Connor opnuut in J4-kwarteind

Nadat hy laasweek tot in die semifinaal gevorder het, is hy opnuut die enigste oorblywende Namibiër.
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Die 16-jarige Connor van Schalkwyk sal vandag by die Sentraal-tennisklub in Olympia in die kwarteind­ronde van die Internasionale Tennisfederasie (ITF) se J4-toernooi vir juniors (onder 18) teen Alexander Edley van Suid-Afrika te staan kom.

Van Schalkwyk, die tweede gekeurde Namibiër, is by verlede week se ITF J5-toernooi hier in die semifinaal uitgeskakel en is vandeesweek opnuut op jag vir die groter ­hoeveelheid ITF-ranglyspunte wat tydens dié week se J4-toernooi op die spel staan.

In Maandag se openingsronde het hy met 6-3, 6-3 verby Batsomi Marobela van Botswana geseil. Gister bêre hy toe die ongekeurde Benjamin Scott (RSA) met 'n ewe gemaklike 6-3, 6-3. Scott het die vorige dag vir Yannick Maser van Duitsland geklop (6-4, 6-1).

Van die Namibiërs het Daniel Jauss Maandag in die eerste ronde met 6-1, 6-3 teen Alexander Watanabe Eriksson van Swede verloor en George Louw is in sy eerste ontmoeting deur Lyle Zaloumis van Zimbabwe met 6-3, 7-5 gestuit.

Jauss en Louw het egter as 'n ongekeurde dubbelspelpaar die vyfde ­gekeurde Suid-Afrikaners Mikaeel Woodman en Leo Matthysen se aanslag beëindig met 'n swaarverdiende sege van 6-4, 4-6, 10-7. In gister se kwarteindronde kon die Namibiërs nie by Adrian Luddeckens en Watanabe Eriksson (beide Swede) verbykom nie (4-6, 6-7).

Dinsdag het Dian Calitz nie antwoorde teen James Edley (sewende gekeur) van Suid-Afrika gehad nie en word met 6-1, 6-0 oordonder. Josh Manuel van Brittanje reken in twee skoon stelle met Sarel Janse van Rensburg van Namibië af.

In vandag se kwart­eindronde kan die vonke spat wanneer die eerste gekeurde Mikaeel Woodman vanaf 09:00 sy Suid-Afrikaanse landgenoot James Edley (nr. 7) beproef, terwyl laasweek se kampioen Connor Kruger (nr. 4) en die ongekeurde Leo Matthysen ook in 'n uitklopstryd tussen Suid-Afrikaners betrokke is. Net een van Alexander Edley (RSA, nr. 5) of Namibië se Van Schalkwyk sal oorleef (begin 09:00), terwyl die ongekeurde Fillipo Martini (Italië) teen die derde gekeurde Anro Nel (RSA) te staan kom.



MEISIES

Namibië se Lisa Yssel het Dinsdag vir Lyndseigh Muller van Suid-Afrika met 6-4, 6-2 oorskadu om tot die tweede ronde te vorder. Charné Boshoff (RSA), wat gister vir Yssel in die tweede ronde met 6-3, 6-0 geklop het, het tevore die sewende gekeurde Eunice Mauchi (Zimbabwe) uitgeskakel om teen Yssel te speel.

In die eerste ronde is Raica Coelho (Namibië) met 6-1, 6-1 deur die agtste gekeurde Carle Botha van Suid-Afrika uitgeskakel, terwyl Elzé Stears (6-0, 6-0) haar teen Marilouise van Zyl van Suid-Afrika in twee skoon stelle vasgeloop het.

Die agt kwarteind-kwalifiseerders is Layla Shoukry (vierde gekeur, Egipte) teen Cayline le Grange (5, RSA); Leigh van Zyl (1, RSA) teen Carle Botha (8, RSA); Chandre Boshoff (RSA) teen Suzanie Pretorius (3, RSA); Tanyaradzwa Midzi (Zimbabwe) teen Sara Pantelic (België).



DUBBELSPEL

In die dubbelspel is Van Schalkwyk saam met Anro Nel (Suid-Afrika) opnuut die topgekeurde paar, nadat hulle ook verlede week se ITF J5-toernooi ingepalm het.

Gister het die twee in hul kwarteindstryd met Eldon Nokic en Alfons Ridstrom, beide van Swede, afgereken (6-3, 6-2). Hul volgende uitdaging vandag sal die vierde gekeurde SA paar Connor Kruger en Willem Roosenschoon wees.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer