Comair knip wel Max 8 se vlerke na lugramp
Comair knip wel Max 8 se vlerke na lugramp

Comair knip wel Max 8 se vlerke na lugramp

Elvira Wood – Die lugdiens Comair, wat British Airways en Kulula.com in Suid-Afrika bedryf, het besluit om tóg sy Boeing 737 Max 8 se vlerke te knip.

Dit volg na ’n tweede van dié vliegtuie Sondag geval het.

Comair is die enigste Suid-Afrikaanse lugdiens wat ’n Boeing 737 Max het.

Al 157 mense aan boord is in Sondag se lugramp dood toe ’n vlug van Ethiopian Airlines ses minute nadat

dit uit Addis Abeba opgestyg het op pad na Nairobi neergestort het.

Comair sê laat Maandag in ’n verklaring hy het besluit om tóg die Max 8 te hok, selfs al is daar geen vereiste om dit te doen nie.

Wrenelle Stander, uitvoerende hoof van Comair se lugdiensafdeling, sêin die verklaring die “veiligheid en vertroue van ons kliënte en bemanning bly altyd ons prioriteit.

“Hoewel Comair uitgebreide voorbereidende werk gedoen het voor die bekendstelling van die eerste 737 Max 8 in sy vloot en hy steeds alle vertroue in die inherente veiligheid van die vliegtuig het, het hy in oorleg met ander operateurs, Boeing en tegniese kenners besluit om die vliegtuig tydelik nie vir vlugte te skeduleer nie.

Lees ook: Lugramp: Comair se Boeing Max 8 bly vir nou in lug

Buiten vir die vlug van Ethiopian Airlines het ’n identiese, splinternuwe vliegtuig van Lion Air verlede Oktober in die see naby Indonesië geval. In daardie lugramp is 189 mense dood.

Vroeër is berig dat Comair agt van die nuwe vliegtuie bestel het, waarvan hy die eerste een einde Februarie in ontvangs geneem het. Buiten vir die een wat vandeesmaand ontvang word, word die ander ses oor die volgende drie jaar gelewer.

Op navraag van Netwerk24 het Susan van der Ryst, Comair se kommunikasiehoof, Maandagaand gesê die bestelling vir dié vliegtuie is reeds in 2014 gedoen, berig Ischke de Jager.

“Die lugdiens gaan voort om die vliegtuie te ontvang en die verskeie ondersoeke wat oor die Ethiopië-lugramp gedoen word, word deurgaans gemonitor,” sê sy.

Comair is in noue verbinding met Boeing en die Kommersiële Lugvaartvereniging van Suid-Afrika (SACAA). – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer