Covid-19-stryd: Khomas, Oshana kry gou grootste isolasiegeriewe
Covid-19-pasiënte kan waar hulpbronne beperk is saam in 'n saal met goeie ventilasie behandel word.
Henriette Lamprecht
Die Oshana- en Khomasstreek is tans die twee grootste fokuspunte vir die isolering van Covid-19-pasiënte met twee gevestigde strukture wat omskep gaan word om gesamentlik sowat 800 pasiënte te kan huisves.
Die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en - voorkoming (CDC) beskryf kwarantyn as die skeiding of isolering van persone wat nog nie siek is nie, maar aan Covid-19 blootgestel is en daarom moontlik siek kan word.
Isolasie verwys na die skeiding van persone wat siek is en vermoedelike of bevestigde Covid-19-gevalle is.
Alle vermoedelike gevalle word gehospitaliseer en in isolasie in aangewese geriewe gehou totdat hulle negatief toets.
Dié wie positief toets, bly in isolasie totdat twee van hul weefselmonsters negatief vir Covid-19 toets.
Volgens CDC-riglyne kan Covid-19-pasiënte in individuele isolasiekamers geïsoleer word, maar kan ook waar hulpbronne beperk is saam in 'n saal met goeie ventilasie behandel word.
Vermoedelike gevalle moet in 'n aparte saal gehuisves word. Riglyne vereis 'n minimum afstand van een meter tussen beddens, terwyl alle pasiënte ook te alle tye 'n trippellaag- chirurgiese masker moet dra.
Alle personeel, dokters en verpleegsters ingesluit, moet ten volle in beskermende drag en toerusting (PPE) geklee wees, wat maskers en handskoene insluit.
Dit geld ook vir ondersteuningspersoneel wat vir skoonmaak en ontsmetting verantwoordelik is.
Voldoende en gepaste geriewe vir handewas moet te alle tye vir pasiënte en personeel beskikbaar wees, terwyl alle vertrekke voldoende ventilasie moet hê.
Die CDC beklemtoon mediese personeel wat hier diens doen, mag nie by enige ander afdeling van 'n hospitaal of kliniek werk nie.
Volgens die CDC sal sowat 15% van dié pasiënte moontlik longontsteking ontwikkel van wie 5% 'n ventilator sal vereis. 'n Intensiewesorgeenheid moet dus binne bereik wees.
Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het die ministerie tans 39 ventilators en word 'n bykomende 83 eersdaags in die land verwag.
Nog 10 ventilators vorm deel van 'n skenking van die Alibaba-stigting wat in Addis Abeba in Ethiopië afgelewer en na Namibië gestuur sal word.
In die Oshanastreek in die noorde van die land gaan die Ongwediva Trade Fair-sentrum omskep word om tussen 200 tot 600 pasiënte te kan huisves.
In die Khomasstreek sal die Rhino Garment-behandelingsentrum in Otjomuise in Windhoek 540 pasiënte kan huisves.
Laasgenoemde is ter ondersteuning van die 24 beddens by die mobiele militêre hospitaal by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako, die 12 beddens van die pas voltooide isolasie-eenheid by die Windhoek Sentrale Hospitaal, sowel as die ses beddens by die Robert Mugabe-kliniek wat ook in behandelingsgeriewe omskep is.
Op Okahandja is die dorp se distrikshospitaal gerat om ses pasiënte in die nuwe vleuel en isolasiesaal te huisves. Volgens Otjozondjupa se direkteur vir gesondheid, mnr. Gebhardo Timotheus, kan vier pasiënte ook in die hospitaal se behandelingskamers geakkommodeer word.
Op Outapi word die ope mark wat onlangs op die dorp geopen is, in isolasiegeriewe omskep, terwyl 'n tydelike hospitaal met 52 kamers by die sentrum gevestig word waar die jaarlikse handelskou op Ongwediva gehou word.
Die tydelike hospitaal se vier sale het volgens die goewerneur van die Oshanastreek, mnr. Elia Irimari, die kapasiteit om tussen 200 tot 600 pasiënte te huisves.
In die Oshikotostreek word 'n isolasie-eenheid vir Tsumeb by die Sekondêre Skool Etosha opgerig, sê dié streek se direkteur vir gesondheid, dr. Joshua Nghipangelwa. Dit sal tot 80 beddens akkommodeer.
Intussen is 'n kamer reeds by die staatshospitaal op die dorp vir enige Covid-19-pasiënte ingerig.
Op Outjo is 'n isolasie-eenheid op die perseel van die dorp se staatshospitaal ingerig. Volgens Outjo se munisipale woordvoerder, mnr. Aurdrey Bokkas Mazenge, is tien beddens beskikbaar, vyf vir manlike pasiënte en vyf vir vroulike pasiënte.
Op Otjiwarongo het besigheidsleier mnr. Theo Borstlap en plaaslike apteker mnr. Dirk Coetzee 'n 120m² perseel geskenk, en met die hulp van mnr. Rian Horn, hoofbestuurder van die Otjiwarongo Mediclinic, die gebou toegerus om as 'n isolasie-eenheid te kan dien. Dit bevat tans ses beddens, maar kan tot sewe akkommodeer as die druk erg raak.
Op Okakarara sê die direkteur van gesondheid vir die Otjozondjupastreek is 'n isolasie-eenheid op die perseel van die staatshospitaal op die dorp opgerig. Die eenheid het vyf beddens beskikbaar.
Op Oshikango is ses huise by die Offshore Development Centre in die dorp beskikbaar gestel en in die Erongostreek is die konstruksie van 'n spesiale Covid-19-hospitaal tans aan die kus onderweg. Die geriewe sal 150 beddens op Walvisbaai akkommodeer. Die ou staatshospitaal op Omaruru, sowel as die dorpsaal op Hentiesbaai word ook as isolasiegeriewe oorweeg. Op Rehoboth is 'n isolasie-eenheid by die St. Mary's-hospitaal op die dorp ingerig, terwyl die staatshospitaal op Keetmanshoop ook moontlike Covid-19-gevalle kan isoleer. Op Lüderitz is 16 beddens beskikbaar. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie