Corona vs. Ears – hierdie keer is dit anders
Die jongste coronavirus raak veel meer sektore van die ekonomie as hoenderplase en toerisme.
Mike Schüssler – Te midde van die Ears-pandemie van 2002 tot 2004 het China se ekonomiese groei met 1,1 persentasiepunt ingekrimp en dié van Hongkong met 2,6 persentasiepunte.
Dit het wêreldwye ekonomiese groei effens laat verlangsaam, met tussen sowat 0,2 persentasiepunt en 0,4 persentasiepunt.
Minder as 9 000 mense het oor dié tydperk Ears – ernstige akute respiratoriese sindroom – opgedoen en dit het die sektore vir reis, toerisme en ontspanning geraak.
Vervaardiging is nie so erg geraak nie en gevolglik het die neigings in kommoditeitspryse nie verander nie.
Byna 10% van die mense wat Ears opgedoen het, het gesterf, wat daarvan ’n redelik dodelike virus gemaak het. Dit het egter nie so vinnig versprei nie.
Die jongste coronavirus het met die skrywe hiervan reeds byna 10 000 mense in minder as twee weke platgetrek. Hiervan is 213 dood en nog 670 is ernstig siek. Die sterfpersentasie is tot dusver minder as 3%, maar die verspreidingskoers is 50 keer vinniger as dié van Ears.
China moes baie vinnig optree en het ekstra vakansiedae oor die Chinese Nuwejaar ingestel sodat mense tuis kan bly. Die afgelope week is byeenkomste gekanselleer en fabrieke gesluit.
Sommige provinsies soos Shanghai en Hubei het sakeondernemings gevra om sowat twee weke lank gesluit te bly. Ekonomies gesproke beteken dit sowat 4% van die totale beskikbare produksietyd word uit die Chinese ekonomie gehaal. Die jongste coronavirus raak dus veel meer sektore van die ekonomie as hoenderplase (waar Ears begin het) en toerisme. Dit strek nou na vervaardiging en kleinhandel, wat veel ’n groter inkomste en waardetoevoeging in China lewer as toerisme en hoenderboerdery.
Boonop is sowat 60 miljoen Chinese inwoners feitlik onder kwarantyn, wat beteken hulle gaan nie werk of skool toe nie, en gaan doen nie inkopies nie behalwe om noodsaaklike voorraad te koop.
Jongste virus se impak veel groter
’n Mens kan nie bespiegel hoe lank die siekte sal woed of wat die mediese impak sal wees nie, maar daar is reeds ’n paar verskille tussen wat nou gebeur en die Ears-pandemie in 2004.
In 2004 was China verantwoordelik vir 8,6% van die totale waarde wat in die wêreld se vervaardigingsektor geskep is. Teen 2018 was dit 28,2% en dit sou vanjaar 30% kon haal. Met byna 30% van die wêreld se vervaardiging wat vir tussen 1,2% en 4,5% van die totale beskikbare produksietyd gesluit is, sal die impak van die jongste coronavirus op die ekonomie veel groter wees.
In 2000 was China se besteding aan internasionale toerisme minder as 6%. Dit was in 2016 soveel as 21%. Die virus se impak op wêreldtoerisme sal dus sowat drie keer groter wees.
Vir Suid-Afrika is China nog ’n relatief klein mark, met sowat 9 000 Chinese toeriste per maand wat oor die laaste paar maande na Suid-Afrika gekom het. In 2003 was dit 4 600 per maand, wat die volgende jaar deels weens Ears tot 4 200 gedaal het. ’n Daling van nog 10% of selfs 20% sal net ’n marginale impak op die Suid-Afrikaanse toerismesektor hê.
Maar dit is in die handel waar die impak gevoel sal word. In 2004 het Suid-Afrika R6,6 miljard se goedere na China uitgevoer. In 2018 was dit R105,5 miljard. China het 2,2% van alle Suid-Afrikaanse uitvoer gekoop in 2004, maar dit het nou gegroei tot byna 9% van alle Suid-Afrikaanse uitvoer.
As China se ekonomiese groei verlangsaam, sal Suid-Afrika dus die impak oral voel – van ystererts tot wyn en neute.
Handel sal natuurlik voortgaan, maar as sowat R5 miljard se handel verlore gaan, sal dit Suid-Afrika se BBP met 0,1 persentasiepunt verklein. In 2004 was die impak op handel minder, maar die groot verskil was dat die ekonomie toe teen 5% gegroei het. Dit het toe baie min saak gemaak dat Suid-Afrika 0,025 persentasiepunt van sy handel verloor het, en die ekonomie het hom nie veel daaraan gesteur nie.
Maar in 2020 word verwag dat die Suid-Afrikaanse ekonomie teen minder as 1% sal groei. (Die Internasionale Monetêre Fonds voorspel groei van net 0,8%.) Om dus ’n verdere inkrimping van 0,1% te kry, beteken ’n agtste van die groeipotensiaal is net weg.
Finansiële krisis lê op loer
Die impak van die virus via fabrieksluitings kan boonop die pryse van ystererts, chroom en steenkool afdruk. Dit is belangrike kommoditeite vir die plaaslike ekonomie, en kan nog 0,1 persentasiepunt van die ekonomiese groei snoei.
Suid-Afrika kan dus op koers wees na selfs laer groei in so ’n omgewing.
China was in 2004 ’n snelgroeiende ekonomie. Dit is in 2020 steeds ’n groei-ekonomie, maar dit groei nie so vinnig soos voorheen nie. Staatsbeheerde ondernemings in China het groot lenings aangegaan om aan die gang te bly. Teen einde 2002 was die totale skuld in China 145,7% van die bruto binnelandse produk (BBP), en die skuldlas het daarna effens gestyg, deels weens Ears. Maar in 2018 was China se totale skuld 261% van die BBP en dit groei steeds terwyl die ekonomiese groei verlangsaam.
Dié skuldgevaar kan weer eens ’n werklike finansiële krisis skep. Sentrale bankiers lê snags wakker hieroor. Die wêreld se skuldlas word groter, maar rentekoerse is so laag dat verdere rentekoersverlagings die struktuur van die hele wêreldekonomie kan beskadig.
Dit kan ’n einde bring aan die effekteborrel, en opbrengskoerse kan weer styg namate beleggers besluit dit is minder riskant om kontant in die kluis te hou as om verliese in die bank te ly.
Wanbetalings op Chinese skuld is een faktor wat vir die eerste keer in twee generasies wêreldgroei tot op 0% kan laat daal.
Die jongste coronavirus is dalk nie so dodelik soos Ears nie, maar die verspreiding daarvan en die vrees daaroor kom op ’n verkeerde tyd in die ekonomiese siklus. Die tydsberekening en die omvang van China se impak kan die wêreldekonomie ontrafel.
Suid-Afrika sal die impak voel, en met die reeds hoë werkloosheidskoers sal die land sukkel.
Maar dit is natuurlik die ergste scenario en nog nie ’n werklikheid nie. Suid-Afrika se groei sal egter wel negatief geraak word – die enigste vraag is hoe erg dit sal wees.
· Mike Schüssler is ’n onafhanklike ekonoom en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar kompetisie.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie