Covid-19-brokkies

Asemklikkers vir eers uit, sê polisie

Enigiemand wat vermoedelik onder die invloed van alkohol bestuur, sal vir eers nie aan ’n asemklikker onderwerp word nie.

Almal sal na ’n hospitaal geneem word waar hul bloed getrek sal word.

So sê die Namibiese polisie én die stadspolisie.

Adj.komm. Kauna Shikwambi, die nasionale polisiewoordvoerder, sê die gebruik van dié toestelle is opgeskort weens die uitbreking van Covid-19.

Sy sê aangehoudenes in polisieselle mag ook nie in dié stadium enige besoekers ontvang nie.

Beamptes by grensposte en lughawens word tans toegerus met ontsmetmiddels, handskoene en maskers, sê Shikwambi.

Sy sê voorsorg word ook getref waar lede van die publiek se vingerafdrukke geneem moet word.

Indien iemand nie dringend dié dienste benodig nie, moet hulle liefs wag tot ná die 30 dae-tydperk, vra Shikwambi.

Sers. Fabian Amukwelele, ’n woordvoerder van die stadspolisie, sê verdagtes sal aangemoedig word om vrywillig in vangwaens te klim.

Indien hulle weier, sal die minimum dwang gebruik word, sê hy.

Beamptes wat mense in hegtenis moet neem, sal handskoende dra, sê Amukwelele.

Hy sê hoewel hul hoofkantoor gister gesluit was, is dit sedert vanoggend weer oop.

Howe bly oop

Beskuldigdes wat nie vir hul hofsittings opdaag nie, word deur inhegtenisneming in die gesig gestaar.

Boonop kan dié mense hul borggeld verbeur.

So sê die woordvoerder van die regbank, mnr. Ockert Jansen.

Hy sê landdroshofsessies het gister om 14:00 hervat, terwyl hoërhofsittings om 15:00 hervat het. “Om die administrasie van geregtigheid te verseker, wil die regbank hiermee duidelikheid gee dat dienste by howe landswyd ononderbroke sal voortduur.”

Volgens Jansen het die tydelike sluiting van howe Maandag ten doel gehad om maatreëls in werking te stel om blootstelling aan die Covid-19-virus vir personeel en besoekers te beperk.

Dit sluit “normale higiëniese maatreëls” in, sê hy.

Hy sê dienste wat landdroshowe lewer, soos onderhoudnavrae, huweliksbevestigings, aansoeke om beskermingsbevele, betaling van borgtog en ander betalings, duur voort.

Bemiddelings en taksering is steeds tot 27 Maart opgeskort, sê Jansen.

Volgens hom duur ander hoërhof- en hooggeregshofdienste ook voort.

Parlement gaan voort

Ondanks die presidensiële verbod op groot saamtrekke gaan die Nasionale Vergadering (NV) se sessies voort.

Só sê mnr. David Nahogandja, parlementêre woordvoerder.

Hy sê hulle het gister vergader en besluit NV-sessies word vandag hervat om wetsontwerpe te finaliseer voor die termyn van die sesde parlement vandeesweek ten einde loop.

Nahogandja sê hulle het ook besluit om die nuwe parlement se inhuldiging nie te kanselleer nie.

Dié geleentheid vind steeds Vrydag om 09:00 plaas, sê hy.

Hul induksieprogram sal ook steeds tussen 23 en 27 Maart plaasvind.

Nahogandja sê alle besoeke deur skoolgroepe en toeriste aan die NV is gestaak.

“Dit het ten doel om die verdere verspreiding van die virus te keer.”

Nagondja het ’n beroep op alle LP’s, personeel en lede van die publiek gedoen om gehoor aan die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se riglyne oor Covid-19 te gee.

Geen tronkbesoeke (vir eers) toegelaat

Gevangenes in Namibië se korrektiewe instellings spring nie die impak van Covid-19 vry nie.

Die woordvoerder van die die Namibiese Korrektiewe Dienste (NCS), me. Laimi Hainghumbi, sê hulle het alle besoeke aan gevangenes opgeskort.

Sy sê dié nuus is reeds aan oortreders oorgedra.

Komm.genl. Raphael Hamunyela, NCS-baas, is tans besig om aan “finale maatreëls” te werk, sê Hainghumbi.

Sodra dié plan afgehandel is, sal meer inligting gekommunikeer word, sê sy.

Robert Mugabe-kliniek vir behandeling ingerig

Spesiale geriewe word by die Windhoek Sentrale Hospitaal ingerig vir Covid-19-pasiënte met vinnig ontwikkelende simptome. Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS), dr. Kalumbi Shangula, is dit deel van Namibië se noodbestuurplan vir Covid-19. Die plan sluit ook isolasiegeriewe in wat by die mobiele militêre veldhospitaal by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako opgerig word. Die Robert Mugabe-kliniek in Windhoek gaan ook in behandelingsgeriewe vir Covid-19-pasiënte omskep word. Tydelike geriewe word ook in die hoofstad ingerig vir die behandeling van pasiënte wat minder ernstige simptome toon.

NWR verleng spesiale aanbod

Namibia Wildlife Resorts (NWR) verleng sy spesiale aanbod van 70%-afslag tydens Maart vir Onafhanklikheidsvieringe na April.

Met sommige kliënte wat hul besprekings weens Covid-19 verander of gekanselleer het, het NWR besluit om sy kanselleringsbeleid te verander.

"As ’n maatskappy erken ons Covid-19 sal ’n direkte impak op ons besigheid in die komende maande hê, daarom verleng ons ons 70%-Onafhanklikheidsafslag tot April,” sê NWR se waarnemende besturende direkteur, dr. Matthias Ngwangwama.

“Met die maatreëls wat die staatshoof ingestel het, word van NWR verwag om personeel en gaste te beskerm. Ons verseker ons oorde voldoen aan streng higiëniese standaarde.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!