Corbyn weerligafleier wat Boris moet troef
Corbyn weerligafleier wat Boris moet troef

Corbyn weerligafleier wat Boris moet troef

’n Bestekopname van waar die twee groot Britse partye ná hul jaarlikse kongresse staan, bied min opbeurende leesmateriaal, skryf Leopold Scholtz.
Leopold Scholtz

Stel jou voor: Twee boksers, gehawend en voos geslaan, met opgeswelde oë en stukkende lippe, hang in mekaar se arms. Te moeg om verder te veg; te bang om ineen te stort as hulle mekaar los.

Dus hou hulle mekaar maar orent.

Dít is dalk die metafoor wat die Britse partypolitiek die beste beskryf. Die afgelope twee weke het die regerende Konserwatiewe Party en die grootste opposisiegroep, die Arbeidersparty, elk sy eie jaarlikse kongres gehou, maar die kiesers kan nie verkwalik word as hulle die twee spektakels dronkgeslaan dopgehou het nie.

Eers was die Arbeiders aan die beurt, ’n party wat tot op die been verdeel is tussen aanhangers van die links-populistiese leier, Jeremy Corbyn, en die gematigde vleuel.

Corbyn is ’n man wat die radikale jeugrevolusie van 1968, wat die Weste destyds tot op sy grondveste geskud het, nooit ontgroei het nie. Hy is die bewaker van die suiwer linkse geluid, wat die kapitalisme as ’n kankergeswel beskou.

Oor die een onderwerp wat die Britse politiek oorheers – Brexit – dans Corbyn soos ’n wafferse diva om die dilemma heen. Op grond van sy sosialistiese oortuigings beskou hy die Europese Unie (EU) as ’n vuige kapitalistiese sameswering, en gevolglik sal hy geen traan stort wanneer Brexit ’n werklikheid word nie.

Dat dit hom verenig met die regs-nasionalistiese vleuel van die Tories, is ’n ironiese feit wat hom nie pla nie. Maar hy kan nie te hard vir Brexit veg nie uit vrees dat dit sy (tradisioneel pro-Europese) party kan skeur.

Op die kongres is gevolglik ’n pragtige (dus niksseggende) kompromis bereik wat almal mooi tevrede gestel het: Alle opsies word oopgelaat, met inbegrip van ’n tweede referendum.

’n Oomblik lank is dié kompromis bedreig deur ’n rusie of dit ’n oop referendum sou wees, en of die kiesers bloot oor die “egskeidingsdokument” sou kon stem. Maar met die keuse vir eersgenoemde is die vrede herstel.

Die afgevaardigdes is huis toe, gesus deur die wete dat die party toe darem nie geskeur het nie dat niks wesenliks opgelos is nie, was te verwagte. Dis die Britse politiek, sien?

Gewete nie iets wat Boris pla

Toe kom die Tories, ’n party wat byna nog nooit in sy geskiedenis só ’n felle onderlinge katgeveg soos nou ervaar nie. Ook hier is Brexit die stuk vleis waaroor die hare waai.

Min of meer alle Konserwatiewe politici lê hulle, onwillig of nie, neer by die referendumuitslag van twee jaar gelede, toe die kiesers naelskraap vir uittrede uit die EU gestem het. Maar oor die besonderhede van die “egskeidingsdokument” bestry hulle mekaar met bitterheid en venyn.

Theresa May, premier van Brittanje, het vroeër vanjaar op ’n spesiale kabinetsvergadering by haar buiteverblyf, Checquers, ’n voorstel goedgekeur gekry wat neerkom op ’n min of meer “sagte” Brexit: Brittanje sou uit die Europese doeane-unie tree, maar deel bly van die gemeenskaplike mark.

Verskeie buite-probleme beduiwel egter die debat oor die saak.

Enersyds voel Michel Barnier van Frankryk,die EU se hoofonderhandelaar oor Brexit, nie veel vir die Checquers-voorstelle nie. Hy word gesteun deur al 27 ander EU-regeringshoofde, en dit hou niks goeds in vir die lewensvatbaarheid van die voorstelle nie.

Volgens die kalender wat vir die onderhandelings geld, moet die regeringshoofde aanstaande week op hul maandelikse spitsberaad ’n besluit oor die saak neem, maar die kans dat dit gebeur, is buitengewoon klein. Vandaar dat May in haar toespraak voor die kongres die moontlikheid van ’n breuk sonder ’n ooreenkoms oopgelaat het.

Maar daar is nog iets meer wat die sop sommer baie sout maak. Dit is die verbete ambisie van die flambojante populis Boris Johnson, wat tot elke prys May se plek wil inneem.

Johnson is uiters sjarmant, iemand wat met sy blonde boskasie ’n beeld van enigsins grappige eksentrieke indruk maak, maar wat as burgemeester van Londen ’n taamlike sukses was. Hy kom weliswaar uit ’n beskeie maatskaplike agtergrond, maar het in Eton en Oxford gestudeer en verskeie geleerde boeke geskryf, onder meer oor die antieke wêreld se erflating vir die mensdom.

Hy word nie gepla deur ’n gewete nie. Hy is as verslaggewer deur The Times afgedank omdat hy ’n storie uit sy duim gesuig het.

Dis as korrespondent vir The Daily Telegraph in Brussel, België, opgevolg deur verskeie artikels waarin hy flagrante leuens verkondig het.

In die Brexit-referendumveldtog was sy toesprake – volgens joernaliste wat dit nagegaan het – ook deurspek van misleidende en selfs leuenagtige feite, veel meer nog as wat normaalweg van politici verwag word.

Nadat hy uit protes teen die Checquers-voorstelle as minister van buitelandse sake bedank het, het hy sy rubriek in The Daily Telegraph gebruik om ’n veldtog teen May van stapel te stuur.

Op die Tory-kongres het hy May se kalklig probeer steel met ’n donderende toespraak waarin hy haar probeer plattrap het – en behoorlike applous daarvoor gekry het.

Maar May het met haar eie toespraak teruggeslaan en hom goed van repliek bedien, sonder om sy naam een keer te noem. Soos The Times dit in ’n hoofartikel gestel het:

“She came to pull her party together as Boris Johnson tries to tear it apart, and she made a decent fist of it. She came to switch Conservatives’ attention away from the psychodrama of Brexit and put Jeremy Corbyn in their cross hairs instead. Insofar as conference speeches make a difference to anything, she succeeded.”

Corbyn in Downingstraat 10?

Corbyn was inderdaad die weerligafleier wat May gebruik het. Die belangrikste deel van haar toespraak het hierop neergekom: Mense, as julle Boris sy sin gee, kan Corbyn solank sy tasse pak om in Downingstraat 10 uit te pak.

En dít is ’n skrikbeeld wat vir verreweg die meeste Tories voldoende is om Johnson – dalk voorlopig – eenkant toe te skuif en agter May te gaan staan. Die radikale sosialis Corbyn wat in die premier se ampswoning nes skop, is genoeg om enige Tory permanente maagpyn te gee.

Sommige berigte lui dat sekere van haar ministers agter die skerms te kenne gegee het May sal tot die volgende verkiesing geduld word, maar nie langer nie. Wat daarop dui dat die onderlinge verdeeldheid nie opgelos is nie; slegs uitgestel.

Twee kongresse, twee tot op die been verdeelde partye, twee onopgeloste magstrydperke.

Welkom in die Britse politiek.

* Dr. Leopold Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!