Covid eis vyf hoofmanne in drie weke

Namibië het tussen 18 Junie en Woensdag vyf tradisionele leiers aan Covid-19 afgestaan.
Sanet de Waal
Ogone Tlhage



Namibië het die afgelope drie weke vyf erkende tradisionele hoofmanne weens Covid-19 verloor, wat groot leemtes in hul gemeenskappe agtergelaat het.

Dié hoofmanne sluit in adv. Vekuii Rukoro, die opperhoof van die Ovaherero; Eduard Afrikaner van die Afrikaner Tradisionele Owerheid; Kilus Nguvauva van die Ovambanderu Tradisionele Owerheid; Hubert Dit­shabue van die Bakgalagadi Tradisionele Owerheid en Joel Stephanus van Vaalgras.

Die dood van sommige van hierdie hoofmanne kan ook hewige twiste vir 'n opvolger aanwakker in die gemeenskappe waar sulke tweespalt algemeen voorkom.

Die regering het gedurende Junie en Julie sowat 14 staatsbegrafnisse goedgekeur wat ongeveer N$1,1 miljoen beloop.

Van dié staatsbegrafnisse moet Nguvauva en Rukoro nog begrawe word, alhoewel die Ovaherero Tradisionele Owerheid die aanbod van die hand gewys het en gevra het die regering moet eerder die geld vir die Covid-19-pandemie gebruik.

Die waarnemende voorsitter van die raad van tradisionele leiers, mnr. Immanuel /Gaseb, het met ons susterkoerant Namibian Sun gepraat ná die dood van Ditshabue en Stephanus, wat slegs 24 uur uitmekaar dood is.

“Al wat ek kan sê, is dat ek nie woorde het nie. Ons leiers sterf een vir een; diegene wat ervaring in tradisionele aangeleent­hede het,” het /Gaseb gesê.

“Ek kan nie vinger wys nie. Dit is 'n siekte wat ons almal raak,” het hy bygevoeg.



HOU BY REGULASIES

/Gaseb het 'n beroep op tradisionele leiers gedoen om openbare byeenkomste soos begrafnisse te vermy.

“Byeenkomste moet beperk word; ons weet nie wie die virus het nie. Ons moet wegbly van byeenkomste, die getalle neem net toe.

“Aan diegene wat oorbly, al is dit moeilik: ouer leiers moet wegbly van begrafnisse en ander byeenkomste,” het /Gaseb ­aangedring.

Hy versoek almal om die Covid-19-regulasies na te kom om die toename in infeksies te help stuit en het ook die tradisionele leiers aangemoedig om ingeënt te word.

“Ek is ingeënt en ek vra hulle moet dit ook doen.”



'GROOT LEEMTES'

Alhoewel tradisionele owerhede nie binne die formele strukture van die regering werk nie, speel hulle 'n belangrike rol om regterlike funksies te verrig, grond te bestuur, wet en orde te bewaar en administratiewe dienste op plaaslike regeringsvlak te lewer.

Tradisionele owerhede word as primêre agente van ontwikkeling beskou en dien as verteenwoordigers van die gemeen­skap en is verantwoordelik vir die harmonisering van gemeenskapsgebruike en -tradisies binne die ­raamwerk van die Grondwet.

Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, mnr. Erastus Uutoni, het Woensdag gesê die skielike afsterwe van tradisionele leiers laat groot leemtes in die gemeenskappe.

“Die afsterwe van 'n tradisionele leier skep altyd 'n probleem, omdat hierdie leiers planne vir hul gemeenskappe gehad het. Hierdie sterftes is van nature. Hopelik sal gemeenskappe bymekaarkom en eenheid vind nadat hulle oor hul leiers getreur het.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!