Covid eis burgemeester

Sanet de Waal
Boet Matthews – Die skielike heengaan van Rehoboth se burgemeester, mnr. Rudi van Wyk, het die trane laat rol en die tonge laat klap nadat die nuus Vrydagaand versprei is van sy afsterwe.

Van Wyk is Vrydagaand in 'n hospitaal op Rehoboth oorlede ná 'n kort siekbed van agt dae. Hy is afgevaardig deur Rehoboth om 'n raadsvergadering op Katima Mulilo by te woon. Met sy terugkeer het hy gekla van hoofpyne wat later gelei het tot liggaamspyne. Alles het gedui na Covid-19-simptome.

Dit was 'n groot skok vir die Van Wyk-familie toe dit bekend geword het dat Covid die oorsaak van hul seun, eggenoot en pa se dood is. Hulle is dus nie gereed om kommentaar te lewer nie.

Sedert sy verkiesing as ­burgemeester verlede jaar op 2 Desember het die 41-jarige Van Wyk nou leierskaps- en vriendskapsbande tussen hom en sy raadslede vanuit verskeie politieke partye gevorm. Hulle het goed saamgewerk en van Wyk se besluite ­gerespekteer.

Sedert sy verkiesing is op straat gepraat van 'n jong burgemeester wat baie planne en hoop het om ­Rehoboth weer in 'n spogdorp te ontwikkel. Die uitdagings was groot, maar hy is geken as 'n man wat prontuit praat en daarmee respek afgedwing het.

Sy skielike dood het sommige in hooggeplaaste posisies hard getref.

Republikein het Saterdag aan me. Margaret Mensah-Williams, 'n paar minute voor haar vertrek na Amerika, gevra om kommentaar te lewer oor Van Wyk se dood.

“Hy was passievol oor ontwikkeling en altyd gereed vir enige uitdagings. Hy het kwaai voorgekom, maar het eintlik 'n klein en sagte hart gehad. In Rudi van Wyk het die hemel 'n engel gewin.”



HULDEBLYK

Nog 'n bekende op Rehoboth, pastoor Dean du Toit, van die Lutheraanse Kerk het gesê: “Ek het hom nie so goed geken nie, maar in die kort tydjie het hy onbaatsugtige diens gedoen. Hy was 'n steunpilaar vir die gemeenskap en het nie draaie in die lewe geloop nie, maar 'n reguit pad. Koersvas het hy hom beywer vir die vooruitgang van ons dorp.”

Die gewese raadslid Emma Farmer was baie emosioneel toe sy gevra is hoe die nuus van Van Wyk se dood haar getref het.

“As 'n jong seun was hy iemand wat omgegee het vir die jeug en hy was altyd besig met ­sportbedrywighede wat die jongmense betrek het. In daardie stadium het Rehoboth abso­luut agteruit geboer.

“Rudi het die ­situasie gesien en hy het daaraan begin werk. Alhoewel hy nie 'n raadslid was nie het hy moeite gedoen om water te verskaf in buurte waar water nie be­skikbaar was nie. Hy het werklik vir mense omgegee en ek het hom daardeur liefgekry as 'n eie kind.

“Hy was bietjie rof met sy mond en so aan, maar ek het hom gereeld op die vingers getik. Hy het nooit kwaad geword en altyd my raad gevat. My vertroue dat sy mederaadslede wat nou daar is, alhoewel Amanda Groene­wald ook onlangs haar man aan die dood moes afstaan, glo ek hulle sal volhou waarmee hulle begin het.”

'n Man wat 'n lang pad met Van Wyk loop, is die uitgetrede marathon-atleet Luketz Swartbooi. By navraag het Swartbooi met trane in sy oë gesê: “Dis asof hy verlede naweek afskeid geneem het nadat hy en sy raadslede my vereer het met 'n straatnaam en 'n erf. Ek sal jou ewig dankbaar wees Rudi van Wyk. Rus sag, my jarelange vriend en mag God se ewige lig oor jou skyn.”

Die Van Wyk-familie het die dokters en ander mediese personeel bedank vir hul uitstekende diens tydens Van Wyk se siekte by die Oanob-hospitaal.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!