Covid-19 open nuwe deur vir Leigh

Kinders van die informele woonbuurt op Swakopmund is haar nuwe fokus tydens die hoktyd.
Tanja Bause
Tanja Bause - “My grootste passie was maar nog altyd om mense te help. Of dit nou is wanneer hulle in ’n ongeluk was en eerstehulp benodig, of nou in die Covid-19-pandemie waar hulle kos benodig. As ek kan, dan wil ek help,” vertel me. Leigh Pascheka-Husselmann van Swakopmund.

Sy is op Otjiwarongo gebore, maar het op Swakopmund grootgeword en daar skoolgegaan.

“My pa het toe ek twee jaar oud was Swakopmund toe getrek vir werk. Ek het ná skool Windhoek toe getrek op soek na beter geleenthede. Baie goed in my lewe doen ek gat oor kop, so ek het nie as ’n jong meisie ná skool gaan studeer nie, maar wel eers bietjie later.”

Sy het as paramedikus gaan studeer en is al die afgelope 12 jaar in die bedryf.

“Ek wou net mense help en ’n gebreekte been of bloed was nog nooit ’n probleem nie.”

Sy het later Pro-Med Training & Services gestig en bied ’n verskeidenheid van onder meer eerstehulp-, pediatriese en geriatriese kursusse aan.

“Ek het besef die opleiding van mense is vir my baie belangrik en het gedink om so bietjie van die paramediese veld te onttrek en dit aan die jonger geslag oor te laat. Hulle oë blink nog wanneer hulle die rooi ligte van ’n ambulans sien. Ek het die besigheid waarop ek ontsettend trots is gestig en ek het al eerstehulpkursusse oral in die land aangebied.”

Leigh het nie net met die ambulanse gery en mense in nood gehelp nie; sy het ook talle nagte en ure in veral die Katutura-hospitaal deurgebring.

“Die nagte in die hospitaal was my beste leerskool. Ek het ontsettend baie van die dokters en verpleegsters geleer en ek sal ewig dankbaar daarvoor wees.

“Dit wat ek daar geleer het, pas ek nou toe wanneer ek klasse gee. Ek lees nie uit ’n boek voor nie; ek maak my kursusse interessant en interaktief. Die ervaring wat ek opgedoen het met die ambulanse en in die hospitaal help hier geweldig baie.”

Aangesien sy op Swakopmund woon, het sy besluit om nie tans verder kursusse aan te bied nie weens die Covid-9-pandemie en die hoktyd.

“Ek moet ook elke jaar my permit vir my besigheid kry en weens die hoktyd kon ek nie Windhoek toe kom om dit te kry nie. So, nou wag ek tot alles verby is.”

HONGER KINDERS

Tydens hoktyd het sy me. Aletta Rousseau ontmoet, wat naby die DRC- informele nedersetting op Swakopmund woon en wat haar vertel het hoe swaar veral die kinders daar kry.

“Ek kan hier in my huis sit en die hele dag pruil oor die hoktyd, of ek kan iets positiefs doen. Ek het toe besluit om dit wat ek het, te gebruik om ’n verskil te maak.”

Deur haar Facebook-blad, “Sê jou sê, skinder en skree met Leigh”, wou sy geld insamel om ’n verskil te maak.

“Ek het N$5 000 ingesamel met die verkoop van verskillende kledingstukke met die handelsnaam van die bladsy op en dit aan Erongo Social Services geskenk.

“Dit het by my opgekom as ek geld kan insamel, kan ek ook kos insamel en dit vir die kinders gee. So het alles begin. Ek het twee mense genader wat onmiddellik begin help het en hulle help my nog steeds. ”

Saam met Aletta het sy vir die eerste sowat 100 kinders gaan kos gee.

“Dit is ongelooflik hoe die mense wat self nie baie het nie, nogtans deel. Die buurvrou het met ’n pakkie sop gekom; die buurman met ’n pakkie sojamaalvleis. Almal help en al die hulp, al is dit hoe klein, maak ’n groot verskil in die kinders se lewens.”

Intussen gee sy elke Saterdag vir sowat 250 kinders ’n gesonde gebalanseerde maaltyd met stysel, vleis en groente en elke Woensdag brood en ’n vrug. Sy het ook al sowat 500 kospakkies gepak en aan behoeftige families op Walvisbaai, Hentiesbaai en Swakopmund uitgedeel.

“Ek is glad nie ’n held nie. Ek help net omdat ek kan. Daar is verskeie gevestigde organisasies langs die kus wat dieselfde doen en mense help, maar die nood is baie groot en my hulp is ook maar net ’n druppel in die emmer.”

Volgens Leigh is die kinders baie dankbaar en kom hulle amper elke Saterdag en gee vir haar en haar helpers dankiebriefies of prente wat hulle self geteken het.

“Van hulle het nou die dag vir my ’n olifantsleutelhouer gegee wat uit krale gemaak is. ’n Klein meisie het vir my ’n outydse skyfie met ’n kameelperd en twee gemsbokke by ’n watergat gegee.

“Wanneer hulle vir ons geskenkies bring, sluk ons maar die trane en gaan aan. Baie van hulle staan ook net in klein groepies en sing vir ons om dankie te sê. Hulle is baie arm en het baie min, maar hulle is so dankbaar vir die kos en dit maak alles die moeite werd.”

Volgens Leigh sal sy nog steeds eerstehulpkursusse aanbied en aanhou om kos aan die kinders te voorsien.

“Die kinders se nood sal nie weggaan nie, so ons kan ook nie weggaan nie. Ek het ’n goeie span wat sal volhard; al is ek die een of ander Saterdag nie beskikbaar nie en sal hulle aangaan.”

Kommentaar

Republikein 2025-02-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer