Covid-19: Debmarine verhoog toetskapasiteit

Groter toetskapasiteit is nou by die Unam-laboratorium moontlik.
Henriette Lamprecht
Debmarine Namibia het 'n tweede PCR-toetsmasjien aan die Universiteit van Namibië se mediese skool se laboratorium geskenk om toetskapasiteit vir Covid-19 te verhoog.

Die laboratorium is op die Hage Geingob-kampus geleë en word deur die mediese skool bestuur.

Buiten vir die PCR Covid-19-toetsstelsel, kom die bykomende toetsstel met beskermingstoerusting om die stelsel teen kragonderbrekings te beskerm, asook die integriteit van weefselmonsters wat in daardie stadium getoets word.

Die nuwe masjien ter waarde van N$3,6 miljoen speel 'n waardevolle rol in die tydsbestek om uitslae te verkry. Die laboratorium kan nou meer as 500 weefselmonsters binne agt ure ontleed.

Die vestiging van die toetslaboratorium by Unam het die diagnostiese en prognostiese toetsproses vir Covid-19 verhoog en ondersteun die toetsing by die Namibiese Instituut vir Patologie (NIP). NIP het Unam ondersteun in die verkryging van 'n lisensie vir toetsing.

Debmarine Namibia se uitvoerende hoof, mnr. Otto Shikongo, het beklemtoon die maatskappy ondersteun die regering se pogings om Covid-19 in die land te bestuur.

“Om die oorlog teen die pandemie te wen, vereis kollektiewe pogings deur hande te vat met ­gemeenskappe om kapasiteit te bou wat tot voordeel van almal is,” het hy gesê.

Volgens Unam se visekanselier, prof. Kenneth Matengu, beoog die universiteit om die PCR-masjiene ook vir navorsing te gebruik.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer