Covid kniehalter geldinsamelings

Tans is 16 kinderhuise landswyd geregistreer; 15 in private besit en een regeringsinstansie.
Jeanette Diergaardt
Jeanette Diergaardt – Die aantal kinders in kinderhuise het nie weens Covid-19 toegeneem nie, maar geldinsamelings het wel drasties afgeneem. Dit volgens ingeligte bronne in die bedryf.

Mnr. Lukas Haufiku, woordvoerder van die ministerie in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn sê: “In Namibië sê ons nie meer weeskinders nie, want dit stigmatiseer kinders met een ouer of voog wat hulle beskerm. ’n Weeshuis is soos een groot saal waar kinders bly en slaap.”

Die terminologie wat die ministerie gebruik, is kinderhuise (residential child-care facility).

Gedurende September en Augustus was die Megameno-kinderhuis in Katutura in die media se visier. Megameno se waterrekening wat na bewering bykans N$70 000 beloop het, het opslae gemaak.

Volgens me. Angela Angela, ’n vrywilliger by die kinderhuis, het hulle ’n geldinsamelingsinisiatief van stapel gestuur om die rekening te vereffen.

Ongeveer 300 mense het die naweek van 3 tot 5 September die geldinsamelingsfunksie bygewoon en kon die kinderhuis die rekening tot N$61 998 afbetaal.

Die organisasie Youth in Agriculture het in September Megameno ondersteun om ’n groentetuin te begin om van hul maandelikse kostes te dek.

Volgens Angela het skenkings en borge gedurende die Covid-19-inperkings drasties afgeneem. Meganemo huisves tans 26 kinders wat meestal skoolgaande ouderdom is.

Gedurende die inperking het die kinders geen aanlyn onderrig gehad nie. Die kinderhuis het nie rekenaars of internet om te voldoen aan die verwagtinge van aanlyn onderrig nie. Angela sê aangesien skole weer begin begin het, is die druk op die kinderhuis minder om die kinders die hele dag besig te hou en te voed.

Me. Erna von Dewitz, die bestuurder van Huis Maerua, sê skenkings het in 2021 met sowat 60% van die vorige jare afgeneem.

Die jaarlikse gelukstrekking wat deur Pupkewitz Toyota ondersteun word, het hierdie jaar ook minder belangstelling gehad, maar deelname het teen einde Augustus weer toegeneem, sê me. Liana Etsebeth wat verantwoordelik is vir geldinsameling en bemarking.

Von Dewitz sê verskeie borge het gedurende die pandemie onttrek. Tans ontvang die kinders nie meer mediese ondersteuning soos in die verlede nie. Tydens die skuif na aanlyn onderrig gedurende die pandemie het die kinderhuis self hul maandelikse internetverskaffer betaal.

Die bestuurder van die SOS-kinderhuis in Khomasdal, mnr. Gerson Hendriks, het teen druktyd geen terugvoering oor die situasie by dié kinderhuis gegee nie.

Hy het wel gesê die aantal kinders wat in die kinderhuis opgeneem is, het nie gedurende die Covid-19-pandemie toegeneem nie.

Die aantal kinders by Huis Maerua en Megameno-kinderhuis het ook dieselfde as die vorige jare gebly.

Volgens Haufiku het die Covid-pandemie landswyd ’n negatiewe impak op die Namibiese ekonomie gehad. Die ministerie is ook nie bewus van enige internasionale skenkings wat onttrek is nie.

Projekte is wel nog aan die gang wat deur internasionale organisasies geborg word.

Meeste skenkings word gedurende Kersfees en Paasfees gegee, sê Haufiku.

Tans is 16 kinderhuise landswyd geregistreer; 15 in private besit en een regeringsinstansie.

Volgens die ministerie se statistieke word 539 kinders in kinderhuise gehuisves. Altesaam 129 920 kinders in Namibië het een of albei ouers verloor, volgens die nasionale demografiese opname in 2016.

EMOSIONELE WELSTAND

Von Dewitz sê Huis Maerua het wel emosionele ondersteuning aan die kinders gebied.

Me. Johné Marais, ’n maatskaplike werker by Huis Maerua, het gesê die kinders het gefrustreerd gedurende die inperking geraak veral met deelname in sport wat gestaak is.

By Megameno is daar nie opgeleide versorgers nie, maar vrywilligers wat al jare met die kinders werk.

Die ministerie het riglyne aan kinderhuise gegee om na die geestesgesondheid van kinders om te sien, sê Haufiku.

Maatskaplike werkers in streekkantore het volgens hom ook psigomaatskaplike ondersteuning aan kinders gebied.

“Daar is ’n tekort aan maatskaplike werkers in die land. Verskeie ministeries en maatskappye stel private maatskaplike werkers aan,” sê Haufiku.

Hy sê ook die ministerie is nie verantwoordelik vir die opleiding van maatskaplike werkers nie, maar dit hang van die Universiteit van Namibië (Unam) en ander universiteite af om maatskaplike werkers op te lei. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!