesbekistan.

Die maatskappy se grootste bron van inkomste is bier en koeldrank, maar Oelsner sê hulle bedryf al tien jaar lank ’n suiwelonderneming in Israel. Hy self ken die suiwelbedryf goed.

Richard Izsak, CBC se personeelhoof, sê hul belegging in Clover – teen R25 per aandeel, wat die maatskappy op R4,8 miljard gaan waardeer – is gemotiveer deur “wonderlike handelsname en wonderlike produkte” en ’n aanloklike verspreidingstelsel. Hy beskou Suid-Afrika as ’n belowende mark danksy ’n “jong bevolking, ontluikende middelklas en lewenskragtige township-ekonomie”.

Clover besit benewens gelyknamige melk, room, jogurt en kaas ook Amasi, Numel, Butro, Tropika, Quali Juice en Frankie’s.

Die nuwe eienaars behou die huidige bestuurspan, wat ook aandele in die maatskappy kry.

Onder die uitdagings waarop die nuwe eienaars bedag is, is sikliese droogtes, wat melkproduksie kan raak.

Oelsner sê hoewel hy nog nie kan sê waarheen hulle nog wil uitvoer nie, wil hy Clover-produkte “so ver as moontlik” in Afrika in stuur. Clover verdien reeds nagenoeg 10% van sy inkomste uit uitvoer, hoofsaaklik na Botswana en Zimbabwe.

Volgens Izsak is een van hul doelwitte om die getal informele handelaars in townships wat Clover-produkte verkoop tot 60 000 te verdubbel. Hulle hoop 100 heeltydse nuwe poste sal so geskep word.

Die verkryging, waardeur Clover gedenoteer sal word, het reeds die steun van aandeelhouers wat 49% van Clover besit. Izsak is vol vertroue dat die aanbod ook kleiner aandeelhouers se steun sal kry, gegewe die waarde wat dit bied.

Aandeelhouers sal benewens die R25 per aandeel ook enige dividende vir die boekjaar tot einde Junie ontvang.

Aandeelhouers sal eersdaags oor die aanbod kan stem.

Clover gaan ná die verkryging denoteer van sowel die JSE as die Namibiese aandelebeurs.

Mustaq Brey, Brimstone se uitvoerende hoof, sê in ’n verklaring hulle beskou Clover as ’n “uitstekende geleentheid”.

Die transaksie is nog onderhewig aan goedkeuring deur reguleerders.

Die nuus het die maatskappy se aandeelprys vroegoggend met meer as 22% tot selfs R24,22 laat styg voordat dit die dag 16,5% hoër op R23,30 gesluit het. Die aandeel het met meer as 65% gestyg sedert die eerste aankondiging gedoen is dat kopers belang stel. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!