Clover van twee kante gekarring
Clover se bedryfswins vir die boekjaar tot einde Junie het met 44% tot R314,5 miljoen gekrimp.
Vida Booysen - Die suiwelmaatskappy Clover se spreekwoordelike kaas is in die afgelope boekjaar geskuif.
Ongunstige klimaatstoestande, 'n wisselvallige rand en hoër insetkoste te midde van laer verkope het sy langtermynplanne deurmekaar gekrap.
Daar is die afgelope vier jaar hard gewerk en baie kapitaal bestee om infrastruktuur te verbeter en uit te brei sodat markaandeel vergroot kan word en nuwe waarde-toegevoegde suiwelprodukte die groep se groei kon bevorder.
Maar toe kom 'n lang droogte gevolg deur 'n nat, koelerige somer waarin verbruikers nie so dors was vir melkdrankies, vrugtesap of koeldrank nie.
“Daar was druk van twee kante af, met die droogte wat die beskikbaarheid en koste van melk en vrugtepulp negatief geraak het, terwyl ons steeds nuwe produkbekendstellings wat met groot advertensieveldtogte gepaardgegaan het, moes deurvoer,” sê Johann Vorster, uitvoerende hoof van Clover.
Die groep se wesensverdienste het in die boekjaar tot einde Junie met 65,9% tot R121,6 miljoen gedaal, terwyl sy bedryfswins met 44% tot R314,5 miljoen gekrimp het.
“Faktore soos die weer en die rand se wisselvalligheid was buite ons beheer, maar die gevolglike styging in insetkoste en gedempte volumegroei het ons gedwing om moeilike besluite te neem om die onderneming te posisioneer vir die 'nuwe realiteit' van 'n sakeomgewing wat ingeperk is.”
Vorster sê die maatskappy het in die boekjaar hard gewerk om koste te besnoei en doeltreffendheid te verhoog.
Die uitvoerende bestuur het vrywillig aanvaar dat hulle geen salarisverhoging sou kry nie en geen prestasiebonusse is betaal nie. Besteding deur die hoofkantoor is met 9,6% of R25 miljoen ingekort, terwyl administratiewe uitgawes met 5,2% tot R15,7 miljoen verlaag is. Die maatskappy het ook in die afgelope boekjaar herstruktureringskoste van R46,8 miljoen aangegaan.
Strategiese projekte
Die maatskappy gaan egter voort met sy strategiese projekte, onder meer sy Mashakane-projek om sy afleweringspunte in die townships van 15 000 tot 30 000 te verhoog. Só word heelwat werk geskep in 'n gebied wat tradisioneel nie goed deur Clover bedien is nie, verduidelik Vorster.
“Dit beteken dat ons produkte nou selfs by die kleinste spaza-winkel of tafelverkoper langs die straat beskikbaar sal wees.”
Nuwe produkte het vanjaar gemengde welslae behaal, maar Clover se jogurt en vla bly uitblinkers. Die maatskappy se produkte vir die kindermark, soos Nutrikids, begin volgens Vorster ook vastrapplek in die mark kry. Die groep se advertensiekoste het met R60 miljoen teenoor die vorige boekjaar gestyg om 'n hele aantal nuwe produkte bekend te stel.
Omdat rou of ongepasteuriseerde melk en roumelkverspreiding geleidelik minder van Clover se kernbedrywighede sal uitmaak, het hy 'n nuwe filiaal, Dairy Farmers South Africa (DFSA) gestig om dié deel van die bedrywighede oor te neem. Vorster sê dié skuif is goed deur melkboere ontvang, wat al hoe meer in beheer van hul produk se toegang tot die waardeketting wil wees.
“Die groot uitdaging is om die voordeel van dié herstrukturering – wat ons blootstelling aan 'n sikliese en laemarge-bedryf vorentoe sal verminder – aan ons aandeelhouers te verduidelik.”
Clover het 'n dividend van 24,21c per aandeel verklaar. Sy aandeelprys was omstreeks 12:00 1,2% laer op R13,85. In die afgelope boekjaar het sy aandeelprys 26% van sy waarde verloor.
- Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie