Covid-19: Sterou00efed het mediese wu00eareld opgewonde
Covid-19: Sterou00efed het mediese wu00eareld opgewonde

Covid-19: Steroïed het mediese wêreld opgewonde

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die Britse minister van gesondheid, Matt Hancock, se aankondiging Dinsdag dat Brittanje dadelik begin om die kortikosteroïed, deksametasoon, vir die behandeling van Covid-19-pasiënte te gebruik, het mediese wetenskaplikes dwarsoor die wêreld baie opgewonde.
Hancock het gister getwiet: “Ons het vandag die onmiddellike gebruik van deksametasoon deur die NHS (nasionale gesondheidstelsel) goedgekeur. Hierdie lewensreddende ontdekking is in Brittanje gemaak en getuig van die briljante werk van wetenskaplikes & die nasionale poging om lewens te red & en ons NHS te beskerm.”
Deksametasoon is ’n goedkoop en maklik verkrygbare steroïed wat gebruik word om inflammasie te verminder.
Republikein het prof. Vernon Louw, hoof van kliniese hematologie in die departement interne geneeskunde aan die Universiteit Kaapstad, vanoggend telefonies daaroor uitgevra.
“Ek is baie positief daaroor, want baie van die Covid-19-pasiënte kry ’n hiper-inflammatoriese toestand wat ons ’n sitokienstorm noem. Dit vind plaas omdat die immuumstelsel oorreageer. ’n Sitokien is die molekuul waarmee selle met mekaar kommunikeer deurdat dit chemiese seine uitstuur.
“Hierdie oorreaksie van die immuunstelsel is soos om die hele weermag te ontplooi om ’n protesaksie waarby 20 mense betrokke is, tot bedaring te bring,” verduidelik Louw.
Hy sê deksametasoon is bekend daarvoor dat dit erge inflammasie onderdruk en daarom is mediese wetenskaplikes opgewonde oor die gebruik daarvan om hierdie “woede-uitbarsting” van sitokiene in die liggaam te beperk.
Só ’n sitokienstorm kan lei tot orgaanskade by pasiënte wat ernstig siek is aan Covid-19, verduidelik Louw.
Volgens hom is dit wel so dat ’n fyn balans met die toediening gehandhaaf moet word sodat die immuunstelsel nie te veel onderdruk word nie.
Hy sê hoewel die Britse wetenskaplikes se navorsingsresultate oor die gebruik van deksametasoon nog aan ewekniebeoordeling onderwerp moet word, voorsien hy dit sal baie binnekort in ’n goeie mediesewetenskapsjoernaal soos Lancet of The New Engeland Journal of Medicine gepubliseer kan word.
“Ewekniebeoordeling is wanneer ander ouens na die data kyk om seker te maak die statistiek en berekeninge is reg”, verduidelik Louw.

Foto: Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!