Comrades word Risa se volgende doelwit
Comrades word Risa se volgende doelwit

Comrades word Risa se volgende doelwit

Padwedlope
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Vir drie jare opeenvolgens was sy algeheel die eerste Namibiër (man of vrou) oor die eindstreep in die Comrades ultra-marathon. Op 14 Junie beoog sy om weer by die wegspringstreep aan te tree.

Risa Burger (of Dreyer voordat sy getroud is) het verlede jaar die gesogte geleentheid in KwaZulu-Natal misgeloop, omdat sy toegespits was op haar debuutdeelname aan die Windhoek Light Visrivier Ultra. Hier het sy as die eerste vrou die eindstreep van die 100 kilometer afstand bereik.

Burger, ooglopend 'n ywerige deelnemer aan uithousporte, het intussen ook die oog gevang met deelname aan padwedlope asook padfietsbyeenkomste.

Op 8 Februarie vanjaar het sy byvoorbeeld die Rössing Marathon (42 km) by Swakopmund as die vierdebeste vrou voltooi (2:58:12) ná die wenner Alina Armas, Anna Amutoko en Leena Ekandjo.

Agt dae later het Burger as die derde vrou ná Michelle Vorster en Imke Jagau klaargemaak by die Nedbank Cycle Challenge oor 100 kilometer. Sy is vanjaar 'n lid van die vrouespan van Mannie's Bike Mecca (MBM Racing) in die Nedbank Windhoek Pedal Power-reeks, saam met Irene Steyn, Silke Bean en Francesca van der Merwe.

Eintlik was haar volgende doelwit om die Ysterman-triathlon se Afrika-kampioenskap op 29 Maart op Port Elizabeth te gaan aanpak, maar dié geleentheid is nou vanweë die coronavirus-pandemie tot in November vanjaar uitgestel.

“Ek was die heeltyd op oefening vir die driekamp gefokus, maar nou sal ek weer die Comrades gaan aanpak – veral nou met die terugslag dat die Ysterman uitgestel is,” het Burger gister aan die koerant gesê.

Tydens haar laaste Comrades in Junie 2018 ('n af-wedloop van Pietermaritzburg na Durban) het sy die sowat 90 kilometer in sewe ure 48 minute 56 sekondes afgelê – die vinnigste van haar drie deelnames sover.

MINISTER SE UITLATING PLA CMA NIE

Sarel van der Walt berig vir Netwerk24 dat die Comrades-vereniging (CMA) kennis neem van die uitlating van Nathi Mthethwa, Suid-Afrika se minister van sport, kuns en kultuur, dat dié vereniging “baie onverantwoordelik” optree met sy besluit om vir eers met vanjaar se Comrades op 14 Junie voort te gaan.

Maar hulle het 'n skoon gewete, sê Rowyn James, wedloopdirekteur van die Comrades, in reaksie op die minister se uitlating Dinsdag.

As die situasie in die land met Covid-19 nie verbeter nie, kan die CMA wel besluit om die wedloop – die 95ste sedert 1921 – tot later vanjaar uit te stel.

“Ons (die CMA) is 'n verantwoordelike organisasie. Daar is nie 'n manier dat ons iets sal doen wat teen die wil van Atletiek Suid-Afrika (ASA) en die nasionale regering is nie.

“Ons roem ons daarop dat ons ons beywer vir skoon en verantwoordelike regering,” sê James.

“Onthou, die Comrades is eers oor omtrent drie maande. Die situasie kan nog verander. Daarom is dit te vroeg om nou reeds die wedloop te kanselleer of uit te stel,” sê hy.

Vanjaar se wedloop word vanaf Pietermaritzburg na Durban gehardloop. Meer as 27 000 atlete (onder wie 'n groot getal buitelanders) is reeds vir die wedloop oor 'n afstand van sowat 90 km ingeskryf.

Die Comrades is die grootste ultrawedloop ter wêreld.

Die CMA het vroeër in 'n verklaring gesê hy het besluit om vir eers soos beplan voort te gaan.

Cheryl Winn, voorsitter van die CMA, sê dié organisasie sal op 17 April in oorleg met ASA en Atletiek KwaZulu-Natal weer 'n besluit neem afhangende van die situasie in die land in daardie stadium. As dit nodig is, sal die wedloop tot later vanjaar uitgestel word.

“Die CMA se raad sal optree in die beste belang van die atlete, toeskouers, vrywilligers en die publiek,” sê Winn.

Die organisasie se boodskap aan atlete wat vir vanjaar se Comrades ingeskryf is, is om aan te hou oefen vir dié besonderse wedloop.

Verskeie ander ultrawedlope, soos die Twee Oseane-wedloop oor 56 km in die Kaapse Skiereiland en die Loskop-wedloop oor 50 km tussen Middelburg en die Loskopdam in Mpumalanga, is reeds gekanselleer.

Die Twee Oseane sou oor die Paasnaweek (11 April) gehardloop word, en die Loskop-wedloop op 18 April.

ASA het ook alle atletiekbyeenkomste (padwedlope, veldloopwedlope, bergpadwedlope en baan-en-veldbyeenkomste) vir 'n tydperk van 30 dae verbied, wat in lyn is met die riglyne van die regering.

• Indien die Comrades nie sou plaasvind nie, sal dit die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog wees.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!