Covid knak Safari-hotelle

Voorsitter sê die gasvryheidsbedryf is waarskynlik tot vroeg volgende jaar gedoem.
Augetto Graig
Augetto Graig – Safari Hotels sê aan elk van hul 177 afgedankte werknemers is skeidingslone, uitstaande verlof en bydraes ten opsigte van lede van die maat­skappy se pensioenfonds uitbetaal.

“Ons werknemers is lojaal en die meeste kom jare saam met ons, selfs dekades. Tensy ons drastiese stappe nou neem, sal hulle beslis niks hê om terug na te keer nie.

“Hoewel die Safari in alle waar­skynlikheid die land se grootste enkele werkgewer in die bedryf is, is dit duidelik dat die lot van alle ander gasvryheidsinstellings in Namibië nie van ons verskil is nie,” sê die voorsitter van Safari Hotels, mnr. Philip Ellis.

“Tussen die drie-ster Safari Hotel en die vier-ster Safari Court Hotel is daar altesaam 415 kamers. Voeg by dat die Safari die grootste konferensiefasiliteite in Namibië het. Die Safari het 219 mense in diens.

“Sedert die eerste dag van Namibië se inperking is geen nuwe gaste ontvang nie en binne sowat 'n week daarna het nog net een gas oorgebly. Dit is tot vandag nog die geval. Vir alle praktiese doeleindes is ons besetting dus 0%, met 'n ooreenstemmende syfer vir inkomste,” sê hy.

Die betaalstaat van sowat N$1,9 miljoen per maand beteken volgens Ellis dat die besigheid sonder betekenisvolle inkomste binnekort bankrot sal wees, “en in elk geval lank voor enige betekenisvolle inkomste weer kan ingevorder word.

“Ons het dus geen opsie gehad as om 177 werknemers af te dank nie, effektief 15 Mei. Die 42 oorblywende werknemers ontvang die helfte van hul normale besoldiging,” sê hy.

Volgens hom het hul pogings om nuwe besigheid aan te moedig en aansoek om regeringshulp te ontvang, albei misluk.

Op hul aansoek tot die ministerie van handel en nywerheidsontwikkeling om toegelaat te word om konferensies aan te bied weens die ruimte van hul perseel, word 'n antwoord nog afgewag.

Hy reken die vroegste wanneer omstandighede vir besigheid mag herstel, is teen Februarie 2021.

Hy sê saam met die vakbond Nafau het die onderneming dringend aansoek gedoen om die minister van finansies te spreek om ondersteuning te soek.

“Sodra ons vastrap met ons besigheid kan kry, is dit ons verklaarde strewe om soveel as moontlik werknemers van dié wat afgedank is, weer aan te stel. As dit enigsins moontlik is, wil ons elkeen van hulle weer in diens neem,” sê Ellis.

Nafau se sekretaris-generaal, mnr. Jacob Penda, het die gesamentlike aansoek bevestig, met die bykomende motivering dat die ministerie se kriteria volledige blootstelling van die hotel se finansiële boeke sal vereis.

Penda sê die saak wat die vakbond teen Safari Hotels by die arbeidskommissaris aangemeld het, gaan steeds voort.- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!