Covid-19, onderwys en die jaar 2021
Covid-19, onderwys en die jaar 2021

Covid-19, onderwys en die jaar 2021

Francoise Steynberg
Die jaar 2020 sal in die geskiedenisboeke opgeteken staan as 'n besondere gebeurtenisvolle jaar. Soos gewoonlik, en veral onder Donald Trump, het die VSA weer sentraal gefigureer. Die voortslepende konflik tussen die VSA en Iran, die Brexit-storie en die Black Lives Matter-beweging wat gevolg het op die dood van George Floyd het almal die voorblaaie van die nuusblaaie gehaal.

Donald Trump protesteer steeds omdat hy die verkiesing verlede jaar verloor het en baie lande is bekommerd oor China se ekonomiese en diplomatieke suksesse. In Suid-Afrika het groot korrupsie skandale die lig gesien en hier ter plaatse het die #fishrot skandaal groot opslae gemaak. Die verdagtes, nogal nie jou gewone man op die straat nie, word borgtog geweier en is steeds in oranje oorpakke.

Die Corona-pandemie wat vroeg in 2020 uitgebreek het en nog steeds voortwoed, het alle ander gebeure in omvang en nuuswaardigheid oortref. Deur die mens se gesondheid aan te val, het Covid-19 feitlik elke samelewingsektor tot stilstand geruk. Inperkings, handelsbeperkinge, aandklokrëels en die nakoming van die Covid-19-protokol het groot dele van die ekonomie lamgelê.

Gelowiges kan slegs plekke van aanbidding en begrafnisse in voorgeskrewe getalle bywoon en baie sportstadions is nou nog leeg. Covid-19 het ons aardse bestaan op sy kop gekeer. Maar, die mens is 'n aanpasbare wese wat vining leer om te oorleef. Mense het van die huis-af begin werk, koop aanlyn, oefen tuis en kommunikeer met famile en vriende deur middel van sosiale media. Die tradisionele wyse van onderrig moes plek maak vir aanlyn- en tuisonderrig.

Maar, Covid-19 is nog met ons en dit lyk of die huidige fase nog groter afmetings gaan aanneem as die vorige een. Vaksines is al op die mark maar inentings in die VSA is maar 'n gesukkel en die kanse is goed dat die onwikkelende en onder-ontwikkelende lande eers teen die einde van hierdie jaar toegang tot die middels sal kry.

Dit is nou belangrik vir onderwysgemeeskappe om te weet dat ons onderwysbeplanning gereed en in plek is vir 2021. Die administratiewe hoof van onderwys in Namibië het op die radio verslag gegee oor sekere aspekte van die beplanning vir 2021. Wat my hinder is dat heelwat kritieke besluite in die hande van skoolhoofde en onderwyskantore gelaat word.

In Suid-Afrika is die herstelplan vir 2021 deel van die amptelike jaarlikse beplanning. Die herstelplan maak voorsiening vir 'n herstelperiode van drie jaar waartydens daar gepoog sal word om op te maak vir verlore kurrikulêre tyd en ook om alles in die stryd te werp om enige verder verliese hok te slaan.

Pres. Cyril Ramaphosa se stimulusplan maak ook voorsiening vir die aanstelling van 200 000 onderwysassistente en 100, 000 algemene skoolassistente vir die realisering van hierdie doelwit. Verder sal groot klem geplaas word op monitering en ondersteuning gedurende die herstelperiode. Wat ook verder interesant is, is 'n situasionele analise wat handel oor die impak van die Corona-pandemie. Dit verwys ook na die belangrikheid van die Covid-19-protokol, gesonde voeding vir leerlinge en die behoefte om die huidige inligting- en kommunikasietegnologie op te gradeer.

Verder word die nalatenskap van apartheidonderwys weer belig asook die belangrikheid van die onderwysreg.

Vier opspraakwekkende hofbeslissings waarby ondewysadministrateurs en onderwysers sal baat, word bespreek. In hierdie hofsake betwis die applikante die regsgeldigheid van sekere aspekte van die toelatingsbeleid, die uitsluiting van leerlinge uit 'n skoolvoedingsprogram en aspekte van die beleid op tuisonderrig. Die vierde een handel oor die eis van die gesin waarvan die jongste spruit in 'n putlatrine op die skoolperseel geval en verdrink het. Hierdie beslissings bevestig weereens dat verklaarde beleid nie bo kritiek verhewe is nie en beklemtoon die regsimplikasies van die in loco parentis-leerstuk.

Dit is van kritieke belang dat ondewysgemeenskappe (skoolpersoneel, skoolrade, streeksonderwys fora, onderwysadministrateurs, beleidmakers en selfs ministers van onderwys) deeglik hiervan kennis neem.

Al die lesers van hierdie rubriek word 'n baie mooi jaar toegewens.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!