Covid-reaksie het erger gevolge afgeweer
Covid-reaksie het erger gevolge afgeweer

Covid-reaksie het erger gevolge afgeweer

Gesondheid
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Namibië het 14 345 Covid-19-gevalle landswyd aangeteken wat 0,023% van die wêreld se totaal is. Die land se 151 Covid-19-verwante sterftes is 0,01% van die wêreld se totaal.

Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het siekteprojeksiemodelle wat met die aanvang van die pandemie ontplooi is, voorspel sowat 1% van Namibië se bevolking of 20 892 inwoners sou met die piek van die pandemie teen 15 Mei hospitalisasie weens Covid-19 benodig.

Hiervan sou 300 inwoners, of 1,4%, in kritieke sorg beland het. Volgens Shangula beteken dit sowat 21 000 pasiënte wat in gesondheidsgeriewe opgeneem word vir mediese ingryping en nie minder as 300 toelatings tot intensiewesorgeenhede binne ’n tydperk van ’n jaar.

Volgens beramings sou 427 sterftes as gevolg van die virus voorkom ná afloop van 52 weke vandat die eerste geval in die land aangemeld is.

“Vandag is dit 37 weke sedert ’n uitbreking verklaar is en teen hierdie tyd moes 347 mense weens Covid-19 gesterf het. Volgens ons statistiek is 1 626 pasiënte weens die siekte in hospitale opgeneem en tot op hede het 151 mense gesterf, wat ’n sterftekoers van 1% is,” het Shangula gesê.

Namibië se ingrypings en reaksie op die pandemie het dus statisties gesorg dat 19 374 ernstige infeksies en 196 sterftes tot op hede afgeweer is.

Met verwysing na toetse sê Shangula 155 543 Covid-19-toetse is uitgevoer, wat op 62 toetse per 1 000 inwoners neerkom. In die verband is Namibië derde in Afrika.

Kapasiteit vir toetsing het volgens Shangula ook beduidend verhoog, met uitslae wat nou binne 24 tot 72 uur beskikbaar is teenoor die vyf tot tien dae met die aanvang van die pandemie. Waar net een laboratorium aanvanklik die toetse uitgevoer het, is daar nou ses. ’n Agterstand van meer as 5 000 weefselmonsters in Augustus/September is ook uitgewis.

Volgens die minister oorweeg Namibië die gebruik van Covid-19 antigeen spoedtoetse (RDT) en is beloftes van ontwikkelingsvennote verkry om 150 000 van dié toetse vir die land beskikbaar te stel. Wanneer beskikbaar sal dit gebruik word by grensposte en vir pasiënte wat noodoperasies moet ondergaan.

Met verwysing na mense wat van die siekte herstel, sê Shangula die nasionale herstelkoers was teen 21 Oktober 85% en het teen laas Sondag verder tot 94% gestyg. Met betrekking tot die erns van sekere gevalle is daar ’n 80% afname in die aantal baie ernstige en kritieke gevalle vanaf middel-Augustus.

Namibië se reaksie op die pandemie het ook gelei tot ’n beduidende toename (+76) in die aantal beskikbare intensiewesorg- en hoësorgbeddens. Isolasiegeriewe is ook by Windhoek Sentrale Hospitaal, die staatshospitaal op Walvisbaai, Opuwo, Oshakati, Rundu, Okongo, Gobabis, Keetmanshoop, Nkurenkuru, Mariental, Ariamsvlei, Noordoewer en Oshikango opgerig.

Infeksies onder gesondheidswerkers het volgens Shangula met 62% afgeneem van die 97 gevalle wat tussen 15 September en 21 Oktober aangemeld is tot die huidige 37. Tot op hede het 554 gesondheidswerkers Covid-19 gehad van wie 530 herstel en drie gesterf het.

Shangula sê die ministerie het N$727 miljoen by tesourie gekry vir die stryd teen die pandemie, waarvan 92% oftewel N$673,4 miljoen tot op hede bestee is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!