Covid dring informele nedersettings binne

Die leefomstandighede maak inwoners veral kwesbaar vir blootstelling aan die corona­virus.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith

Namate die verspreiding van hepatitis-E-infeksies skynbaar begin afneem, word inwoners van Windhoek se informele nedersettings deur 'n nuwe vyand in die gesig gestaar.

Covid-19-gevalle het dié maand skerp gestyg, van minder as tien tot byna 300 binne skaars 18 dae.

Die getal bevestigde coronavirus-­gevalle in Windhoek se kwesbare en gemarginaliseerde informele buurte het van sewe op 2 Augustus tot 194 op 11 Augustus gestyg en het op 20 Augus­tus 'n totaal van 286 bereik.

Tot dusver is gevalle in 25 van die stad se tientalle gesamentlike informele nedersettings aangemeld, het die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste verlede week bevestig.

Windhoek se positiewe gevalle het teen 20 Augustus 'n totaal van 1 482 bereik. Die meeste gevalle (39) is in Gorean­gab aangemeld, waar op 11 Augustus 'n totaal van 25 bevestigde gevalle was.

Otjomuise het die tweede meeste gevalle teen 20 Augustus gehad, met 'n totaal van 38 teenoor die 30 ­bevestigde gevalle nege dae tevore.

Teen 20 Augustus is 26 gevalle in Okuryangava bevestig, teenoor die 13 gevalle op 11 Augustus.

Ander informele nedersettings waar gevalle aangemeld is, sluit in Wanaheda (24), Greenwell (23) en Havana (20).

Die gesondheidsministerie het bevestig teen 20 Augustus het altesaam 1 163 inwoners uit nege informele nedersettings op Walvisbaai positief getoets.

Die dorp het op daardie tydstip 'n totaal van 2 707 gevalle gehad.

Op Swakopmund het 112 mense in agt informele nedersettings teen 17 Augustus positief vir Covid-19 getoets.

LEWENSGEVAARLIK

Met 'n konserwatiewe beraming van sowat 300 000 mense wat in Windhoek se informele ­nedersettings woon, is die getalle nog nie van ­kritieke belang nie.

Kenners waarsku egter lankal die digbevolkte stedelike informele buurte bied die ideale ­omstandighede vir die verspreiding van die virus, veral onder mense wie se lewens­omstandighede min beskerming teen infeksie bied.

“Maatreëls wat aanbeveel word om Covid-19-oordrag te voorkom, soos hande was, sosiale afstand, self-isolasie of gemeenskapswye inperkings, is dikwels onmoontlik in informele nedersettings,” waarsku VN Habitat in 'n verslag oor informele nedersettings en Covid-19.

Die meeste inwoners woon in klein huise met swak ventilasie en saam met verskeie familielede. Daar is ook nie lopende water of werkende ­toilette nie, wat hulle dwing om hul huise te verlaat en die kans vergroot vir die virus om te versprei.

“Hierbenewens kan inligting oor die pandemie vinnig versprei in informele buurte, waar inwoners gereeld boodskappe en beleide van die ­regering wantrou weens ervarings met gedwonge uitsettings, diskriminasie deur indiensneming en ­verwaarlosing in die openbare sektor,” waarsku VN Habitat.

KWESBAARHEDE

Die verslag waarsku ook inwoners van informele nedersettings kan 'n groter risiko loop om van Covid-19 ernstig siek te word.

“Lae-inkomstegroepe het gewoonlik 'n hoër voorkoms van chroniese gesondheidstoestande, soos ­diabetes of hartprobleme, en sal waarskynlik ly aan siektes soos diarree, gastro­enteritis, malaria en tuberkulose. Hulle het ook beperkte toegang tot gesondheids­orgdienste.”

Swak gesondheid is een van die sleutelfaktore in hoe kwesbaar 'n persoon vir die virus is, en kan aanleiding gee tot ernstige siektes en die dood.

Ander kritieke uitdagings wat ­stedelike armes in die gesig staar, is onstabiele inkomste en minimale spaargeld, werksverliese en 'n gebrek aan maatskaplike en mediese voordele wat dit moeilik kan maak om basiese benodighede soos seep, kos of mediese behandelings te bekostig.

Die verslag doen 'n dringende beroep op regerings om te verseker dat dié gemeenskappe toegang het tot basiese inkomste, basiese voorrade en voldoende maatskaplike reddingsboeie om die verspreiding van die virus te help bekamp.

VEERKRAGTIGHEID

Ondanks die somber vooruitsigte is dit volgens die organisasie 'n geleentheid vir owerhede en leiers om in hul reaksie op die pandemie “stedelike beplanning te heroorweeg en ­innoverende maniere te vind om ­informele buurte uit te wis.”

Die verslag benadruk plaaslike owerhede moet die “dryfveer agter die uitwissing van ongelykheid”wees en moet ondersteun word deur nasionale regeringsbeleide om 'n “volhoubare stedelike toekoms met veiliger, meer toeganklike en meer veerkragtige stede te laat realiseer”.

Aan die ander kant beklemtoon VN Habitat dat “gemeenskappe in informele nedersettings en krotbuurte 'n kragtige bate aan hul kant het: veerkragtigheid. Hulle het die vermoë om self te organiseer, hul behoeftes te identifiseer en met innoverende laekoste-oplossings vorendag te kom. Hulle moet onmiddellik bemagtig word, aangesien paraatheid nood­saaklik is.”

NEGATIEF TOT POSITIEF

Intussen toon die nuutste verslag 'n geleidelike afname in hepatitis-E-gevalle in Namibiese informele ­nedersettings sedert die uitbreking in 2017.

“Hoewel die aandag hoofsaaklik na reaksie op die ­Covid-19-pandemie herlei is, is die verspreiding van die sanitasie- en higiëniese praktyke wat Covid-19 in werking gestel het ook voordelig vir die reaksie op die ­hepatitis-uitbreking,” lui die hepatitis-E verslag van 12 Julie.

Tussen 29 Junie en 12 Julie het 44 mense positief vir hepatitis-E getoets, in vergelyking met 31 positiewe toetse van 15 tot 28 Junie. Tussen 18 Mei en 12 Julie het 186 mense landswyd positief vir hepatitis-E getoets.

In Namibië is 'n kumulatiewe getal van 7 853 hepatitis-E-gevalle aangemeld, waarvan 2 035 bevestig, 4 488 epi-gekoppelde en 1 330 vermoedelike gevalle is.

Die Khomasstreek is tans die episentrum, met 4 877 van die gevalle wat in informele nedersettings aangemeld is, gevolg deur 1 648 in die Erongo­streek.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!