Covid-19: P is vir pandemie

Sowat 93% van alle coronavirus-gevalle, wat tot dusver wêreldwyd aangeteken is, is in net vier lande.
Henriette Lamprecht
Byna drie maande nadat die eerste geval op 31 Desember 2019 in Wuhan, China aangemeld is, word die Covid-19-virus deur die Wêreld­gesondheidsorganisasie (WHO) as 'n pandemie verklaar.

Sedert die eerste geval in China het die aantal Covid-19-gevalle buite dié land die afgelope twee weke 13-voudig toegeneem, terwyl die getal geraakte lande verdriedubbel het.

Teen druktyd is meer as 118 000 gevalle in 114 lande aangeteken en 4 291 mense het hul lewens verloor.

Wetenskaplikes weet nou die nuwe coronavirus het 'n soönotiese (dierlike) oorsprong en dat vlermuise die bron daarvan is.

Wat nog onbekend is, is hoe dit van vlermuise na 'n ander dier en toe na mense oorgedra is.

Nog nooit het hulle 'n pandemie gesien wat deur 'n coronavirus veroorsaak is en/of wat beheer kan word nie, erken die WHO se direkteur-generaal Tedros Adhanom Ghebreyesus.

Die aantal gevalle, sterftes en ­geraakte lande gaan aanhou styg, maar lande kan steeds die koers van dié pandemie verander, sê hy.

Sowat 93% van alle gevalle wat tot dusver wêreldwyd aangeteken is, is in net vier lande.

Uit die meer as 80 000 gevalle, wat in China aangemeld is, het meer as 70% herstel. Die meeste van die 2 055 hospitaalwerkers wat in China met die virus besmet is, is tuis besmet of in die vroeë fase van die uitbreking in Wuhan terwyl daar nog nie voldoende voorsorg by plaaslike hospitale getref is nie.



Simptome en suurstof

Volgens 'n verslag van die WHO benodig 5% van mense met Covid-19 kunsma­tige asemhaling.

Nog 15% moet vir 'n paar dae sterk gekonsentreerde suurstof inneem. Van die begin van die siekte tot herstel duur gemiddeld drie tot ses weke vir ­ernstige en kritieke pasiënte. Pasiënte wat nie ernstig siek is nie voel gemiddeld binne twee weke beter.

Die meeste mense wat besmet word ontwikkel simptome en gevalle van mense by wie die virus opgespoor is en nog nie simptome wys nie, is skaars – die meeste van hulle word wel siek in die daaropvolgende paar dae.

Die mees algemene simptome vir Covid-19 is koors (88%) en 'n droë hoes (68%), gevolg deur uitputting (38%), slym op die bors (33%), kortasem (18%), keelseer, hoofpyn en spierpyn (14%) en kouekoors (11%). Minder algemeen is naarheid en braking (5%), 'n toe neus (5%) en diarree (4%). Die WHO maan hoewel die sterftekoers oor die algemeen as betreklik laag beskou word, is dit hoër onder mense met bestaande siektes soos diabetes en harttoestande.

In China het 13,2% van inwoners met hartsiektes, wat ook Covid-19 opgedoen het, gesterf. Vir die met onbeheerde ­diabetes was dit 9,2%, vir hoë bloeddruk 8,4%, vir chroniese asemhalingsiektes 8% en vir kanker 7,6%.

Meestal mans het in China aan Covid-19 gesterf en die WHO sê jonger mense het 'n skraler kans om ernstig siek te word.



Dieselfde maar ook ­verskillend

Beide die nuwe coronavirus en die ­seisoenale griep veroorsaak respiratoriese siektes of lugweginfeksies.

Albei versprei deur middel van klein druppeltjies vloeistof van die neus en mond van 'n siek persoon.

Die nuwe virus dra egter nie so doeltreffend oor soos griep nie.

Met die nuwe virus wil dit voorkom asof jy siek moet wees om dit aan die volgende persoon oor te dra.

Mense wat met griep geïnfekteer is, maar nog nie simptome wys nie, is verantwoordelik vir die grootste oordrag van dié siekte.

Volgens die WHO veroorsaak die Covid-19-virus ernstiger siektes as seisoenale griep. Meer mense is vatbaar om met die virus eerder as griep geïnfekteer te word en sommige sal ernstig siek word. Dit is grootliks omdat baie mense reeds immuniteit teen seisoenale griepstamme opgebou het, terwyl die Covid-19-virus nuut en 'n virus is waarteen niemand immuniteit het nie.

Wêreldwyd sterf minder as 1% van mense wat met die seisoenale griep­virus geïnfekteer is aan die siekte.

In vergelyking hiermee het 3,4% van Covid-19-gevalle gesterf.

Entstowwe is ook vir seisoenale griep beskikbaar, maar nie vir Covid-19 nie.Meer as 20 entstowwe is egter tans besig om teen die virus ontwikkel te word.

Ook is inperking vir die nuwe virus moontlik, maar volgens die WHO nie vir seisoenale griep nie.



Die virus en die beurs(ie)

Nie 'n land in die wêreld gaan Covid-19 se ekonomiese impak kan vryspring nie. Die Verenigde Nasies se Konferensie oor Handel en Ontwikkeling (Unctad) raam konserwatief dit gaan die wêreld­ekonomie met tot US$1 000 miljard kan laat inkrimp.

In sy ergste scenario raam dit die groei in die wêreld se bruto binnelandse produk (BBP) in 2020 kan tot net 0,5% verlangsaam.

Dít sal daartoe lei dat meer as US$2 000 miljard se waarde in die wêreldwye BBP verlore sal gaan.

Die VN verwag ook dat Europa vanjaar beslis in 'n resessie sal verval, met die lys lande wat Europa gaan volg wat reeds Suid-Korea, Singapoer, Japan, Duitsland en Italië insluit.

Italië is tans die Europese land wat die swaarste getref word deur die virus en sy ekonomiese uitset is reeds tussen 10% en 15% laer weens die ­grootskaalse inperkingsmaatreëls wat ­noodgedwonge deur die Italiaanse ­regering ingestel is.

Ná Amerika en Kanada het ­Brittanje die derde groot moondheid geword wat sy rentekoers verlaag om sy ­ekonomie teen die impak van Covid-19 te beskerm.

Volgens Moody's Investors Service is 'n wêreldwye resessie beslis moont­lik omdat die grootste ekonomieë die swaarste getref word.

Die wêreld se grootste maatskappye se verdienste sal na verwagting vanjaar met 10% daal weens die virus se uitwerking op waardekettings, vervaardiging en verbruikspatrone.

Die groot aandelemarkte het in die laaste week van Februarie die swakste sedert die finansiële krisis in 2008 gevaar.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, maan die tweede fase van die uitbreking gaan die grootste ekonomiese impak hê.

Waar markte in die eerste fase deur vrees afwaarts gedryf word, is die siekte nou in sy tweede fase waar reisbeperkings en inperkingsmaatreëls beteken die reële ekonomie word geknou.

Namate al hoe meer fabrieke sluit, waardekettings tot stilstand kom weens beperkte handel en hawens gesluit word, en mense wat moet tuisbly minder geld kan bestee, begin die reële ekonomie krimp.

Volgens die VN hang 'n verbetering geheel en al af van die mate waartoe regerings wêreldwyd hul ekonomieë betyds kan ondersteun.



Madonna, St. Patrick en Coachella

Noodgedwonge trek vermaak wat groot skares lok ook aan die kortste end. Ierland het 'n stokkie voor alle parades van St. Patricksdag gesteek, terwyl Madonna, Pearl Jam en Santana onder die kunstenaars is wat hul konsert óf uitgestel óf afgestel het.

Kalifornië se Coachella Festival wat daagliks sowat 125 000 konsert­gangers oor twee naweke in April lok, is tot Oktober uitgestel.

Dié fees se wins is jaarliks tussen US$75 miljoen en US$100 miljoen. Die Bostonse Simfonieorkes en die New Yorkse Amerikaanse Balletteater het ook besluit om eerder hul toere na Asië en die Midde-Ooste te kanselleer.



Hond se gedagtes

Covid-19 hou nie 'n bedreiging vir jou troeteldiere in nie en daar is tans geen bewyse dat die virus deur honde en katte versprei kan word nie.

Op dieselfde manier wat die virus op 'n oppervlak soos 'n tafelblad kan leef, kan dit egter ook op die oppervlak van 'n kat of hond leef sonder dat die dier siek word.

Katte of honde hou daarom geensins 'n groter risiko as lewelose voorwerpe soos deurhandvatsels in om die virus te versprei nie.

In die geval van die virus wat versprei, is die mees algemene metode van verspreiding steeds mens-tot-mens wat in nabye kontak met mekaar is.



Robotte in mense se plek

In China word robotte ingespan om die verspreiding van Covid-19 te beperk en om onder meer skoon te maak en kos voor te berei.

In 'n hospitaal in Shenyang word 'n robot gebruik om pasiënte se tempera­tuur te meet en ook oppervlaktes te ontsmet.

In Wuhan, die episentrum van die uitbreking, is dit 'n algemene gesig om 'n robot te sien wat deur ­woonbuurtes beweeg en strate ontsmet, terwyl 'n hospitaal in Ezhou 'n robotsjef in sy kombuis gebruik.

Dié robot kan tot 'n 100 potte rys per uur kook sonder enige menslike toesig en wat natuurlik die aantal mense in die hospitaal, wat aan die virus blootgestel is, verminder.



Covid-19 en die 'blou film'

Die nuwe coronavirus maak tot sy (of haar) buiging in pornografiese films berig PornHub.

Uitgevat in chirurgiese maskers, respirators, handskoene en ­beskermende pakke behels die hoofkarakters se ­storielyn grootliks interaksie tussen 'n pasiënt en 'n dokter en natuurlik aller­hande maniere oor hoe om jouself teen die virus te beskerm.

Volgens die webtuiste Vice is corona­virus-video's nou aan die orde van die dag en gebruik van die pornografiese akteurs hul platform om bewustheid te skep oor hoe om die verspreiding van die virus te voorkom.



Om te masker (of nie te masker)

Om 'n masker te dra gaan jou nie noodwendig teen die virus beskerm nie, maan die WHO.

Die kans is baie groter om geïnfekteer te word deur aan besmette oppervlaktes en dan aan jou gesig te raak, as deur middel van 'n hoesdruppel wat deur die lug sweef.

Ook bied nie alle maskers dieselfde beskerming (indien enige) nie.

Met pandemie-paniek wat reeds met die bekendmaking van die eerste gevalle in Wuhan ingesink het, het massas mense hul wêreldwyd tot maskers gewend om hulself te beskerm.

Wat dit eintlik gedoen het, was om net verdere spanning op verskaffers van maskers te plaas wat nou wêreldwyd 'n ses maande agterstand in vervaardiging het.



Dit is (nie) waar (nie)



Daar is reeds 'n entstof teen Covid-19 ­beskikbaar

Hoewel wetenskaplikes onverpoos in die ontwikkeling van 'n entstof werk, is daar tans geen entstof teen die virus be­skikbaar nie. Om 'n entstof te ontwikkel, wat veilig en doeltreffend vir mense is, gaan etlike maande duur.



Bleikmiddel/steroïedes/soutwater beskerm jou

Nee, dit doen nie en dit is gevaarlik! Die beste manier om jouself te beskerm is om jou hande deeglik en gereeld met seep en water te was, mense te vermy wat siek is, nies en hoes. Hou jou eie kieme vir jouself deur by die huis te bly wanneer jy siek is en jou hand/elmboog voor jou mond te hou as jy nies of hoes.



Covid-19 is doelbewus geskep/versprei

Virusse kan met verloop van tyd verander. Soms vind 'n uitbreking plaas wanneer 'n virus wat algemeen in 'n dier soos 'n vark, vlermuis of voël voorkom, veranderinge ondergaan en aan mense oorgedra word. Dit is heel waarskynlik hoe die nuwe coronavirus sy verskyning gemaak het.



Produkte uit China maak jou siek

Volgens wetenskaplikes leef die virus nie baie lank op oppervlaktes nie en is dit dus onwaarskynlik dat jy dit steeds op die pakkie gaan vind wat weke terug uit China bestel is.



Die beste beskerming

is 'n gesigmasker

Sekere modelle van professionele gesigmaskers (respirators) wat styf sit, kan gesondheidswerkers beskerm wat geïnfekteerde persone behandel. Vir die algemene publiek word die liggewig weggooibare chirurgiese maskers nie aanbeveel nie, omdat dit nie styf op die gesig pas nie en klein druppeltjies nog steeds die persoon se neus, mond of oë kan bereik. Mense wat die virus op hul hande het en aan hul gesig onder die masker raak, kan ook steeds geïnfekteer word.



Nou wat nou…..

• Was en ontsmet jou hande terwyl jy twee keer “Veels geluk liewe maatjie” sing

• Hou 'n waterlose ontsmetmiddel heeltyd by jou

• Moenie aan jou gesig raak nie

• Gebruik eerder 'n elmboog om 'n deur oop te maak

• Lees en bly ingelig oor Covid-19

Bronne: WHO/Netwerk24/BusinessInsider/News24/BBC/Reuters/CNN/CDC

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!