Corona pootjie oliestoor verder
Corona pootjie oliestoor verder

Corona pootjie oliestoor verder

Die ministerie ondersoek ongerymdhede rondom ’n grondtransaksie deur ’n Chinese kontrakteur.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die voltooing van Namibië se omstrede oliebergingsaanleg by Walvisbaai se hawe is weer eens vertraag – dié keer deur die coronavirus wat keer dat spesialiste uit China kan terugkeer om die toetsing van die projek finaal af te handel.

Dít volgens mnr. Tom Alweendo, minister van myne en energie, toe hy hom gister oor die projek uitgespreek het.

Die kabinet het Alweendo se ministerie verlede week opdrag gegee om die kwessie te ondersoek.

Die oliestoorprojek ruk Namibië aan die sak sedert hy in 2008 vorm aangeneem het, met kostes wat van N$900 000 tot N$5,5 miljard gestyg het.

Die ondersoek moet bepaal waarom die stoor se hoogte nie oral in finansiële verslae ooreenstem nie, en of inligting dalk onwettig gelek is, wat die kontrakteur bykomende grond laat aankoop het.

Die regering is vir die koste van dié grond verantwoordelik.

Alweendo het gesê die oorspronklike plan is voorgestel toe Namibië slegs sewe tot 10 dae se vraag na brandstof plaaslik kon stoor.

“Daar was geen sekerheid oor die vermoë om te voorsien indien iets sou gebeur nie,” het hy gesê.

“Ons moes bergingskapasiteit vergroot,” het hy gesê.

Sodra die nuwe stoor voltooi is, sal Namibië tot 30 dae se aanvraag in die 750 miljoen l-tenks kan stoor.

Volgens die minister het die regering aanvanklik nie besef presies wat die bou van die nuwe stoor sou behels nie.

Alweendo sê die N$900 000 was slegs om die tenks en ’n pyplyn van die hawe af te bou. Later is ontdek die kaai waar olieskepe brandstof moet aflaai, is te oud en klein.

“Ons het besluit om ’n nuwe kaai en bykomende pyplyne te bou. Dit het die prys na N$3,7 miljard opgestoot teen die tyd wat die kontrak in 2014 toegeken is,” het hy gesê.

Die kontrak is toe deur die ou tenderraad aan ’n gesamentlike onderneming tussen China Harbour Engingeering en Namibiese vennote Babyface Civils en Roads Contractor Company (RCC) toegeken.

Daar is ooreengekom 80% van die kontrakprys sou in Amerikaanse dollar betaal word en 20% in Namibiese dollar, omdat die meeste van die vereisde toerusting en materiaal nie plaaslik beskikbaar was nie, het Alweendo gesê.

Wisselkoersaanpassings het die projekkostes ook aansienlik opgejaag, het hy gesê.

Tydens die bou van die oliestoor het ’n geskil oor die buitelandsevaluta-ooreenkoms gelei tot ’n ondersoek deur die Teenkorrupsiekommissie (ACC), wat steeds nie voltooi is nie.

Verder het die aanvraag vir bykomende pyplyne, bykomende grond en ’n beter brandbestrydingstelsel kostes verder opgejaag tot die huidige N$5,5 miljard, het die minister gesê.

Vertragings het die impak van wisselkoersskommelinge vererger.

Aanvanklik sou die oliestoor teen April 2017 voltooi wees.

Weens die toevoeging van bykomende aspekte is dit tot 2018 uitgestel, en weer tot Februarie 2020.

Die wêreldwye pandemie wat die nuwe coronavirus veroorsaak het, het voltooiing verder vertraag.

’n Nuwe datum vir die voltooiing van die projek word tans bepaal, terwyl die ministerie ander bronne van vaardighede as China oorweeg.

Alweendo se amptenare moet die kabinet tevrede stel oor moontlike ongerymdhede wat ’n onlangse oudit van die projek se finansies getoon het.

PricewaterhouseCoopers se ouditverslag dui aan dis moontlik dat sowat N$260 000 te veel betaal is en dat BTW verkeerd bereken is.

Die grondkwessie is ook uitgelig.

Alweendo het gesê die bou van nuwe olietenks het bykomende grond vereis en agterdog het ontstaan omdat dié grond reeds deur die Chinese kontrakteur aangeskaf is sonder die regering se kennisname.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer