Covid-19 saai verwoesting

Sowat 235 miljoen mense gaan hulp en beskerming nodig hê, 'n toename van 40% binne 'n jaar.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Een uit elke 33 mense in die wêreld gaan aanstaande jaar humanitêre hulp benodig, 'n beduidende toename in die een uit elke 45 mense 'n jaar gelede wat toe reeds die hoogste syfer in dekades was.

Volgens die Verenigde Nasies (VN) se Globale Humanitêre Oorsig 2021 gaan sowat 235 miljoen mense humanitêre hulp en beskerming nodig hê. Om die mees weerloses te help en wel 160 miljoen mense in 56 lande, gaan die VN en deelnemende rolspelers US$35 miljard kos.

Die verslag sê Covid-19 was die katalisator vir die grootste globale resessie sedert die 1930's, met uiterste armoede wat vir die eerste keer in 22 jaar gestyg het.

Werkloosheid het ook dramaties toegeneem, met vroue en jong mense tussen die ouderdomme van 15 en 29 jaar wat in die informele sektor werk, wat die hardste getref is. Inperkings wat skole se deure vir maande aaneen gesluit het, het beteken 91% van leerlinge wêreldwyd was nie op die skoolbanke nie.

Volgens die verslag is hongersnood besig om te styg en is konflik die grootste dryfveer agter akute honger vir 77 miljoen mense in 22 lande. Teen die einde van die jaar gaan die aantal mense wat uitgelewer is aan akute hongersnood tot 270 miljoen styg.

Dit maan die impak van die Covid-19-pandemie saam met klimaatsverandering het 'n ernstige uitwerking op voedselstelsels oraloor in die wêreld. Met verwysing na klimaatsverandering was die laaste dekade die warmste op rekord en bykomende klimaatsveranderinge word as gevolg van La Niña tydens die eerste kwartaal van 2021 verwag wanneer dit seetemperature, reënvalpatrone en orkaanaktiwiteite gaan raak. Die verslag maan die pandemie kan 20 jaar se vooruitgang wat gemaak is met betrekking tot MIV, tuberkulose (TB) en malaria uitwis en sodoende sterftesyfers verdubbel.

Dit is veral die reeds weerloses, ingesluit vroue en jong meisies, mense wat met gestremdhede saamleef, bejaardes en dié met geestesongesteldhede wat die hardste deur die impak van Covid-19 getref is. Byna 24 miljoen kinders, tieners en jong mense gaan moontlik nie weer na die skoolbanke terugkeer nie, ingesluit 11 miljoen meisies en jong vroue.

Inperkings het die kollig fel op geslagsgeweld laat val, met kwarantyn wat die voorkoms daarvan verdubbel het. Sowat 15 miljoen nuwe gevalle word vir elke drie maande van inperking beraam.

Tog spruit daar ook goed uit die wêreldwye pandemie met globale internettoegang wat verhoog het en nuwe, innoverende tegnologieë wat die potensiaal het om humanitêre optrede te verbeter. Kunsmatige intelligensie word vir die kartering van die uitbreking gebruik, hommeltuie word ingespan om mediese voorrade en weefselmonsters te toets, terwyl driedimensionele drukkers help met die druk van ventilators en gesigskerms.

Reaksieplanne wat deur die VN gekoördineer gaan word, hoop om 160 miljoen van die mees weerlose inwoners in 56 lande teen 'n beraamde koste van US$35 miljard te bereik.

Volgens die VN se sekretaris-generaal, mnr. António Guterres, staar begrotings vir humanitêre hulp ernstige tekorte in die gesig namate die impak van die globale pandemie voortgaan om te versleg.

“Ons moet hulpbronne mobiliseer en in solidariteit staan met mense in hul donkerste uur,” het hy gesê.

Die VN se humanitêre hoof, mnr. Mark Lowcock, het gemaan Covid-19 het miljoene mense in armoede gedompel.

“Volgende jaar gaan ons US$35 miljard nodig hê om armoede te beveg, hongersnood af te weer, kinders in te ent en in die skool te hou,” het hy gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!