Corona-littekens lu00ea diep
Corona-littekens lu00ea diep

Corona-littekens lê diep

Ronelle Rademeyer
Terwyl die Erongostreek asem ophou oor die verslapping van sy fase 1-inperkingstatus binnekort, hoop die res van die land hulle sal wel op 29 Junie in fase 4 wakker kan word.

In die oorweging hiervan, is die volgende bewese feite.

Met ’n infeksiekoers van 0,0014% van die Namibiese bevolking van nagenoeg 2,5 miljoen mense en geen sterfte tot dusver nie, vaar die regering op gesondheidsgebied uiters goed.

Die krisis in hierdie stadium is nie hospitale vol siek Covid-19-pasiënte nie. Die krisis is ons ekonomie wat spreekwoordelik in die intensiewesorgeenheid aan ’n ventilator gekoppel is.

Mense se oorlewing is in hierdie stadium om ’n ander rede as die coronavirus in gedrang. Huishoudelike voedselsekerheid is op kritieke vlakke.

Die uitvoerende direkteur van landbou, water en grondhervorming, mnr. Percy Misika, het twee maande gelede al gewaarsku meer as 700 000 mense in die land word vanweë die uitgerekte droogtes as voedselonseker geklassifiseer, en weens die Covid-19-pandemie gaan die situasie net erger word.

Die hoof van die Wêreldvoedselprogram (WFP), mnr. David Beasley, het in April gesê die wêreld stuur op ’n hongerpandemie af.

Volgens hom staar “veelvuldige hongersnood van Bybelse omvang” die wêreld in die gesig en stuur die mensdom op “’n omvangryke humanitêre katastrofe” af.

Wat ons nodig het, is ’n oop samelewing waarin sakebedrywighede ongehinderd kan voortgaan, streng grensbeheer met ’n sorgvuldige kwarantynstelsel en landsburger wat hul eie beskerming en dié van ander ’n leefwyse maak.

Dit help nie ons hou ons mense gesond, maar hulle sterf weens hongersnood nie.



SO SÊ ANDER

Netwerk24, 17 Junie 2020

Red nou hierdie nuwe verlore generasie

Met die viering van Jeugdag Dinsdag, 44 jaar ná 16 Junie 1976, kom ’n sterk tweevoudige betekenis aan dié dag weer na vore. Veral in konteks van die #BlackLivesMatter-veldtog, is dié dag van historiese én hedendaagse belang.

Enersyds moet ’n mens terugstap op die voetspore wat gelei het tot die geboorte van die demokratiese Suid-Afrika op 27 April 1994 – naas 16 Junie 1976 bepaald een van die belangrikste dae in die geskiedenis van die moderne Suid-Afrika.

Andersyds moet erken word dat die nuwe Suid-Afrika nog nie naastenby voldoen aan die opvoedkundige en ekonomiese strewes van jong Suid-Afrikaners nie.

Die jeug in Suid-Afrika is in ’n krisis met hoë werkloosheid en ’n algemeen uitsiglose maatskaplik-ekonomiese omgewing. Jeugwerkloosheid word op meer as 60% geraam.

Kortweg, 44 jaar ná 16 Junie 1976 sit ons met nog ’n verlore generasie. Gee ons genoeg om vir dié generasie? Maak hul lewe en toekoms genoeg saak? En wat sê dit van ’n vakbond soos Sadou, wat elke belangrike maatreël om onderrig in Suid-Afrika te verbeter eenvoudig dwarsboom?

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer