Coronavirus: IMF waarsku oor ekonomiese impak
Coronavirus: IMF waarsku oor ekonomiese impak

Coronavirus: IMF waarsku oor ekonomiese impak

Ongeveer 'n derde van die wêreldekonomie se verliese kan regstreeks aan die siekte toegeskryf word, sê dié liggaam.
Hanlie Stadler



Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) stel US$50 miljard se lenings aan lidlande beskikbaar om die coronavirus ­(covid-19) te help bestry.

Daarvan sal US$10 miljard teen 0% rente aan arm lande geleen word indien hulle daarvoor vra.

Die geld word beskikbaar gemaak deur die IMF se program vir vinnige krediet, wat in die geval van rampe ingestel word.

Dit was die belangrikste hulp wat Kristalina Georgieva, ­besturende direkteur van die IMF, en David Malpass, president van die Wêreldbank, Woensdag op 'n nuuskonferensie aangekondig het.

Georgieva het beklemtoon dat die siekte baie vinnig versprei. “Met meer as 'n derde van ons lede (die IMF het 189 lidlande) wat regstreeks geraak word, is dit nie meer 'n ­streekprobleem nie – dis 'n wêreldwye probleem wat 'n wêreldwye reaksie vereis.

“Ons weet dit sal uiteindelik tot 'n einde kom, maar ons weet nie hoe vinnig dit sal gebeur nie.”

Georgieva sê ongeveer 'n derde van die wêreldekonomie se verliese kan regstreeks aan die siekte toegeskryf word: Die lewensverlies, die sluiting van fabrieke en die verlies aan besteding weens kwarantyn.

Die ander twee derdes is onregstreeks in die vorm van 'n afname in verbruikersvertroue, 'n ­verandering in ondernemings se optrede en ­probleme op die finansiële markte.

“Die goeie nuus is dat die ­finansiële stelsels nou veerkragtiger as voor die wêreldwye finansiële krisis (van 2007-'08) is. Ons grootste uitdaging op hierdie oomblik is om die onseker­heid te hanteer.”

Georgieva het gesê dit is 'n gegewe dat wêreld- ekonomiese groei in 2020 swakker as in 2019 gaan wees.

“Hoe ver dit gaan val, en vir hoe lank, is moeilik om te voorspel. Dit sal van die epidemie afhang, maar ook op die tydigheid en doeltreffendheid van ons optrede.”

Lande se belangrikste reaksie is om gesondheidstelsels te versterk ten einde siek mense te versorg en die verspreiding van die virus te bekamp.

Sy het regerings ook ­aangemoedig om enige stappe te doen wat die ekonomiese skok van die virus kan “verkort en versag”.

Hulp aan sektore wat onder druk verkeer, soos toerisme en vervaardiging, word aangemoedig.

Met verwysing na toegang tot krediet wat verseker moet word, het sy by ­implikasie gesê dit is nou 'n goeie tyd om rentekoerse te verlaag.

Die Federale Reserweraad van die VSA en die Bank van Kanada het reeds die afgelope week as 'n noodmaatreël rentekoerse verlaag.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!