Covid-19 is geen grap, sê siek Cameron
Swem
Tinus van Staden - Covid-19 is nié jou speelmaat nie, sê Suid-Afrika se gewese Olimpiese kampioen Cameron van der Burgh, wat die laaste twee weke met dié siekte sukkel.
Die 31-jarige voormalige borsslagswemmer het 'n pleidooi op Twitter gelewer dat mense dié siekte, wat deur die nuwe koronavirus veroorsaak word, ernstig moet opneem.
“Ek sukkel nou al vir 14 dae met Covid-19. Dit is verreweg die ergste virus wat ek al moes verduur, al is ek 'n gesonde individu met sterk longe (ek rook nie en beoefen sport), wat 'n gesonde leefstyl handhaaf en jonk is (deel van die demografie wat die minste in gevaar is),” skryf Van der Burgh, wat die goue medalje in die 100 meter-borsslag by die 2012 Olimpiese Spele in Londen verower het.
Van der Burgh het swem aan die einde van 2018 vaarwel toegeroep en woon sedertdien saam met sy vrou, Nefeli Valakelis, in Engeland.
“Hoewel die ergste simptome (uitermatige koors) afgeneem het, sukkel ek steeds met ernstige moegheid en 'n droë hoes wat ek nie kan afskud nie. Enige fisieke aktiwiteit soos om te loop, laat my vir ure uitgeput.”
Van der Burgh sê alle atlete wat vir die Olimpiese Spele voorberei asof dit nog van 24 Julie tot 9 Augustus in Tokio, Japan, voortgaan, moet hoop hulle word nie siek nie.
Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) het nog nie 'n besluit oor die Spele geneem nie, maar het homself nou vier weke gegee om met 'n plan vorendag te kom.
Die kans bestaan dat die begindatum aangeskuif gaan word, dat bedryfsplanne vir die Spele aangepas gaan word, of dat dit eenvoudig gekanselleer gaan word.
“Die verlies in liggaamlike kondisionering is reusagtig en ek voel jammer vir die atlete wat Covid-19 opdoen, want hulle gaan groot verliese in hul huidige kondisionering ly in hierdie laaste oefensiklus [met die oog op die Olimpiese Spele],” twiet Van der Burgh.
Hy sê dit sal diegene wat gaan siek raak kort voor die Spele, die ergste tref.
“Atlete sal aanhou om te oefen, aangesien daar geen uitsluitsel oor die Olimpiese Spele is nie en stel hulself dus aan onnodige risiko bloot – en diegene wat wel siek raak, sal probeer om vinnig weer te begin oefen en die skade/hersteltyd sodoende vererger/verleng.
“Sien asseblief om na julself – Covid-19 is geen grap nie.”
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie