Covid-19: Derde van SA maatskappye kan vou

Elvira Wood



Bykans ’n derde van Suid-Afrikaanse maatskappye gaan hul deure moet sluit as hulle vir ’n maand lank geen omset verdien nie.

As dié situasie drie maande voortduur, kan tot 85% van Suid-Afrikaanse maatskappye moontlik ondergaan.

Dit is luidens ’n verslag wat Statistieke Suid-Afrika (SSA), Dinsdag gepubliseer het.

SSA sê hoewel dit nog glad nie moontlik is om die ware invloed te bepaal wat die Covid-19-pandemie en staat van inperking op die land se ekonomie gaan hê nie, is dit goed om deurgaans ’n vinger op die pols te hou om te sien wat aangaan. Dis om dié rede dat hy ’n peiling onder 707 maatskappye in ’n verskeidenheid sektore gedoen het wat vir belasting op toegevoegde waarde (BTW) geregistreer is.

Die peiling het nie mikro-ondernemings ingesluit wat ’n omset van minder as R2 miljoen per jaar verdien nie.

SSA het verskeie sektore genader wat luidens die inperkingsregulasies nié as verskaffers van noodsaaklike dienste en/of produkte beskou word nie.

MAATSKAPPYE WAT BEDRYWIG IS IN SEKTORE

Net minder as ’n derde (30,6%) van die maatskappye wat aan die peiling deelgeneem het, meen hulle sal nie ’n maand lank kan oorleef as hulle nie ’n omset verdien nie.

Suid-Afrika se staat van inperking is tot 30 April verleng en gaan in dié stadium altesame 35 dae duur. Die verwagting is dat die regulasies geleidelik opgehef sal word, en dat alle maatskappye nie gelyktydig toegelaat sal word om onmiddellik weer te begin sake doen nie.

Net 8,2% van maatskappye sê hulle sal kan oorleef as hulle vir langer as drie maande nié ’n omset verdien nie.

Gedurende die staat van inperking het bykans die helfte (46,4%) van maatskappye hul bedrywighede tydelik gestaak.

ARBEID

Nóg ’n belangrike syfer uit die peiling is dat 36,8% van maatskappye verwag dat hulle werkers uit diens sal moet stel. Meer as die helfte (50,5%) sê hulle verwag geen veranderinge aan hul getal werknemers nie.

Dit blyk ook uit die peiling dat maatskappye verskillende maatreëls met hul werknemers tref gedurende die staat van inperking.

Enkele maatskappye het werksure verhoog (2%), maar 28,3% het ure ingekort.

24% van maatskappye het geen maatreëls getref nie, terwyl 25,3% sê hulle het “ander” maatreëls getref.

19,6% het werkers tydelik uit diens gestel.

Oor waar die werkers is tydens die staat van inperking, sê nét 10% van die maatskappye dat tussen 81% en 100% van hul werkers by hul gewone werksplek is.

Bykans 70% van maatskappye sê dat tot 60% van hul werkers van die huis af werk.

Die meerderheid (53,2%) van respondente sê dat gesinsverpligtinge geen invloed op werkers het wanneer hulle van die huis af werk nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!