Connor druk Marshall met gemak in ’n hoek

Tennis
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Die 16-jarige Connor van Schalkwyk van Namibië, tweede gekeur, het gister in die tweede ronde van die Sanlam o.18 ITF-toernooi by die Sentraal-klub in Windhoek vir Marshall Hulette van Suid-Afrika met groot oortuiging in hul enkelspelwedstryd met 6-0, 6-0 van die baan gevee.

Die Namibiër het sonder oënskynlike inspanning die arme Hulette met sy afslane en verskeidenheid rughand- en voorarmhoue van die agterbaan en by die net moedeloos gehad. Van Schalkwyk was sonder twyfel in ’n ander klas as sy ongekeurde teenstander suid van die Groot Gariep.

Van Schalkwyk het Willem Roosenschoon van Suid-Afrika in die eerste ronde met 7-6 (3), 6-3 uitgeskakel. Hulette het op sy beurt vir Lyle Zaloumis van Zimbabwe in sy openingswedstryd met 2-6, 6-4, 6-4 oorleef om teen Van Schalkwyk op te stap.

Van Schalkwyk, wat deesdae saam met sy ouers in Swede woon en daar sy tennis beoefen, sal vanoggend in die kwarteindstryd teen die vyfde gekeurde Alexander Edley van Suid-Afrika te staan kom. Edley het hom gister byna teen die ongekeurde Brit Josh Manuel vasgeloop wat die eerste stel met 6-1 oorheers het, voordat Edley sy pad terug gevind het met 7-6 en daarna 6-3.

YSSEL UIT

Die ongekeurde Lisa Yssel, die laaste oorblywende meisiespeler van Namibië, is ongelukkig uitgeskakel. Sy moes gisteroggend die knie in haar enkelspelwedstryd teen Tadiwanashe Eunice Mauchi (ongekeur) van Zimbabwe buig. Mauchi het met 6-1, 6-3 geseëvier.

Yssel het wel haar eerste botsing teen Charné Mulder van Suid-Afrika met 6-2, 6-0 gewen. Yssel het egter nie antwoorde vir Mauchi se ervaring en vernuf gehad nie. Mauchi het haar kragmeting teen die ongekeurde Amike Botha van Suid-Afrika ingepalm om na die volgende ronde teen Yssel deur te dring.

Mauchi sal vanoggend in die kwarteindstryd teen die ongekeurde Belgiër Mette Steegmans te staan kom, wat as ’n verrassingspakkie te sterk en te vasberade vir die vierde gekeurde Cayline Le Grange van Suid-Afrika was (6-4, 2-6, 6-3).

Ná Yssel se vertrek is Van Schalkwyk die enigste oorblywende Namibiër wat nog die gasheerland se vlag in die enkelspelwedstryde van die gesogte jaarlikse junior toernooi van die internasionale Tennisfederasie kan laat wapper.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!