Covid-19-slenter oopgekrap
’n Man wat aanvoer hy verteenwoordig die verkrygingsafdeling van die gesondheidsministerie is met derduisende dollar soek.
Denver Kisting – Aanduidinge wys daarop dat ’n bedrieër wat mense met derduisende Namibiese dollar ingeloop het, moontlik oor binnekennis van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste se verkrygingsafdeling beskik.
’n Man van Grootfontein is derduisende Namibiese dollar kwyt nadat hy deur ’n vermeende verteenwoordiger van die genoemde ministerie ingeloop is.
Republikein dra kennis van minstens twee besigheidseienaars wat deur ene mnr. Derek Shivute genader is om persoonlike beskermende toerusting (PPE’s) vir die ministerie te lewer.
Een tender “ontwerp vir 1 000 pasiëntkontakte” is nagenoeg N$900 000 werd.
Op ’n amptelike briefhoof en stempel van die gesondheidsministerie het Shivute leweransiers genader om te tender vir dié gesondheidstoestelle.
Dié brief lui onder meer: “Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste nooi u uit om u beste kwotasie voor te lê vir die verskaffing en aflewering van NP3885 hospitaalstelle (30 stelle) aan die Walvisbaai-distrikshospitaal.”
Die stelle bestaan uit PPE’s vir gesondheidsorg- en steunpersoneel. Onder meer sluit dit handskoene, voorskote, maskers en gesigskerms in.
Dan verwys die brief die leweransier na die Suid-Afrikaanse webwerf van ’n maatskappy onder die naam Nexus Pharmaceuticals.
Hoewel die vermoede bestaan dat dié Suid-Afrikaanse “tak” nie eg is nie, is die sakemodel oënskynlik geskoei op ’n gelyknamige Amerikaanse maatskappy. “U kwotasie moet op dié vorm gedoen word en via e-pos na die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste gestuur word.”
Volgens die skrywe sou die afsnydatum Dinsdag 8 September gewees het “kragtens die gegewe voorskrifte, of lig die ondertekenaar in indien u nie ’n kwotasie sal voorlê nie”.
Die brief word deur “Shivute” onderteken as die “sekretaris: verkrygingskomitee”.
Hy verskaf ’n selfoonnommer onder sy titel.
Volgens die Grootfontein-inwoner het hy met sy speurwerk vasgestel die besigheidsadres van Nexus Pharmaceuticals wat op hul webwerf aangedui word, behoort aan ’n gastehuis in Mosselbaai in die Suid-Kaap in Suid-Afrika.
“Die eienaar het vir my gesê dis nie die eerste keer wat iemand hom gebel en gevra het oor die farmaseutiese maatskappy nie. Hy’t gesê in ’n stadium het daar selfs ’n Namibiese lorrie opgedaag om die bestelde goed op te tel.”
Hy sê hy het intussen nadat Shivute met sy “deposito” van N$31 500 verdwyn het, by die gesondheidsministerie verneem daar werk nie so ’n persoon in hul verkrygingsafdeling nie.
“Hulle is nie bewus van so ’n tender nie, maar die tenderuitnodiging is op die briefhoof van die ministerie en het hul stempel op. Dít sê vir my dis iemand in die binnekant.”
Die Grootfontein-inwoner sê hy het nie die saak by die polisie aangemeld nie, “omdat my vertroue om so ’n saak aan te meld, nie baie groot op die oomblik is nie. Hierdie lyk vir my baie diep.
“Ek weet ek sal nie daardie geld terugkry nie, maar ek wil nie hê iemand anders moet in dieselfde strik trap nie.”
Sy besigheid vervoer meubels en het nog nooit sake met die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste gedoen nie, sê hy.
’n Inwoner van Windhoek is ook deur Shivute genader met dieselfde versoek. Ook sy het byna in die strik getrap.
“Genadiglik (het ons) nie (betaal nie). Aan die een kant het ons lont geruik, maar aan die ander kant was ons ook maar naïef.”
Aangesien sy onraad vermoed het, het sy vir Shivute gebel, wat toe volgens haar klei getrap het tydens die gesprek. “Hierdie hele ding stink.”
Die selfoonnommer wat Shivute verskaf het, is onbeskikbaar en ’n SMS was ook teen druktyd steeds onbeantwoord.
Republikein se e-pos aan Nexus Pharmaceuticals is ook sedert Dinsdag nie beantwoord nie.
Me. Bertha Katjivena, ’n adjunk- uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, het gister gesê Shivute is nie in dié ministerie se diens nie.
Sy sê dit is ’n slenter waarteen lede van die publiek gewaarsku moet word.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie