Covid-19: 'Perfekte storm' vir aanlyn misbruik
Covid-19: 'Perfekte storm' vir aanlyn misbruik

Covid-19: 'Perfekte storm' vir aanlyn misbruik

Die volgehoue groei van dié tipe mishandeling en teistering het reeds die wêreld se kapasiteit oorskry om dit hok te slaan.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Covid-19 het die “perfekte storm” van omstandighede geskep wat 'n styging in die seksuele uitbuiting en mishandeling van kinders oraloor in die wêreld tot gevolg gehad het.

Dit sal jare duur voordat die volle omvang van die pandemieverwante mishandeling duidelik word, sê die WeProtect Global Alliance se 2021 Global Threat Assessment-verslag wat fokus op die aanlyn seksuele uitbuiting en mishandeling van kinders.

Die verslag dui op 'n toename in pogings om kinders aanlyn te kontak, die volume “self-genererende” seksuele materiaal, sowel as aktiwiteite op die donker web. Dit maan ook die volgehoue groei van dié tipe mishandeling en teistering oorskry reeds die wêreld se kapasiteit om dit hok te slaan.

Dit verwys na Europol wat in Mei vanjaar 'n webtuiste gesluit het wat die seksuele mishandeling van kinders op die donker web uitbeeld en wat meer as 400 000 geregistreerde gebruikers gehad het.

Meer as drie miljoen rekeninge is geregistreer op die tien mees skadelike webwerwe vir kindermishandeling op die donker web. Dertig ontleders van die Amerikaanse nasionale sentrum vir vermiste en uitgebuite kinders (NCMEC) verwerk daagliks 60 000 verslae van die seksuele mishandeling van kinders aanlyn. Volgens die verslag het die tipe mishandeling sedert 2019 toenemend gegroei en verander.

Die afgelope twee jaar het veral die voorkoms van gereedmaking, die volume materiaal wat die seksuele mishandeling van kinders uitbeeld, die deel en versprei van dié materiaal, sowel as die regstreekse uitsending hiervan die hoogte in geskiet.

Die verslag verwys na data van die NCMEC en die Internet Watch Foundation (IWF) wat dui op 'n toename van 77% in self-genererende seksuele materiaal en 'n 100% toename in die aanlyn seksuele uitbuiting van kinders.

In 'n globale opname deur Economist Impact het 54% van die respondente gesê hulle het aanlyn seksuele teistering ervaar. Dit sluit seksueel eksplisiete inhoud in wat aan hulle gestuur is, asook dat hulle gevra is om iets te doen waarmee hulle ongemaklik was.

Die verslag maan 'n beduidende gedeelte van seksuele mishandeling geskied onder die radar en is nie naspeurbaar nie. Selfs oortreders met min tegniese vaardighede kan opsporing vryspring deur maklik toeganklike gekodeerde boodskapdienste en hulpmiddels vir anonimiteit te gebruik.

Sommige oortreders op die donker web gebruik ook gevorderde tegnieke om hul aktiwiteite te verberg. Die gebruik van “versteekte dienste” om materiaal te versprei wat die seksuele mishandeling van kinders uitbeeld, het met 'n verbysterende 155% vanaf 2019 tot 2020 gegroei.

Die toename van dié tipe materiaal wat deur kinders self gegenereer word, sowel as oortreders wat hul “produksiemetodes” aanpas, is 'n groot kopseer vir instansies wat aanlyn misbruik probeer bekamp. Dit verwys onder meer na die oorreding van kinders om seksuele dade uit te voer wat dan op kamera vasgelê word (capping).

Die seksuele mishandeling van kinders word dikwels deur familielede uitgevoer, iets wat deur Covid-19-inperkings vererger is.

Die verslag maan vele wetstoepassingsagent­skappe het te min fondse en hulpbronne en is geheel en al oorweldig deur die skaal van oortredings. Om dit hok te slaan, is multinasionale, gespesialiseerde ondersoekeenhede nodig. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!