Covid-19: 2de golf verswelg stelsels

Die gesondheidsminister het bevestig dat Namibië nie binnekort Covid-19-kitstoetse by grensposte gaan gebruik nie.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – Die tweede golf van Covid-19-gevalle en die aansienlike toename in reisigers het veroorsaak dat die aanvraag na Covid-19-toetsing skerp gestyg het.

Pathcare Namibia het egter die besluit geneem om hul Covid-19-toetsing vir reisigers te verminder aangesien hulle “hoofsaaklik 'n kliniese laboratorium” is.

Die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, mnr. Ben Nangombe, het gister aan Republikein gesê dat Pathcare se beperkte toetsings ’n groot probleem veroorsaak.

“Dit is ’n groot uitdaging om die aantal reisigers te toets en hul uitslae betyds te lewer sodat dit binne 72 uur gewys kan word. Baie mense moes al hul reisplanne kanselleer,” het hy gesê.

Volgens Nangombe is daar ’n vertraging van sowat 72 uur in die Namibiese Instituut vir Patologie (NIP) se uitslae en sal heel moontlik nie betyds gelewer kan word nie.

“Ons maak grootliks staat op private instellings om reisigers te toets,” het Nangombe gesê.

Nangombe het egter verseker dat hulle met private instellings vergader oor die moontlikheid van bykomende toetsgeriewe.

Toetsdata wys net 1 436 monsters is Maandag verwerk. Hierdie uitslae is gister aangekondig.Sondag is 2 676 monsters verwerk (62 hertoetse ingesluit). Die syfer was digby die rekord van 2 707 monsters wat op 18 September vanjaar op een dag getoets is.Ons grafika by die berig wys meer besonderhede oor toetse en nuwe gevalle. Sowat 50 van daaglikse toetse is hertoetse.

Die regering gaan ook nie binnekort Covid-19-kitstoetse by grensposte gebruik om reisigers te toets nie.

Die regering het voorheen gesê kitstoetse sal in die land beskikbaar gestel word, maar volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, word dit nog nie in die land gebruik nie.

Hoewel Shangula gister erken het dat dié toetse by grense die druk op private instellings sou verminder, hulle nie binnekort van kitstoetse gebruik sal maak nie.

“Die kitstoetse is nie akkuraat nie. Die toetse tel nie altyd vroeë gevalle op nie. Ons sal eerder gebruik maak van die huidige polimerase kettingreaksie- of PCR-toetse, want ons het vertroue dat die uitslae akkuraat is,” het hy aan Republikein gesê.

Verskeie lande onder meer ons buurland, Suid-Afrika, gebruik kitstoetse by grense omdat die uitslae binne 15 tot 30 minute beskikbaar is. Buiten dat dit vinniger is, is dit ook makliker om te gebruik en goedkoper as PCR-toetse.

Die gesondheidsminister spreek die land vanoggend om 10:00 toe vanaf Staatshuis. Verlede week is gewaarsku so 'n aankondiging sal met bykomende maatreels gepaard gaan.

VERKLARING

Pathcare sê in ’n verklaring toetse gaan beperk word aangesien hulle nie die kapasiteit het om in die aanvraag te voldoen nie.

Dit kom ná ’n agterstand in toetsing waar die uitslae nie betyds verwerk kon word voor reisigers se beplande datums om die land te verlaat nie.

Volgens die verklaring is die tweede golf veel erger as die eerste een en is hospitale onderdruk.

“Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor ons pasiënte. Hulle is ons eerste prioriteit,” lui die verslag.

“Ons personeel werk 24/7 en doen dit al maande lank en sal voortgaan om elke dag soveel toetse as moontlik te verwerk. Ons kan slegs ongeveer 200 monsters elke 8 uur toets, en soms het die masjiene tegniese probleme wat daartoe lei dat ons 'n toetslopie moet herhaal. Dit beïnvloed verder ons vermoë om al die toetse af te handel,” aldus Pathcare.

Republikein het voorheen berig, volgens dr. Frans Colesky van Pathcare Namibia, ontvang Pathcare geen subsidie van die staat of skenkings van ander instellings om dié diens aan te bied nie.

Pathcare het ’n aanlyn besprekingstelsel geïmplementeer in ’n poging om toetsing te vergemaklik. Instapdienste is gestaak en mense moet aanlyn bespreek voor hulle vir toetsing gaan.

Gister is net 330 nuwe gevalle bevestig in vergelyking met 585 die vorige dag, ofte wel 44% minder. Die aantal monsters wat getoets is, was 46 minder. Die werklike toename in nuwe positiewe gevalle is dus veel meer as wat aangekondig word.

In Windhoek is 228 nuwe gevalle. Die hoogste ander syfers is 22 in die Lüderitz-distrik, 15 in die Oshanastreek (Oshakati-distrik) en 11 in die Tsumeb-distrik.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!