Covid eis Cleophas Mutjavikua
Covid eis Cleophas Mutjavikua

Covid eis Cleophas Mutjavikua

Die voormalige Erongo-goewerneur Mutjavikua is die siekte se eerste slagoffer van 2021 in die land se regeringskringe.
Augetto Graig
Augetto Graig



Mnr. Cleophas Mutjavikua, voormalige goewerneur en historiese vakbondleier, is Sondag aan Covid-19-verwante komplikasies by 'n hospitaal op Grootfontein oorlede. Namibian Sun berig dat hy voor dit in selfisolasie was, nadat hy met iemand met die siekte in kontak gekom het.

President Hage Geingob het sonder verwyl sy boodskap van medegevoel met die Mutjavikua-familie en die nasie gedeel.

“Ek is hartseer om van die heengaan van die voormalige goewerneur Cleophas Mutjavikua te verneem. Deur die aansporing van die vakbondbeweging het goewerneur Mutjavikua 'n belangrike rol in die vryheid van Namibië ná die apartheidsbesetting gespeel.

“Sy bydrae tot die opbou van 'n onafhanklike Namibië deur verskeie ampte, insluitend as goewerneur van Erongo, is merkwaardig. Namens die Namibiese regering deel ek my diep meegevoel aan sy vrou, kinders en die hele Mutjavikua-familie,” het Geingob getwiet.

Mutjavikua is in 2011 as goewerneur van Erongo aangewys. Voor dit het hy as die besturende direkteur van Labour Investment Holdings, die beleggingsonderneming van die Nasionale Unie van Namibiese Werkers (NUNW), gedien. Hy was ook die voorsitter van die raad van Mobipay.

NUNW se huidige sekretaris-generaal, mnr. Job Muniaro, sê Mutjavikua was 'n man met leierseienskappe. “Hy was 'n bekwame leier. Hy is nie net aangestel om die vakbonde te paai nie,” het Muniaro aan Namibian Sun gesê.

Die amptelike opposisieleier en president van die PDM, mnr. McHenry Venaani, het ook Mutjavikua se bydrae tot die vorming van die moderne Namibiese samelewing uitgewys.

“Ek verneem met rou en skok van die heengaan van die oudgoewerneur van die Erongostreek, mnr. Cleophas Mutjavikua, wat aan Covid-verwante komplikasies beswyk het. In die lig dat ek ook in die stryd teen die verwoesting van Covid-19 deel, dra ek ons familie se innige meegevoel en berou oor,” het Venaani aan Nampa gesê.



LYS POLITIEKE SLAGOFFERS

Covid-19 het laasjaar sonder aansiens des persoons die geledere van Namibiese leierskap begin uitdun.

Voor die einde van 2020 het die virus op 7 Desember ook die jeugleier mnr. Mandela Kapere se leeftyd op 38 kortgeknip. Ander bekendes wat in 2020 aan Covid-19 oorlede is, sluit in mnre. Dirk Mudge en Christian Shumuketu, me. Sofia Asino, mnre. Jeff Mbako, Laban Shapange, Seth Boois en Daniel Smith.

In sy toespraak op 16 Desember by die gereelde Covid-19 openbare inligtingsessie het Geingob aan Namibiërs wat geliefdes aan Covid-19 verloor het gesê: “Jul verlies is ons verlies, jul seer is ons seer.

“Jy kan geen prys op die waarde van menslike lewe plaas nie en dit is hoekom ek sê elke lewe wat aan Covid-19 verloor word, is een lewe te veel.”– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!