Corona: 'Almal weet presies wat om te doen'
Corona: 'Almal weet presies wat om te doen'

Corona: 'Almal weet presies wat om te doen'

Namibië is nou een van sewe lande in Afrika, waarvan twee buurlande is, waar gevalle vermoed word.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Die simptome van die 30-jarige vrou wat in die staatshospitaal op Swakopmund in isolasie is weens 'n vermoede van die coronavirus, strook nie met die standaardprofiel van die siekte nie.

Volgens die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS), mnr. Ben Nangombe, is sy weens haar internasionale reisgeskiedenis as voorsorgmatreël geïsoleer en omdat sy onder meer 'n loopneus en hoes het.

“Volgens internasionale riglyne is besluit om eerder voorkomend op te tree en haar te isoleer. Ons wil nie kanse vat nie,” het Nangombe gesê.

Die vrou het van Australië af via Doha na Namibië gereis en die land deur die Internasionale Lughawe Hosea Kutako binnegekom.

Australië het teen druktyd 12 bevestigde gevalle van die coronavirus gehad: vier in Nieu-Suid-Wallis, vier in Victoria, twee in Suid-Australië en twee in Queensland.

Volgens Nangombe bly die vrou in isolasie totdat die uitslae van toetse wat gedoen is, ontvang is. Die inkubasietydperk van die siekte is twee weke. Monsters is vir ontleding na Suid-Afrika gestuur en volgens Nangombe kan dit tot twee weke duur voor die uitslae ontvang word.

Planne is word beraam om die uitslae te bespoedig.

Op 'n vraag of alle private en staatshospitale in die land gerat is om moontlike gevalle van die virus te isoleer en te behandel, het Nangombe gesê standaardprotokol soos bepaal deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) geld.

“Almal is hiervan in kennis gestel.

“Hulle weet hoe om dit te hanteer en weet presies wat om te doen.”

Met verwysing na die behandeling van bevestigde gevalle van die coronavirus, waarvoor daar tans geen entstof bestaan nie, het Nangombe gesê ook hier is riglyne in plek.

“Standaardprotokol is in plek wat gesondheidsgeriewe en personeel lei oor die regte prosedure en behandeling om te volg.”

Namibië is nou een van sewe lande in Afrika, waarvan twee buurlande is, wat vermoedelike gevalle van die virus aangeteken het.

Die ander lande waar gevalle vermoed word, is Bo­t­swana (5), Ekwatoriaal-Guinee (4), Sudan (2), Angola (1), Ivoorkus (1) en Ethiopië (4).

In nie een van die lande het toetse reeds bevestig die inwoners het die coronavirus onder lede nie.

Die WHO het op 31 Januarie 13 lande in Afrika geïdentifiseer wat 'n risiko vir die coronavirus loop.

Dit sluit in Algerië, Angola, Ivoorkus, die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), Ethiopië, Ghana, Kenia, Mauritius, Nigerië, Suid-Afrika, Tanzanië, Uganda en Zambië.

Dié lande het of direkte bande met China of hanteer 'n groot volume reisigers na China.

Afrikalande wat vlugte na en van China gekanselleer het, sluit in RwandaAir, Kenya Airways, Royal Air Maroc, EgyptAir, Air Madagascar en Air Mauritius. Air Tanzania het sy nooiensvlug na China uitgestel.

Die WHO het die uitbreking Donderdag tot 'n internasionale krisis verklaar, maar bygevoeg wêreldwye handels- en reisbeperkings is onnodig.

In Suid-Afrika het prof. Wolfgang Preiser, hoof van die departement virologie en patologie aan die Universiteit Stellenbosch, gesê be­skikbare navorsing dui daarop dat net 2% van mense wat die virus opdoen, daaraan doodgaan, berig Netwerk24. Volgens Preiser kan dit selfs minder wees.

“Dis belangrik om in gedagte te hou die virusse wat regtig gevaarlik is en baie mense doodmaak, soos ebola, versprei nie baie maklik nie.

“Met die ebolavirus is 'n mens se kans om dood te gaan as jy die virus kry, ongeveer 70%.”

Die meeste van die mense wat aan die siekte gesterf het, het swak weerstand of reeds 'n ander kwaal gehad, sê Preiser.

Jong, gesonde mense met goeie weerstand het 'n goeie kans om die virus te oorleef. Dit duur sowat 14 dae ná oordrag voordat die simptome (soortgelyk aan dié van griep en verkoue) na vore kom.

Die Filippyne het Sondag die eerste sterfte buite China weens die virus aangemeld.

Dit is die eerste dood uit meer as 130 gevalle wat in 25 lande en streke buite die vasteland van China aangemeld is.

Teen druktyd het die aantal lande met bevestigde gevalle van die virus op 25 gestaan, terwyl die getal bevestigde sterftes wêreldwyd 305 is.

Die aantal bevestigde gevalle wêreldwyd het op 14 553 gestaan.

[email protected]

(Bykomende bronne: Netwerk24/health.gov.au/Pharmaceutical-technology.com/edition.cnn.com/africatimes.com)

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!