Covid 'steel' ook van ouetehuise
Covid 'steel' ook van ouetehuise

Covid 'steel' ook van ouetehuise

Ouetehuise het 'n uitdagende taak om inwoners teen Covid-19 te beskerm, omdat bejaardes baie kwesbaar is en tydens die afgelope golf dikwels emosioneel swaar getrek het.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Terwyl die afgelope Covid-19-golf sy tol op ouetehuise in die noorde van die land geëis het, kon beide dié op Grootfontein en Otjiwarongo die afgelope week weer oopmaak.

By die Karl Albrecht Oord op Grootfontein het sewe bejaardes tussen die ouderdom van 80 en 92 jaar in Junie en Julie tydens die afgelope golf positief vir Covid-19 getoets, met vier bejaardes wat intussen oorlede is.

Die oord het 35 inwoners voor dié sterftes gehad.

Die bestuurder, mnr. Willie van Flotow, sê drie bejaardes het intussen herstel en die situasie is nou weer onder beheer – in so 'n mate dat die eetsaal weer eergister kon heropen, waar die inwoners sáám kan sit en eet. “Almal is nou weer gesond,” het hy gesê.

Hy sê onder die drie bejaardes wat herstel het, is dit vroeg opgetel as hulle siek geraak het. “As hulle verkouesimptome begin toon het, het ons hulle dokter toe gevat, hulle is getoets en het dadelik medikasie ontvang – al wag ons 'n paar dae om die toetsuitslae te ontvang.”

Hy sê drie van die oord se 22 personeellede het ook positief vir Covid-19 getoets, maar het geen simptome getoon nie. “Hulle was almal baie sterk in die tyd,” het hy gesê.

Hy sê die Grootfontein Boerevereniging het, tesame met die Breathe Namibia-inisiatief, die maat­skappye Agra LTD, Woermann, Brock & Co Inland, Woermann Brock Coastal en in samewerking met Elite Star Trading Africa (EST) ook gehelp.

'n Huis met 12 beddens, suurstof en twee versorgers is beskikbaar gestel vir bejaarde Covid-19-pasiënte vir wie daar nie plek in die hospitale was nie.

Boonop is drie suurstofmasjiene en vitamiene aan die ouetehuis geskenk en die fokus is om gesonde kos vir die inwoners voor te berei.



OTJIWARONGO

By die Altersheim op Otjiwarongo werp streng maatreëls vir die bekamping van die virussiekte vrugte af.

Tydens die huidige Covid-golf het twaalf mense siek geraak en twee mense is dood, het die bestuurder, me. Leandri Human, aan Republikein gesê. Sy sê die res wat Covid-19 gehad het, is reeds buite gevaar en die ouetehuis kon weer afgelope Sondag oopmaak.

Human sê daar word streng by Covid-19-maatreëls gehou, wat insluit dat bejaardes nie die tehuis kan verlaat nie en geen kuiergaste kon tot einde Julie ontvang word nie.

“Vanaf Sondag kon kinders weer in die buitelug saam met hul geliefdes kuier, maar hulle moet te alle tye 'n masker dra.

“Hulle moet ook deurlopend 'n afstand van minstens twee meter ver van mekaar handhaaf en drukkies en soentjies word sover moontlik vermy,” het Human gesê.

“Die personeel wat die bejaardes met Covid-19 versorg, bly ook in die woonstelle op die perseel en gaan nie huis toe nie, om die risiko vir hul families te verminder.

“Die (bejaardes) wat ons verloor het, is slagoffers van die 'oorlog'. Ons voer 'n onsigbare oorlog wat fisiek en emosioneel sy tol eis,” het Human gesê.

Sy sê van die ou mense word emosioneel ook swaar getref, veral wanneer hul geliefdes en families deur Covid-19 geraak word.

Human sê tydens die tweede Covid-19-golf die afgelope Desember en Januarie, is die eerste twee inwoners van Altersheim aan Covid oorlede in een van die afdelings waar verswakte bejaardes versorg word.

Toe is daar ook streng maatreëls vir isolasie toegepas en inwoners kon nie oor-en-weer gekuier het nie, terwyl hulle ook kos net in hul kamers ontvang het.

“Dit voel vir my Covid steel ons mense. 'n Mens voel anders daaroor as bejaardes van ouderdom sterf, maar die Here is tog steeds in beheer. . .” het sy gesê.

Sy sê die staat het reeds die ouetehuis besoek om Covid-19-inentings te gee aan inwoners wat dit wou hê, maar slegs 'n klein persentasie het ingestem. Die ouetehuis sal binnekort weer vir opvolgspuite besoek word.

Altersheim is ook as 'n inentingspunt geregistreer en Human het die versekering gegee dat diegene wat vir die spuite kom, heeltemal van die ouetehuis se inwoners geïsoleer sal word.

 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!