Covid meng in met premierliga
Covid meng in met premierliga

Covid meng in met premierliga

Twee uit die drie wedstryde sal ’n groot invloed op die topvier posisies hê.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die rugbyklub Trustco United moes gister noodgedwonge sy geskeduleerde premierliga-wedstryd van die Namibië Rugby-unie (NRU) teen FNB Western Suburbs op laasgenoemde se veld in Khomasdal tot ’n onbepaalde datum laat uitstel.

Drie van die Filistyne se spelers en een bestuurslid het positief vir Covid-19 getoets. Na verneem word, het geen van dié spelers vandeesweek se nasionale oefeninge bygewoon nie en het dus nie potensieel die nasionale oefengroep blootgestel nie.

Minstens twee eerstespanspelers het egter vandeesweek siek gevoel en het hulle vir die coronavirus laat toets, wat die positiewe uitslag gelewer het, het United se afrigter Winmar Rust gister gesê.

United, die verdedigende kampioenklub van 2019, bevind hom tans ernstig onder druk in die sesde posisie uit die agt spanne. Beserings en die skorsing van twee spelers het hom veral voorlangs erg uitgedun toe die klub twee naweke gelede sy tuiswedstryd teen die hardekwas FNB Grootfontein met 31-41 verloor het.

Gevolglik word net drie wedstryde môre gespeel, op nog ’n uiters deurslaggewende naweek vir al die betrokke spanne, wat sover elkeen drie van hul sewe wedstryde voltooi het.

BY UNAM

Die voorlopers FNB Universiteit van Namibië is sterk gunstelinge vir hul tuiswedstryd teen FNB Rehoboth môre in die Unam-stadion.

Tydens die studentespan se laaste wedstryd twee naweke gelede het hulle die arme FNB Reho Falcon op die suidedorp se veld met ’n meedoënlose 83-16 uit die pad gevee. Die wenspan was rustyd reeds verby die veertigmerk en het op 13 drieë geëindig.

Hierteenoor het Rehoboth tyd gehad om te hergroepeer sedert hul laaste wedstryd op 24 April, toe hulle rustyd nog met 15-12 voorgeloop het voordat Western Suburbs hulle met 15-45 deurmekaar gehardloop het.

Selfs sonder die flank Peter Diergaardt (siek) en stut Desiderius Sethie (uitstedig) het Unam genoeg skietgoed dat dit ’n reuseverrassing sal wees indien die Rooi Bulle se immer moedige en ondernemende aanslag inderdaad die wa deur die drif kry.

Unam se afrigterspan hou hul benadering vars met hul rotasiebeleid (Chad Plato voor Lorenzo Louis) en beloon ook twee staatmakers vir die tweede span (stut Earl Ndinda en slot/flank Bjorn Kazondunge) met ’n moontlike debuut van die bank af.

Die spanne:

FNB Unam: 15 Chad Plato, 14 Oderich Mouton, 13 Darryl Wellman, 12 Alcino Izaaks, 11 Shareave Titus, 10 Delron Brandt, 9 Sunday Haitembu, 8 Prince !Gaoseb (k), 7 Cameron Langenhoven, 6 Berry Gande, 5 Kami Mieze, 4 Max Katjijeko, 3 Hilwen Fourie, 2 Shaun van Wyk, 1 Graham April.

Reserwes: Earl Ndinda, Bjorn Kazondunge, Simon Haitembu, Cameron Klassen, Johnny Mwenyo, Camlo Martin, Lorenzo Louis.

FNB Rehoboth: 15 Xavier van Wyk, 14 Jayden Bussel, 12 Keathon Freygang, 13 Hillian Beukes, 10 Henrique Olivier, 11 Brandon Dentlinger, 9 Gurtley Beukes, 8 Cameron McNab, 7 Boris Majiedt, 6 Chester Diergaardt, 5 Nick Kotze, 4 Dylan Farmer, 3 Carl-William Freygang , 2 Jeandre Cloete, 1 Kevin Cloete (k).

Reserwes: Udo Mall, Delano Coetzee , Grant Cloete , Titus Matheus , Samile Loubser, Diego Loubser, Shaun Mouton.

OP GROOTFONTEIN

Min spanne sal sonder die nodige respek opdaag wanneer hulle die reis na Grootfontein moet aanpak, want kaptein Wikus Jacobs en sy span het reeds tot in die vierde posisie geklim.

Die noordespan se selfvertroue sal hoog loop vir die besoek van FNB Wanderers (derde), wat net soos hulle op elf ligapunte is.

Van Grootfontein se kombinasie wat United geklop het, moes sy twee skrumskakels Jan-Harm Cronjé (student by Pukke) en Kobus Enslin weens uitstedigheid vervang word, maar die stut Pieter du Plessis maak sy terugkeer en die nasionale o.20-kaptein WJ Otto en die gewese Welwitschias-slot en Unam-kaptein Muniovita Kasiringua is op die bank.

FNB Grootfontein: 15 Ronald Deck, 14 Buruxa Geiseb, 13 Louis Grobbelaar, 12 Braam Alberts, 11 Ian Malan, 10 Siegfried Potgieter, 9 Christopher Deck, 8 Pieter-Daan Kok, 7 Wikus Jacobs (k), 6 Jonathan Strijbis, 5 Meraere Kaapama, 4 Johan Luttig, 3 Pieter du Plessis, 2 Ben Brockman, 1 André Rademeyer.

Reserwes: Kazepurua Maurihungirire, Theo Bekker, Muniovita Kasiringua, Amutenya Amutenya, WJ Otto, Jay-Jay Liebenberg, Irongwa Atshivudhi.

OP WALVISBAAI

Die twee sukkelende spanne wat elk net een ligapunt uit drie wedstryde kon verdien, kry mekaar op Narraville, Walvisbaai.

Afrigter Henry Kemp se FNB Kudus het swaargekry en onfiks gelyk toe hulle in die binneland vir Wanderers en Western Suburbs moes trotseer, maar Reho Falcon hou ’n geleentheid in om sake te gein regstel.

Falcon het in die eerste helfte van sy pak slae teen Unam boonop sy losskakel Franklin Busch met ’n besering verloor, maar met die swarttruie se kontingent SWD-spelers is dit nie ondenkbaar dat hulle ’n verrassende uitslag lewer soos toe hulle met een punt teen United verloor het nie.


FOTO
Cameron Langenhoven, flank, en sy spanmaats van FNB Unam sal môre die stryd om die losbal teen FNB Rehoboth wil beheer. Foto Andrew Poolman

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!