Covid-19: Nog een geval
Covid-19: Nog een geval

Covid-19: Nog een geval

Leerlingdokters en mediese beamptes gaan in reaksie op Covid-19 vir bykomende skofte aan diens wees.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) gaan noodreaksiespanne ontplooi as deel van sy omvattende plan om die uitbreking van Covid-19 in die land te hanteer.

’n Beroep word op alle mediese beamptes en leerlingdokters gedoen om hulle vir die noodreaksiespanne beskikbaar te stel.

Volgens ’n brief onderteken deur die waarnemende superintendent van die Windhoek Sentrale Hospitaal, dr. Farid Zam, is dit in reaksie op pres. Hage Geingob se verklaring van ’n noodtoestand in die land.

Die brief is vermoedelik verlede Dinsdag uitgereik ná die noodtoestand die vorige naweek verklaar is, hoewel die datum daarop as 17 Januarie aangegee is.

Volgens die brief sal twee spanne daagliks saam met ’n konsultant op roep wees en in skofte van 12 ure werk.

Aanvanklik sal die skof die evaluering van moontlike Covid-19-gevalle in die gemeenskap insluit wat nie met hul eie vervoer na die Robert Mugabe-kliniek in die hoofstad vir evaluering en toetsing kan reis nie.

Later sal dit ook ander pligte insluit “sou die volume en erns van gevalle verhoog”.

Volgens die brief wat gerig is aan alle departementshoofde en ook die superintendent van die Katutura-staatshospitaal het sekere “kwesbare groepe” ’n groter risiko om ernstig siek te word en sal gevolglik van die noodreaksiespanne se pligte vrygestel word.

Dit sluit diegene ouer as 60 in, dié met hart- of longsiektes, met ’n verswakte immuunstelsel, kanker of wat swanger is.

Volgens Zam se brief word van mediese beamptes wat in bogenoemde kategorieë val verwag om die leemtes in pligte te vul wat deur ander mediese beamptes gelaat word.

Alle mediese beamptes in diens van die ministerie sal op die lys vir noodreaksiespanne geplaas word en in kennis gestel word van die dae wat hulle aan diens is.

Enige mediese beamptes wat aan die vereistes vir vrystelling voldoen, moet hul senior mediese beampte dadelik kontak.

Zam wou by navraag nie oor die noodreaksiespanne uitwei nie.

Hy het alle navrae en na die uitvoerende direkteur van gesondheid, mnr. Ben Nangombe, verwys.

Nangombe wou eers verdere inligting oor noodreaksiespanne inwin.

’n Bron na aan noodreaksiespanne het by navraag gesê alle leerlingdokters en mediese beamptes sal spesiale opleiding ontvang.

Met verwysing na skofte het die bron gesê die spanne sal elke 12 ure roteer om na Covid-19-gevalle om te sien.

“Dit beteken elke 12 ure sal ’n nuwe span gesondheidslui aan die siekte blootgestel word. Ook moet hulle steeds hul gewone take verrig, met ander woorde vanaand werk ’n leerlingdokter in ’n Covid-19-eenheid en môreoggend moontlik in die onkologie- of kraamafdeling.

’n Voorstel deur die bron is vir die staat om vier tot ses spanne aan te stel, hulle meer te betaal en hulle van hul gewone pligte vry te stel in ’n poging om te keer dat die virus “deur sy eie dokters van ’n kliniek na die hospitaal” versprei word.

Volgens die bron is leerlingdokters en mediese beamptes reeds oorwerk weens ’n tekort aan personeel.

’n Totaal van 131 leerlingdokters is in Julie verlede jaar by verskeie hospitale oraloor die land uitgeplaas om met hul internskap van twee jaar te begin.

Die leerlingdokters verrig diens by die staatshospitale op Oshakati en Onandjokwe, asook die Katutura- en Windhoek Sentrale Hospitaal.

Voor dit het leerlingdokters verbonde aan die Katutura-staatshospitaal in Windhoek sedert November 2018 sonder vergoeding of kontrak dikwels tot 96 uur ononderbroke gewerk.

Die leerlingdokters werk in skofte wat soms tot 120 ure vir die week beloop.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!