Covid-19 laat toerisme tuimel
Covid-19 laat toerisme tuimel

Covid-19 laat toerisme tuimel

Die toerismebedryf is weens die skielike verlies aan inkomste in ’n krisis gedompel.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith – Minder as 10 dae ná die Namibiese regering die eerste reisbeperkings gelas het om die verspreiding van Covid-19 te stuit, staal die toerismebedryf hom vir reusewerkverliese en die sluiting van maatskappye.

Mnr. Bernd Schneider, voorsitter van die Namibiese Toerismeverenigings (Fenata), het dié week gesê: “Die Covid-19-krisis het reeds beduidende en verreikende gevolge op die toerismebedryf gehad.”

Hy sê die skielike verlies aan inkomste het die bedryf tot stilstand geruk en gewaarsku baie maatskappye het eenvoudig nie die finansiële reserwes om te midde van geen inkomste die wa deur die drif te trek nie.

Schneider het beklemtoon niemand in die bedryf is immuun teen die pandemie se verwoestende impak nie. “Dit betrek almal – van die kleinste maatskappye en individuele toergidse tot groot oorde.”

Hy sê die stilstand in die toerismebedryf hou verwoestende gevolge vir die land se ekonomie in, aangesien dit een van die enkele nywerhede was wat ondanks die resessie goed gevaar het.

Tot dusver is daar ’n paar aanduidings oor hoe die bedryf uit die as sal herrys.

Terwyl toerismesambreelliggame, insluitend Fenata en die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), die afgelope twee weke verskeie krisisvergaderings met die regering en banke belê het, is egter nog geen oplossings bekend gemaak nie.

Schneider het gewaarsku dit sal moeilik wees vir Namibiese owerhede om pogings na te boots wat deur fiskaal gesonder lande in werking gestel is om steunmeganismes vir inwoners en besighede daar te stel.

Die Namibiese toerismebedryf het 47 000 mense in sy direkte diens, terwyl 120 00 mense se poste indirek aan die sektor gekopppel is.

Dit sluit restaurante, motorverhuringsmaatskappye en ander in.

“Daar is geen presedent vir dié impak nie. Ons sal ongelukkig sien dat baie in die bedryf, en dié wat die bedryf diens, dit nie sal oorleef nie,” sê Schneider.

Hy sê ofskoon voorlopige syfers oor moontlike werkverliese en die aantal maatskappye wat hul deure gaan sluit nog nie beskikbaar is nie, lyk die prentjie nie goed nie. “Die enigste ding wat enigeen deur dié tyd sal help, is as hulle op ’n manier kontantvloei kan verseker om die storm te bowe te kom. En ongelukkig moet baie moeilike besluite nou geneem word.”



Hou styf vas

Heinrich Hafeni, van Hafeni Tours and Travel en die eienaar van ’n restaurant aan die kus, het bevestig sy toerbedrywighede en restaurant is sedertdien feitlik tot stilstand gedwing.

“Hafeni Tours is in dieselfde bootjie as almal. Ons wonder hoe ons volgende maand die rekeninge gaan betaal. Die pandemie het verwoesting gesaai.”

Vanweë “toenemende vrese” het sy restaurant kwalik gaste ontvang, sê hy.

Soos ander in die bedryf, sê Hafeni, was hy in gesprek met personeel, vennote en banke om met maniere vorendag te kom om die komende maande te oorleef sonder om sy besighede se deure te sluit.



Reusewerkverliese

HAN se me. Gitta Paetzold stem saam die bedryf staan voor ’n groot toets, en beklemtoon baie mense in die bedryf het groot bedryfsuitgawes met talle wat vir maande geen inkomste verwag.

Sy sê hoewel die doelwit is vir maatskappye om alles te probeer om oop te bly “sal baie maatskappye vou en toemaak. Daar sal reusewerkverliese wees.”

Paetzold sê die bedryf word aangeraai om by die bepalings van die arbeidswet te hou, maar het bygevoeg: “In dié stadium moet ons op almal ’n beroep doen, insluitend personeel en die owerhede, dat buitengewone tye buitengewone maatreëls vereis. Die situasie is beroerd, en in ’n tyd soos dié moet ons almal mekaar ondersteun.”

Naas ander pogings om poste op die lange duur te beskerm, is die bedryf aangeraai om normale kansellasiefooie op te skort om gaste aan te moedig om hul reise uit te stel in plaas van af te stel.

Die uitvoerende direkteur van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, mnr. Bro-Matthew Shinguadja, het dié week bevestig artikel 12 (6) van die arbeidswet kan in werking gestel word “in situasies soos dié”.

Hierdie artikel laat besighede wat ekonomies ly en nie langer bedryfsuitgawes kan betaal nie, toe om ’n werknemer se gewone ure te verminder en hulle vir nie langer nie as drie maande te betaal.

Arbeidskenners het egter aanbeveel daar moet met werknemers beraadslaag word voor stappe gedoen word om gesonde betrekkinge te handhaaf.

Singhuadja het beklemtoon die wet maak nie vir gedwonge onbetaalde verlof voorsiening nie. “Onbetaalde verlof mag ’n alternatief wees mits daar wedersyds daarop ooreengekom word en dit sodanig aangeteken word”.

Huishoudelike toerisme

Volgens die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het die ministerie dié week met rolspelers in die bedryf vergader om die krisis te bespreek.

Hy sê die ministerie se tegniese komitee kyk tans na die voorleggings, maar kon nog nie sê of die regering sal kan help nie.

Shifeta het toegegee dié jaar “sal nie goed vir toerisme wees nie” en gesê hoewel dit onduidelik is wanneer die pandemie se inperkings verlig sal kan word, is dit belangrik om optimisties te bly oor toerisme se toekoms.

Voor moontlike plaaslike oordragte van die virus nie uitgeskakel word nie, moet huishoudelike toerisme nie in dié stadium bevorder word nie, het hy gemaan.



Bly hoop

Fenata se Schneider sê ondanks die huidige werklikheid “is daar lig aan die einde van die tonnel”.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!