Covid-19-brokkies

Robert Mugabe-kliniek vir behandeling ingerig

Spesiale geriewe word by die Windhoek Sentrale Hospitaal ingerig vir Covid-19-pasiënte met vinnig ontwikkelende simptome. Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS), dr. Kalumbi Shangula, is dit deel van Namibië se noodbestuurplan vir Covid-19. Die plan sluit ook isolasiegeriewe in wat by die mobiele militêre veldhospitaal by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako opgerig word. Die Robert Mugabe-kliniek in Windhoek gaan ook in behandelingsgeriewe vir Covid-19-pasiënte omskep word. Boonop word tydelike geriewe in die hoofstad ingerig vir die behandeling van pasiënte wat minder ernstige simptome toon.

NWR verleng spesiale aanbod

Namibia Wildlife Resorts (NWR) verleng sy spesiale aanbod van 70%-afslag tydens Maart vir Onafhanklikheidsvieringe tot April.

Met sommige kliënte wat hul besprekings weens Covid-19 aangepas of gekanselleer het, het NWR besluit om sy kanselleringsbeleid te verander.

"As ’n maatskappy erken ons Covid-19 sal ’n direkte impak op ons besigheid in die komende maande hê, daarom verleng ons ons 70%-Onafhanklikheidsafslag tot April,” sê NWR se waarnemende besturende direkteur, dr. Matthias Ngwangwama.

“Met die maatreëls wat die staatshoof ingestel het, word van NWR verwag om personeel en gaste te beskerm. Ons verseker ons oorde voldoen aan streng higiëniese standaarde.”

Shifeta: Toerismebedryf moet positief bly

Nampa berig die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het ’n beroep op rolspelers in die toerismebedryf gedoen om te midde die Covid-19-uitbreking optimisties te bly.

“Dit is nou die situasie en ons voel reeds die impak. Ons is ’n klein ekonomie en ons het klein besighede wat van ’n dag-tot-dag inkomste afhanklik is. As daar geen inkomste is nie, kan dit tot werksverliese lei,” sê hy.

“Dit maak ons negatief, maar ons moet positief bly.”

Hy meen dit sal oorwaai, “maar intussen moet ons maatreëls hê om die impak te verminder”.

Namibië Wetenskaplike Vereniging gesluit

Die Namibië Wetenskaplike Vereniging sê ter wille van die publiek se veiligheid volg hulle die amptelike aanbeveling om biblioteke te sluit en geen vergaderings of byeenkomste vir die volgende 30 dae te hou nie. Geen openbare lesings sal van nou tot Paasfees plaasvind nie en die biblioteek en argief is gesluit.

Kunstefees gekanselleer

Die Oppiwater-kunstefees wat van 5 tot 10 April op die MSC Orchestra aangebied sou word en van Kaapstad af ook Lüderitz en Walvisbaai sou besoek, is na 25 tot 30 Januarie 2021 uitgestel. Die organiseerders, RSG, Lefra Produksies en MSC Cruises het dié besluit aangekondig. Alle besprekings word outomaties na die nuwe datums oorgedra. Vir die jongste inligting oor die fees, besoek www.oppiwater.co.za. Vir navrae oor kajuitbesprekings, skakel +27087 630 0333.

CCN sê oor gedenkdienste, begrafnisse

Die Raad van Kerke in Namibië (CCN) het ’n beroep op sy lidkerke en die groter kerkgemeenskap gedoen om midde die pandemie kalm te bly en voorsorgmaatreëls te volg.

Die CCN sê as christene wat lewe verkondig, behoort gemeentes die pandemie in ’n ernstige lig te beskou en vir ’n tyd lank nie dienste te hou, vir nagmaal byeen te kom, kinders en ouer lidmate te doop en paartjies te trou nie.

“Gedenkdienste behoort opgeskort te word en begrafnissaamtrekke moet in die buitelug aangebied word. Die aantal dae wat roubeklaers byeenkom, moet verkort te word, en die teraardebestellings moet kort gehou word,” sê die waarnemende sekretaris-generaal van die CCN, past. Ludwig Beukes.

Die erediensboodskap, gebede en aankondigings kan deur middel van sosiale medie geskied, sê hy in die CCN se verklaring.

Beukes sê daar is pastore wat bekommerd is dat hulle gemeentelede se offergawe gaan verloor as eredienste nie plaasvind nie.

“Ware geestelike leiers sal die welsyn van God se mense eerste plaas en mense nie manipuleer vir hul eie belang nie,” maan hy.

Die CCN doen ook ’n beroep op mense om nie vals profete te glo, wat aanspraak maak op supermagte wat mense beskerm en genees nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!